Hester daag ons vandeesweek om te vertel van pogings om te ontklotter (declutter)

Synde ‘n laat inskrywing weeskind, is ek geneig om nes te bou, goeters bymekaar te maak. Amper asof ek ‘n spoor van my bestaan wil nalaat.

My grootste sonde is boeke. My arme gesin. Boeke trek is hulle nemesis. Daar is ‘n boekrak in byna elke vertrek behalwe die troonkamer. (Ek droom nogal van so met-boek-omringde-troon kamer. Julle sal met omkring op iskias daar uitloop, want mens kan nogal verdwaal aan tyd met ‘n boek daar op die troon.

Aan fisiese boeke het daar toe ek my eerste Kindle gekoop het, groot ontklottering oornag gebeur. Ek koop die minimum boeke, en geniet my e-boeke baie! Dieselfde het met gedrukte koerante en tydskrifte gebeur dei MySubs- en Zinio app sorg dat my gunsteling tydskrifte mooi in my tablet georden bly. Geen vismot spyse oral in hope nie! Dis nou ontklottering so na my sin.

Ons huis is die asblik van alles wat almal wat erf, en nie rêrig wil hê nie. Dus het ek mooie hout meubels van Rhodesian Teak, imbuia en kiste vol van ouwêreldse liefdesbriewe en foto’s, ou skale, oliekanne, melkkanne, erdeskottels en -bekers. Dis of die lewe geweet het dat tussen woorde en hout en oud my siel sing.

My arme man is minimalisties – sou verkies dat alles spierwit geverf was en niks teen die mure buiten die plasma skerm wat sport in sy sitkamer deponeer naweek in en uit. Maar na 34 jaar saam, het my eklektiese styl aan hom gegroei en hy deel sommige liefhebberye met my.

Ek hou weer van mooi goed – skilderye, elk met sy storie, met onthou. My mure is my persoonlike kunsgalery, elke stuk met sorg en ‘n storie. Sal jou vir jare besig hou. Die Afrika tema stuk hout, mooi gekerf wat my pa 50 jaar gelede langs die pad gekoop het vir R2, die raffia protea tapisserie wat my pa saans aangewerk het en die mooie raam wat hy self gemaak het. My George Boys kosmosse wat my op my armste verlei het en vandag nog net plesier gee. Hanlie Kotze se woord en beeld wonders, Ina Pfeiffer en so aan. Ek loop gedurig en kyk en geniet mooi-mooi in die privaatheid van my nes. Lekker. So fisies ontklotter? Aikôna.

Ek het egter ander ontklottering nodig gehad.

Eers het dit met mense begin. Die baie kennisse, sonskyn-soekers (Jy ken daai soort: Hoe meer jy presteer en skitter, hoe nader wil hulle staan om jou sonskyn te deel) en emosie-uitsuigers. Toe ek die openbare lewe as professionele bedelaar vaarwel roep en ek nie meer op die BBP-lys van die parnevu-kliek verskyn nie, en my openbare sterretjie begin taan, kon ek die klouendes afskud. Dit was pynloos, want ek het swaar aan hulle behoeftes gedra vir baie lank.

Uiteraard het die ontklottering aan mense ook ‘n impak op my Vuisboek vriendelys gehad. Hoe meer afstand tussen my en mense gekom het, hoe meer kon ek die vriende op sosiale media afskaal. Want ek hoef nie meer polities korrek te wees nie. Vandag het ek ‘n kringetjie van mense wat my kan beleef soos ek is -vandag begeesterd, more beneuk. Hulle is almal heel gemaklik en ken my regtig.

Die ontklottering wat jare geneem het was om trauma te verwerk. My ouers se afsterwe kort na mekaar, hoe ek gekies het om op hulle sterftes te reageer, ‘n egskeiding, en die gevolge daarvan. Om daardie Checkers-trolie van my af te haak het ons Liewe Vader genadiglik nie by afskryf verby beproef nie. Hoeveel keer het ek die waentjie by Sy voete parkeer, en dan, as ek reken niemand kyk nie, het ek en Bloubekruip skelm terug gehol en daar gaat ons pad af met ons trollie vol moeilikheid.

Ek het kort voor my sestigste verjaardag ‘n wonderlike ervaring gehad, eintlik drie.

