“1April. Gekkedag. Pasop vir stories, moenie oor swangerskap grappe maak nie. Sorg dat jou grap so goed is dat almal lag!”

So waarsku Rots en Bab vroegoggend oor die dag. Beeld grap oor Engels op Kyknet se Ontbyt sake, en ek wonder hoeveel Afrikaanse middeljarige en bejaarde huishoudings sit met gekoerde moere. Waar is die grap wat Zoeloe, Venda, Engels, Xhosa, Sepedi, Ndebele, Swazi, Tswana, Tsonga en so sal omkrap omdat ons mag want dis gekke dag.

My moer is suur sommer so vroeg. Ek is nie naastenby so mooi soos Angelina hierbo nie. Maar die emosie en kyk, daai ken ek en my liefmense. Dit was dan ook so vanmore, nog voor koffie sy werk kon doen.

My huisgenote is die afgrond af bederf. My eie skuld. Vanmore tsunami die klein jakkalsies van irritasie en stilbly oor my. Ek storm douvoordag liewer huis uit en gaan vou wasgoed, sien nie die mooi van die rosige nuwe more raak nie.

So met die vou van die derde Bridget Jones, begin my bloeddruk daal en die tiener moer van my humeur sak stadig terug. Waddehel soos Hester sê. Dis sommer nonsens. So gaan ek nie hierdie dag verder in nie. Ek tel tien, vou wasgoed klaar en kyk op toe ek uit die waskamer stap. ‘n Swaeltjie vlieër vrolik deur die blouskoon lug. Dis herfstyd koelerig.

Boekevat was ‘n stram affêre. Vergewe my Here.

Bab kom netnou my kamer in. “Ma praat met my,” kom die versoek.

Okei, ek sal praat.

Maar my siel skree binne my: Ek kry nie af nie. Ek kry nie tyd waarvan ek baas is nie. Ek het nie onafhanklikheid nie, ek sukkel met toekoms sekerheid. Die woorde borrel nie so uit my mond nie. Nee, ons moet mos in kode praat om ons en ander se nerwe en egos te beskerm.

Dis wat ek sê:”Hoekom moet ek steeds aartappels skil as iemand aanbied om kos te maak? Hoekom moet ek die koppies en koffiekan wat in die wasbak gesmyt is, self uitspoel? Hoekom moet ek gordyne wat oopgeflerts word omdat iemand anders warm kry, weer netjies skik? Ek wil nie meer nie. Ek wil nie.”

My kind kyk my liefdevol aan,. “‘Skuus Ma. Ek is lief vir ma.”

Wat doen ek? Ek sê ook skuus dat ek kleuter gevloermoer het. Net daar gaat ons weer rustig aan.

Omdat die lied nie verder gaan begin ons weer van vooraf aan.

O, my kalmte en vrede kom toe verder hemels van sekulêre oorde. Hierdie snoere tuimel so met die koerant en Vuisboek my warse wêreld in.

Hoop jy put ook iets inspirerend en kalmerend hieruit:

Deur volharding het die slak ook die ark bereik. Charles Spurgeon

Die optimis sê dis nie ‘n noodlottige ongeluk om een tree terug te gee na jy een vorentoe gegee het nie, dis ‘n cha- cha. – Robert Brault

Alles keer in siklusse terug

alle syn herhaal sigself

Deur die tyd, wat was word nou

en nou is more soos dit was – Dolf van Niekerk

En laastens kom snoer Lidi de Waal. Soos ‘n bedrewe visserman sy net regmaak, kom werk sy al die skeure in my gemoed toe.

iemand het dalk iets vir jou gesê
jare gelede
wat jou laat wriemel het van woede
dalk iets oor jou kind
iets soos jy sal moet iets doen
dis die begin van die einde
en steeds steeds jare later
steek daai woorde jou nog dwars in die krop
al het jou kind homself anders bewys

iemand het dalk iets aan jou gedoen
jare gelede
jou geklap dat jy teen die kas val
en toe op die vloer
en steeds steeds jare later
steek daai onreg jou nog dwars in die krop
al het jy oor en verby dit gelewe
en jouself lankal van die vloer af opgetel

iemand het dalk iets van jou weggeneem
jare gelede
iets soos om net in vrede jou lewe gedoen
en geleef te kry
en steeds steeds jare later
voel jy nog dwars in die krop gesteek
oor soveel dae van siele oorlog
al het jy jou eie resep vir binnevrede klaar
en oor en oor leer neerskryf

die wêreld daar buite
raak soms ń wrede plek
daarom wens ek vir jou
dat jy binne in jouself
ń uitgesorteerde vredegaatjie sal skep
(met sagte orraaitweesdonsies uitgevoer)
om in te nestel

– Lidi de Waal

Ek voel sommer beter.

Bab gaan vandag terug werk toe. Mooi herstel na haar galblaas verwyder is. Ons dra haar komper en kaantoorgoed kar toe. Ons sit vir ‘n oomblik sommer so op die bed voor sy klaarmaak. Sy bestudeer my Fitbit se slaap verslag.

“Het ma gesondagmiddagslapie?”

“Nee, “antwoord ek. “Jy en jou pa het elk ‘n marathon sondagslapie sessie gehad. Ek het my ITV storie ingehaal en gelees.”

“Wel, lyk my ma se demoontjies slaap dan as ek en pa slaap. Bwahaha,” ons lag dat die trane rol.

Sowaar, kyk self. Fitbit sê ek het gister  tussen 14h00 en 15h00 geslaap. Ek het nie, maar ek het nie!  Ek het net stilgesit en ontspan! Mrs Wilson met die mooie Ruth Wilson van The Affair faam, gekyk. Nouliks ‘n rustige storie en nog met ‘n eetlepel van haar eie waarheid as jy verder gaan lees.

Lyk my my-tyd is baie goed vir my!