Sy staan op uit die warm bed. Op die stoep kwetter haar geliefdes saam met die voëls oor die nuwe dag. Saterdag. Beskuitbakdag.
Sokkievoete slof yskas toe. 500g Stork to Bake moet gesmelt word. Dan word 300g loopsuiker by die smeltbotter geroer tot dit opgelos is en ‘n mooi bruin smeersel vorm. Twee 500ml Moorddrift* karringmelk word uit die yskas gehaal.
Skoonma se enamel deegskottel word nader getrek. Sy staan en dink aan vroue voor haar wat soggens vroeg opgestaan het, aangetrek het, gebolla en gevoorskoot lank voor hane kraai en kinders kla.
Sy verlang na haar skoonma, onthou haar eie ma. Haar geliefde ouma en ook grootoumas wie sy nooit geken het nie. Sy sweer hulle staar saam uit na waar die Jasmina rank se geel trompetter blommetjies vrolik in die wind swaai en die lieflike vanielje- katjiepiering geur met die YesterdayToday and Tomorrow se oorvloed lekker by die venster insyfer.
Sy dink aan haar kosmaak-ikoon skoonsus wat houtlepels haat, haar sussie wat bak, brou en dan ook vir almal opskep. Sy dink aan haar kind wat kreatiewe kunswerke uit gebak kan skep.
Ingedagte vryf sy oor die deurgewerkte rand van die skottel. Ja, dis hoe liefhê loop. Deur jare en jare, word haar hande hulle voor haar se hande, hulle harte wat omgee en vooruit dink aan mae wat moet vol, geliefdes wat oor die koffiebeker se rand met blink oë kyk en die hand wat in die beskuitblik induik vir nog ‘n happie. Die goeie vrou, geliefde ma en staatmaker met haar kroon mooi reguit op haar kop.
Sy glimlag en dink die voorvroue is seker nie beïndruk met haar pajamas en pienkgestreepte slaapsokkies nie! Jammer julle, bolla en voorskoot is nie hoe dit in 2018 aafgaan nie. Daar is ‘n boek en bed en beker koffie wat wag terwyl die beskuit bak. Ons moderne meisies rol bietjie anders, maar die waardes en omgee sal voortleef.
Sewe koppies Nutty Wheat, twee koppies koekmeel, vier eetlepels bakpoeier en een en ‘n halwe teelepel sout word in die skottel uitgemeet en dan met albei hande gemeng en belug. Dan meng sy rosyne, wonderwerksademengsel, papawersaad en klapper in die meelmengsel in.
Haar man noem die volgende proses die invryfwetenskap. Dis wanneer sy die bottersuiker sorgvuldig in die meelmengsel invryf totdat die bleekwitmeelgoed so mooi bruin krummelmengsel word. Dan volg die karringmelk. Net Moorddrift* s’n koop sy. Dis ryk en lekker. Die krummels word ‘n sagte geurige deeg, wat gou in die twee vierkantige broodpanne gedruk word. Die oond aanvaar warm die offer.
Sy draai op haar hak en reik na die ketel. Daai boek wag…
Net onder ‘n uur later, huis omgewe met varsgebak kleintydverlange na ouma se kombuis, lui die oondklokkie. Die warm oopbek oond offer in goud en geur vir haar die beskuitbaksel terug. Haar liefhê snoes binne vasgevang. Vreugde.
—————————————————————————————————————————————-
*Moorddrift is ‘n Limpopo Melkery. Die plaas se hek by die monument wat ‘n wrede insident in ons seer land se ontstaansgeskiedenis gedenk.” Dis die niksseggende sinnetjie wat mens raak google.
Scrapydo het gewonder oor die monument langs die pad toe sy in 2010 hier verbygery het en dié foto geblog het.
Liewe Scrapy, hier is wat ek al raakglees en gehoor het:
Op 25 September 1854 is twee groepe Voortrekkers sowat 33 siele, op reis saam met Hermanus Potgieter, hier deur die Tlou stam, met Makapaan as hoofman, aangeval en uitgemoor. Kinders se koppe is teen ‘n boom vergruis. (Dit is wat die monument gedenk) Vroue, wie ook beskuit gebak het en vir hulle mense in liefde gesorg het, is wreed vermoor.
