Ha, het jou katvis. Gedink ons gaan nie vanjaar #Woordwarrel nie,nè. Wel, dis ‘n kleine foutjie. Ons gaan vanjaar tweeweekliks #woordwarrel, sodat die skryfroes af kan skuur en die skryfmuse jou kan aanvuur om tog te kom saam speel.

Daar is nie reg of verkeerd of reëls nie, wel net so paar huishoudelike goedjies om #Woordwarrel sinvol te laat vloei.

Hester en ek sal elke twee weke ‘n inspirasievonkie plaas. Broei so bietjie oor die vonk en gaan sit en slaat die gedagtes wat by jou opkom via die qwertybord die eter in. Kom ons gesels en wonder en deel gedagtes en maak 2022 die jaar van strome woorde en inspirasie vir ons almal.

Jy hoef nie die volgende Deon Meyer of Scott F.Fitzgerald te probeer wees nie, wees net jouself en deel jou gedagtes. Ag toe, ag assebliefietog.

#Woordwarrel Inspirasievonk 1/2022

Daar waar jy graag skrywe, gaan sit gat op stoel en draai jou kop na regs. Wat sien jy? Vertel ons die verhaal van die objek/boek/prent/ wat ookal in jou sigveld beland. Hoe het jy dit bekom? Waarom is dit by jou? Wat beteken dit vir jou.

As dit nie jou skryflus aanwakker nie, skrywe sommer net vrylik wat in jou gedagtes opkom. Dis die eintlike doel van #woordwarrel.

Woordwarrel se so-maak-mens volg hieronder. Kom speel saam.

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke tweede Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laat waai en geniet dit.