beeld 6 november2019.

Jonawê soos my Elisa sê as goed nie lekker is nie. Jonawê, siestog shame, fok wil ek sê.

Die EFF tweet van Dr Mbuyiseni Quintin Ndlozi waar hy eksklusief vir Siya gelukwens en die res van die groep aansê om hulle gelukwense by die Britse koninklikes te gaan haal, en agbare Steve Hofmeyr wat reken “die Siya inspuiting jou verlam sodat jy nie sal terugbaklei as ons jou grond onder jou gat kom uitgryp omdat jy blank is nie” het ‘n Kwetser (Twitter) oorlog ontketen.  

Die outjies is adamant om divisie en onmin en verdagmakery voorop te stel.  So gaan julle nie vir enige mens in Suid-Afrika ‘n beter toekoms beding nie. Net bedinges. Ek gaan maar vir julle bid en my skaar by positiewe dinge. 

Ek is dankbaar hulle hou hulle daar op die planeet Twitter besig. Hulle besef nie dis ‘n eiland nie, en eilande raak eensame plekke. Net jammer die nuus media reken dis die enigste bron van nuus. Die twee verdien om saam op ‘n eiland te gaan kuier, weerskante van die verbale minderheid.

Rêrig, nat waslappe. Die Nasionale Raad van Provinsies het gister luidkeels die Springbokke se sege toegejuig. Behalwe die ou rooi groep wat hulle taak as politieke opposisie skielik en onvanpas ‘ernstig’ opneem. Hulle het geweier om deel te neem aan die vreugde en hoopvolheid wat tans heers.  Hulle het gaan sit, dikbek en lelik soos die einste Ingelse Rose. Hulle wat vir ontwrigting van prosedures berug is. Jonawê. Gesplete tonge.

Bab kom gisteraand by die huis. “Was ek nou spyt vandag,” sê sy terwyl sy ʼn koeldrank ingooi.  “Hoe so,” vra ek. Sy vertel dat sy maar so in die euforie en lekkerte van die Springbokke se sege by die pas afgelope Rugby Wêreldbeker toernooi, vir ʼn kennis vra wat hy dink, en hoe hy voel. Sal die ou natwaslap kom met “dis goed en wel, maar die rand is nog swak, die strate is vuil en regering korrup.” 

“Ma, ek het my so vererg, maar liewer stil gebly, want sulke mense gaan eknie mee stry nie,” sug my kind.

Ja, my kind, daar is mense wat nie wakker akker wil lewe nie.  Dis lekkerder om terug te kyk na tye wat verby is, want dit is verby. Die sleg van verby-tye vervaag. Dis soos met egskeidings en dood, die sleg vervaag en die goeie herinneringe bly. Nostalgie is maar ʼn giftige, dromerige ding en drome is vervlietend. 

Ek het juis gister op die radio ʼn groot waarheid gehoor. Iemand beskuldig die huidige regering dat hulle nie damme gebou het nie, en dat die Vaalrivier ʼn gemors is. Ja, die water probleme in ons land is fel. Maar herinner twee inbellers aan twee feite, Suid-Afrika is ʼn droë land, nog altyd. Die damme wat ons het, was om te sorg dat ʼn mindere persentasie van ons land watertoevoer het. Dis hard, maar nie onwaar nie!

Ons denke oor wie almal danksy die demokrasie reg op basiese dienste het moet verander. 57 miljoen mense het daai reg. Nie net ek en jy nie.

Ek dink aan Winston Churchill wat gedurende WOII ʼn klooster op die Engelse platteland besoek het. Vroue en kinders is mos veiligheid ter wille, platteland toe geskuif.

ʼn Muur het gekantel, en die seuns wat daar gehuisves is, het die klippe weer gestapel. Skeef en krom, maar die muur kon weer die skape op kraal hou.

Die kloosterhoof  stap saam met die ou bulhond – sigaar in die hoek van sy mond en bekend vir kortaf wees. Die man bied apologie aan vir die skewe muur. Churchill het blykbaar sy sigaar uit sy mond gehaal en vir die man so op en af gekyk. “Any fool can see what is wrong, but can you see what is right,” blaf hy kwaai.

Net so moet ons in die gees van vorentoe loop, samewerking en #ImStaying en #WeAreChampionsAndStrongerTogether voortaan nat waslappe, verlede-was-beter aanhangers, die ons-en-hulles, die negatiewes, agressiewes antwoord. Ook sou ek bylas, as jy soveel verkeerd sien, wat maak jy om dit beter te maak?

Weer kom Elsa Joubert by my op. Sy het wyslik gesê dat ons die klein kampie voor ons met liefde en toewyding moet versorg dan sal goeie dinge volg.

Ons kan nie goed van die verlede wegtoor nie, maar ons kan ons elkeen se kampie bewerk en invloedsfeer so leef dat ons vir die wat saam met ons is se lewens beter maak,  mekaar ondersteun en bemoedig om beter te wees.

Flip man, as die mislikepaliteit nie papiere optel nie, kry jou span om die straat skoon te maak. Huur ʼn werklose om te help.  Moenie sê dis dit of dat en jy betaal reeds vir dienste nie.  Dra by met ʼn oplossing, moenie tot die probleem bydra nie, al weet jy of hoor jy van korrupsie.

Daardie tannie wat oorkant die straat in haar semausu (sypaadjie stalletjie), wat daai  lekker magwinya (vetkoekies) verkoop. Hoekom bied jy nie aan om vir haar bêreplek vir haar waentjie wat sy elke dag moet in en uitpak en met moeite moet beveilig of saans saamsleep huistoe, om weer more terug te kom sodat sy kos op  die tafel kan sit en vir ʼn gesin kan sorg, net soos ek en jy. 

