Dankie

My Vuisboekmuur herinner my aan hierdie gebedskryfsel wat ek vandag sewe jaar gelede neergepen het. Dit was pas na ons teruggetrek het na ons geliefde woonplek op dierbare vriende se plaas, Waterval.

Ons het baie skommelinge ervaar daardie tyd. Pas ‘n vriendskapkring van 25 jaar moes aflê, ons besighede aan die groei met al die pyne wat daarmee gepaard gaan. Die land se politieks was maar knyp – dit was die Zuma-jare.

Tog, lees ek in hierdie bid soveel hoop op God en Sy gulheid.

Dit is vanmore dag 43 sedert ons lewens in Suid-Afrika grendeltyd betree het. Ons het ewe gehoorsaam ons besighede gesluit. Ons was verlig toe aangekondig is dat boerdery dienste as noodsaaklik beskou word, en Rots kon met sy kunsmis lewering aangaan. Vir die Lekkerwinkel wat kaggels en braais verkoop en installeer was dit nie so goed nie. Ons hoofbron van omset is oornag stopgesit. Doef, net so.

Agt werkers se lewenslyn in gevaar, ons persoonlike oorlewing is erg aangeraak. Net die Watervalbrakbende glimlag van oor tot oor en die voëltjies in die tuin gaan onverstoord voort.

Vanmore moet ek bely dat ek aanvanklik totaal en al oorweldig is. Angs, woede, vrees, trane, verwyte – vol sirkel het my negatiewe emosies met my geloop. Rots en Bab het weer met stilte die situasie hanteer. Dit was onlekker daar in die begin.

Tog het ons deur alles aanhou bid en glo. Elke nuwe oggend in die vreemde tyd stil geraak en dankie vir elke dag se seëninge gesê. Metterwyl het vrees en angs vir kalmte plek gemaak, veral in my hart.

Ons het besef daar is te veel dinge waaraan ons net mooi niks kan doen nie en die hoop het ons nog nooit beskaam nie.

Ons het maar olke-bolke gespeel oor wie nou of later betaal moet word, met diensverskaffers en skuldeisers onderhandel, gou besef dat staatshulp nie vir ons kleinbesigheid en eenmansaak beskore is nie.

‘n Rustige opdaag vir elke nuwe dag het ons nuwe normaal geword.  ‘n Vaste roetine van opstaan, bad, aantrek, etes berei, huis skoonmaak, plante en diere versorg. Gesprekke met mekaar voer, saam lag en liefhê en in geloof geanker. En so het die dae en weke verby gegaan. Ons het glads al die SVU-seisoene wat ons gemis het saans kon inhaal!

Die Lekkerwinkel kon vandeesweek sy deure oopmaak met die grendelverslapping. Ons verskaf verwarming toestelle en die winter kom nader. So is my liefies  sedert Maandag elke oggend aan die grendelpendel met hule smoelmaskers aan en  raai, van die winkel oopgesluit is, lui die telefone en mense kom soek kaggels en braais. Ons kan net dankie sê.

Vanmore kan ek ‘n verskaffer betaal, ons kon kos vir ons werkers koop, ons kon goete begin inhaal. Of ons alles sal kan opmaak en verhaal, daar lê die Gordiaanse knoop. Die hoop beskaam egter nie.

Rots en Bab is vroegdag weg, ‘n kaggel wat installeer moet word op hule agenda. Dis net ek en die hondebende hier op Waterval. Dis stil en rustig. My selfoon biep. ‘n boodskap van ‘n vriendin. “Red hot verse for today” lees die TikTok video.

Dis ‘n besielde Yank wat vertel van die tye en seisoene in Prediker 3. In agt verse is daar aanwysings na 28 tye en seisoene wat ons hier op die ondermaanse sal beleef. Ons sal liefhê, siek word, sterf, oorvloed en armoede beleef, ons sal kom en gaan, ons sal…lees self, Prediker 3:1-8 Die Boodskap:

 Alles gebeur op ’n bepaalde tyd. Alles in die lewe is vooraf bepaal:

daar is ’n tyd om gebore te word en daar is ’n tyd om dood te gaan;

daar is ’n tyd om te plant en daar is ’n tyd om weer die plante uit te trek;

daar is ’n vasgestelde tyd om dood te maak en daar is ook ’n tyd om gesond te maak;

daar is ’n tyd om dinge af te breek en ’n tyd om dit te herstel;

daar is ’n tyd wanneer ’n mens hartseer is en dan is daar ook weer ’n tyd vir vreugde;

daar is ’n tyd om te huil en ’n tyd om weer gelukkig te wees;

daar is ’n tyd om mekaar lief te hê en ’n tyd om weg van mekaar te wees;

daar is ’n tyd om mekaar te liefkoos en ’n tyd wanneer liefkosing nie pas nie;

daar is ’n tyd om te soek en ’n tyd om goed te laat wegraak;

daar is ’n tyd om op te gaar en ’n tyd om weg te gooi;

daar is ’n tyd om iets te skeur en ’n tyd om dit heel te maak;

daar is ’n tyd om te praat en ’n tyd om stil te bly;

daar is ’n tyd vir liefhê en ’n tyd vir haat;

’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede.

 

Wat alles waar is, ek stem volkome met die prediker saam. Die jong man in die video wys op ‘n ongeskrewe waarheid: Daar staan nêrens dat ons mag opgee, oorgee en ingee nie. Uithou en aanhou is die stil opdrag. Uithou en aanhou, deur grendeltyd na ‘n vreemde nuwe wêreld uit wetenskapfiksie. Ons gaan vir lank gemasker en sosiaal afstandig moet leef. Maar ons gaan lééf! Ons nuwe gebod: “Jy mag nie opgee nie. Jy moet bly hoop, want God in Sy gulheid boer met genade.”

My gebed is vanmore dieselfde as sewe jaar gelede, want my Skepper in onveranderd alomteenwoordig, almagtig en liefdevol  deur al ons gisters, ons vandag en ook die onbekende toekoms in.

Vir ewig hoopvol sal ek leef.

Dankie