Stap een om van my trollie en al die weergawes van my wat by die verflenterde vrag eina bly rondhang het, het ek tydens ‘n foto sessie van ontslae kon raak. Man, wat ‘n wonderlike gevoel toe ek met die fotograaf se lens op my gefokus, my eie ek ontdek en besef daar is ‘n paar karakters wat liefs die pad moet vat. (Lees hier oor my ervaring)

Stap twee en drie loop hand aan hand. Eers het Scrapy en Cecelia my oortuig om in te skryf vir die jaarlikse NaNoWriMo uitdaging. Waar jy 60 000 in een maand skrywe van 1 November tot 30 November. Met bewende vingers skrywe ek in voor ek myself kan oortuig ek sal dit nie regkry nie.

Ter voorbereiding, en ook om die rekenaar vir ‘n wyle te vermy – dis mos wat mens doen as jy skrywe – stel uit, kyk weg, doen enigiets behalwe luister na die woorde in jou kop.

Ek gryp vir Elisa en die besems en stoffers en lekkerruikgoed en ons twee begin die huis van hoek tot kant uitpak, regpak, regskuif. So nuwe nes bouery, reg vir nuwe avonture het ek my oortuig. Ek het liasseerwerk gedoen. Ons doodgaan lêer opdateer. Dis nogal ‘n ervaring. Om ou papiere uit te smyt. Te ontklotter aan vismot behuising. Die huis voel daarna ligter.

1 November breek aan, en ek maak die #NaNoWriMo 2019 skakel oop. Ek moet ongeveer 1650 woorde per dag skryf. Ag, wat ‘n belewenis. Ek skryf myself uit my eie pad uit. Pak die onthou laaie wat diep weggebêre is uit. Stof af, gooi uit. Dit was ‘n katarsis. Ek stop op 30 November met meer as 65 000 woorde uit my binnekant geskryf.

My siel is rustig, my hart ligter. Die tydsberekening perfek so voor my mylpaal verjaardag.Ek is seker dit was my Here se genade geskenk aan my. Die dinge was heilige #ToeValLig. Ek kyk anders, met my ontklotterde hart en siel. Ek hoor en sien en begryp soveel dinge. Ek hou van ontklotterde Vuurvliegie. Die aanneem van my blog doopnaam het ook alles met die proses van siel ontklottering te make.

Ek geniet baie dinge om my, en my weergawe van eklekties mag vir ander soos ‘n klottery lyk, ek sal eendag by ons ewige huis minimalisties leef.

Die mens wat ek nou is, is my bydrae tot ligter leef! My naastes en dierasies is baie dankbaar daarvoor. Ek ook!

Ek probeer my bes om saam met Bloubekruip, wat maar nooit weg is nie, net rustiger sy teenwoordigheid aankondig, elke dag doelbewus ligter te leef. Die dieet doen ons albei goed. Ek wen nie altyd nie, maar een dag op ‘n slag maak ek vordering. Baie saamsleep goed nou vir altyd asblik toe.

Wat het die emosionele ontklottering my geleer?

  • Om aan ou gevoelens en seer vas te hou omklem jou so dat jy nie teenwoordig kan leef nie
  • Om jou waentjie vol seer rond te sleep verg soveel energie dat jy niks oor het om elke nuwe dag te waardeer en geniet nie
  • Sakke vol seer, maak dit vir Bloubekruip maklik om aan sy wurgketting te ontsnap en maklik in my hart se agterhoek weer nes te skop.
  • Daar is niks aan more of gister te verander nie. Een is verby die ander kom nog. Om oor iedereen te pieker beroof jou aan wonderlike oomblikke wat nou te beleef is.
  • Mens raak so angsbevange oor dit waaraan jy vasklou en wat jy kwansuis sal verloor as jy ontklotter. Dis onnodig, want dit waarby jy gaan baat is ongelooflik en het Ewigheidswaarde!

Ek sing met al my skoongemaakte duike en skrape en ligter siel lofliedere aan my Skepper. Ek maak ‘n verskil in my eie klein kring, ek kies waarmee ek my besig hou of nie.

Saam met Willie van der Merwe is my ontklotter mantra:

“Jesus, min my, tel my op, maal my, deel my tot ek klop.”

Willie van der Merwe

Hier is die Inlinkz-skakel vir die uitdaging: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=817462

Bloggers wat nog nie voorheen deelgeneem het aan ons Lê-Jou-Eier bloguitdagings nie: Om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings . Die pos Lê-Jou-Eier: Poog jy om jou lewe te ontrommel? is geplaas deur Dis Ekke.