In ‘n wraakaanval is 2000 van die Tlou in die Makapaansgatgrotte vasgekeer deur die Trekkers. Met tragiese gevolge. Vroue en kinders ook in die spervuur aan honger dood. Vroue wat met liefde hulle kroos en huis en haard versorg het.
‘n Bloeddorstige geskiedenis. ‘n Geskiedenis van boorlinge en inkommers en jaggewere en soeke na rykdom en oorlewing en vryheid. Die Bosveldvlaktes was destyds ‘n land van oorvloed, ‘n streek waar verskeie volke ‘n staning probeer kry het. Die Voortrekkers reeds gesplinter tussen Potgieter en Trichardt. Die plaaslike bevolking ‘n verskeidenheid stamme elk met sy stamhoof. Gespanne ooreenkomste, gierigheid en onstabiliteit het hierdie wêrld ook gevaarlik gemaak.
Daar is ‘n storie wat vertel word dat Potgieter ‘n jagter van formaat was. Die Tlou stam se leier Makapaan het gesien dat om ‘n goeie jagter te wees, voordeel inhou. Sy stam sou selfonderhoudend kon wees. Self olifant jag, en in ivoor handel. ‘n Sangoma is blykbaar konsulteer en die het vertel dat die jagter se hart en vel die krygers sterk sou maak. Die tafel is gedek vir ‘n tragedie.
Daardie dag in September meer as 160 jaar gelede. Die groep Trekkers saam met Potgieter is aangeval en uitgemoor. Uitgewis. Daar is oorgelewerde vertellings dat Potgieter lewend geslag is. Sy vel vir oorlogtromme, sy hart vir krygers se krag.
Ai, die legendes en mistastings oor die verskillende groepe in ons vreemde land loop diep en vêr oor die geskiedenis heen. Ons land se seer en splintering kom langpad saam.
Ek dink vandag hier op die laaste Saterdag van vrouemaand 2018, aan vroue – die wie se spore deur tyd hier in ons land al verdof het, die spore wat ons nou maak, en die spore van die wat na ons kom. Wat sal die geskiedenis van ons vertel?
Ek ruik behoorlik die beskuit tot hier in Harties. Dankie vir die geskiedenis wat jy vir ons kom uitlê het; ek het gelees en moes bietjie daaraan herkou.
LikeLiked by 1 person
Oe hoe lus is ek nou vir so bakseltjie beskuit. Dankie vd deel
LikeLiked by 1 person
Hartseer geskiedenis wat die monument vertel. Vir 32 jare het ek beskuit gebak vir my mense, verskillende resepte, maar tog een wat ons gesin se gunsteling geword het. Selfs ná ek al vir 3 jaar Bant. Toe verander ons omstandighede draaties en die uwe het nog nie weer beskuit gebak nie. Dis 18 maande later.
LikeLiked by 1 person
Daardie beskuit lyk njammies en die pajamas met die pienk slaapsokkies het niks afbreuk daaraan gedoen nie. Daardie woord “wraakaanval” maak my benoud. In daardie dae is dit seker ‘n strafaanval genoem. Die Trekkerdeel van die geskiedenis het my in ewigdurende tweespalt. Soms lyk die brug tussen verskillende gelowe en kulture baie onstabiel.
LikeLiked by 1 person
Hester, ek vind hoe meer ek oplees oor al die mense van ons land, hoe meer speel oorlewing en woede, en mistasting en onbegrip en klomp ondinge ‘n rol, daarom het ek wraak gebruik, want straf beteken daar was dieselfde reëls en vertekpunt vir almal.
LikeLiked by 1 person
Of ‘n aanname dat my reëls en vertrekpunt die enigste waarheid is.
LikeLiked by 1 person
Net so, baie ondemokraties of hoe?