Ons verhouding met ons Regina oorkant die straat is diep en innig.  Sy kom smiddae omstreeks 15h00 as haar dag klaar is met haar trollie vol potte en proviand, haar stoele opgestapel. Sy het in die stoor ʼn hoekie net vir haar. Sy het toegang tot toiletfasiliteite, sy voel menswaardig. Ons skenk nie meer vir kerkbasaars of klerebanke nie. Regina kry ons voorheen-beminde klere om eers vir haarself uit te kies en dan te verkoop vir ekstra geld.

Ons lewe is verryk deur haar lieflike glimlag en die blydskap dat kommer oor haar  goed oornag verdwyn het. Die spasie wat sy opneem, die water wat sy kom tap, maak ons las nie swaarder nie. Die naglopers kan nou nie meer haar goed gaps terwyl hulle saans in die struktuur kom skuiling soek nie. Vrede in die  straat en ‘n nuwe vriendskap met ‘n gesin wat swoeg soos ons om kop bo water te hou. Haar man en kinders deel van ons omte.  Die kampie om ons word bewerk. Ek deel nie die storie dat jy moet dink ek is oulik nie, net hoe maklik jy ‘n verskil kan maak.

Ou natwaslap, wat jou werkers nie gun om met die besigheid se voertuig te kom voorraad laai nie. Nee, jy stuur hulle eerder straat af met ʼn trollie om ses keer te moet loop om swaar goedere te kruie. Sies man!

Ou onrusstoker wat mense minag omdat hulle arm is, swart is, annerlik is. Sies man.  Die God vir wie jy elke Sondag uit die voorbanke vir ʼn uur dien, Hy het almal gemaak. Niks wat jy of jou soort kan doen kan ons wat nie aan jou standaarde voldoen nie en aan jou oordeel onderwerp word van Sy liefde skei nie. Siestog. Ek kry jou jammer wat so spesiaal is. Ons is lankal nie meer vriende nie, maar ek bid dat skille van julle oë sal val. Dat julle die superioriteit en meerderwaardigheid sal laat gaan. Julle mis uit, julle sit die pot mis.

Hier vertel ek dit nou so dat jy verstaan dat ons gesin se pad al nouer word, hoe meer God se waarheid vir ons word. Ons lag nog baie, drink ons wyn, eet lekker, is gasvry en gulhartig. Maar ons baantjie nie meer vir boeties of boelies nie, ons laat ons nie meesleur aan banaliteit, oppervlakkigheid en agteraf wat dikwels in groot vriendekringe gebeur nie. Jy weet mos, daai bespreking van die ene wat nie vandag in die geselskap is nie, ding. Dis ʼn siekte.

Ons staan nie meer vir sulke dinge nie.  Dis waar jarelange ‘vriendskappe’, ek dink eerder dit was ʼn verhouding met egoïste en meerderwaardiges tevrede in hulle gemaksones. Ons het die oppervlakkigheid ontgroei. Daai seisoen is verby.

Ek kry nou net doodsberigte uit die ou kring. Geen ander nuus oor nuwe kleinkinders, vreugdes en sommer net nuus nie. Nee, net die doodsberigte.  Wil ek regtig weet? Hulle wat sonder slag of stoot besluit het ons is nie meer vriendskap werd nie. Wat wil hulle van my hê, dink ek terwyl ek maar simpatie betuig en sterkte toewens. Here, dankie dat U genadig met my is en dat ek kan troos al word dit nie vir my gegun nie.

Op Palmsondag vanjaar– die dag wat Jesus op die eseltjie geklim het en die wat kon sien en geglo het, palmtakke voor hom neergegooi het en ‘Hosanna’ geskreeu het, hoor ek op die nuus dat daar wêreldwyd GOT (Game of Thrones) ‘watch parties’ gehou word, want die kultus reeks se eerste episode in die finale seisoen word uitgesaai. Ek het geen idee waaroor die bohaai is nie. 

Die kinders vertel dis soos Vikings, maar fantasie oor heerskappy, haat, gierigheid, verraad, seks, mag die hele toetie. Woes en wild en wreed. Dis mos hoe dit oral is. Ek wil nie herinner word nie, die werklikheid is genoeg.

Die Troon waarin ek glo is ewig. Op die Troon sit ons Skepper. Dis nie ʼn speletjie nie.  In die Ewige storie word die dood oorwin, ten spyte van menslike gierigheid, wreedheid, selfsug het ons ʼn Oorwinnaar vir ons wat ewig by God sit. Jesus. Hy tree genadiglik vir ons mens foute en seermaak in en ons almal kan erfgename van die koninkryk van God wees.

Dis vir ons almal. Die onse en die hulles, die onrusstokers, die onminsaaiers – jy moet net jou hart oopmaak en leer menswees is ons almal sʼn. Of ek armer, leliker, ryker, slimmer, dommer, vetter, maerder, witter of swarter is.

Richard Rohr se waarheid dat ons nie in beheer is nie, ons almal voor God ewe mense is en dat ons almal gaan sterf behoort mens nugter te maak vir die ondermaanse bestaan. Jou genadig met jouself en ander te maak. 

Dê natwaslap, hier is vir jou hoop en genade. Maak oop jou oë en jou hart. Jou siel ter wille. Dis verniet. 

O, net voor ek gaan. Hierdie foto is my Suid Afrika. Dankie Rassie en dankie Siya, ek werk graag saam. Inderdaad is ons sterker saam. My streep in  die sand is getrek. Dis hoekom #EkBly #ImStaying.

74237630_10159097490629358_6205904726819602432_n

Hierdie is van my #NaNoWriMo2019 skryfsels oor aanhalings en notas in my skryfkamer. Dag 6 en kyk die eerste 10 000 woorde van 50 000 neergepen.