LikeLiked by 1 person
Dit voel asof ek daar saam met jou in die kombuis was, die beskuit kon ruik… maar die res van jou skrywe het my lekker diep laat dink. Laat ons hande in vreugde sorg, laat ons trane diep in die grond inval, laat ons die skouers gee sodat ons dogters só van ons kan praat honderd jaar later. Ek het lekker gelees!
LikeLiked by 1 person
Dit laat my verlang na my skoonma se beskuit. Niemand kan beskuit bak soos wat sy kon nie.
LikeLiked by 1 person
Dit is pragtig!
LikeLiked by 1 person
Njammies! Jy het dit nou so pragtig geskryf. Dankie ook gir die stuk geskiedenis. Dit voel vir my of daar nie veel verander het nie en of ons niks uit die geskiedenis geleer het nie.
LikeLiked by 1 person
Die Ingelse sê mos: “The more things change, the more they stay the same.” Dit maak mens troosteloos voel, né.
LikeLike
Og! My skoonma word nou 86. En eenkeer per maand bak sy vir 2 dae lank beskuit en kry ons ons baksel, soos elkeen van haar kinders se huishoudings…. maar my man is haar goue gat. Ons kry dus meer 😀
Ons blessings kom beskuit en soetkoekie-vorm.
Lekker nostalgiese lees hierdie… en ná die bitterseer storie van Moorddrift gaan ek nou dadelik ‘n beskuit in ‘n kondenskoffietjie moet loop dunk.
LikeLiked by 1 person
Hallo, jou skrywe hier maak my hart warm. Ja Ek is ook met die babatjie en witbroodjie getroud. Toe my skoonma nog geleef het, was daai beskuitbak vir haar krose omtrent ‘n ding. Ons land is skisofrenies van seer, ek weet! Bly ons kan saam kuier. Groetnis.
LikeLiked by 1 person
Het al van Moorddrift se produkte hier in Pretoria raakgeloop en gewonder oor die naam, dis nou interessante inligting. Jou skryf het my betower – die skottel se “deurgewerkte rand” – en toe laat jy my smaail met jou pienk sokkies.
LikeLiked by 1 person
Ek is altyd kinderlik verheug as jy kom inloer en die lees geniet! Groetnis
LikeLiked by 1 person
Ek beny mense wat kan beskuit bak…ek kan dit bak maar ai tog…teen die tyd dat dit klaar gedroog is kan dit verkoop word as weapons of mass destruction. Dankie vir die beskrywende blog…ek proe al daai beskuit…
LikeLiked by 1 person
Ek kan ook nie bak om my lewe te red nie – my liefste skoonma het die min stappe bruinbeskuit vir my geleer en Rots doen die sny en droogwerk! As jy pret wil sien moet jy dat ek skons bak. Daar is nie bakpoeier wat my ruwe behandeling van die skonbeslag met my hotklou help nie. Hulle is sulke plattes. Ek dink dis trauma wat reeds in standerd-ses kookkuns gebeur het toe ek rotskoekies moes bak….hehe
LikeLike
Ek moes vir lank die pot aan die kook hou met kos kook. Ek voed eerder 400 siele met kos voor ek skons,koek en beskuit bak….
LikeLiked by 1 person
Ek val langs jou in….
LikeLiked by 1 person
Mooi vertel! ‘n Nuwe perspektief… knie die geskiedenis so saam met die beskuit deeg!
Lesse… miskien sal die toekoms leer as hulle terug kyk na die verlede… of, droom ek?
LikeLike
AJ, die hoop beskaam nie. Pres CR praat vanoggend dat konsensus in ons gene ingebou is, ek dink hy leef in ‘n parallelle wêreld, want konsensus deur moer en gryp lyk nie vir my soos ooreengekom nie.
LikeLiked by 1 person
Mmmm… so tussen ons… ek fluister… julle het nog nie die ergste gesien nie… en om te dink… daar’s eintlik genoeg vir almal… as daar wel konsensus bewerkstellig kan word!!
LikeLike
Ek is nie van aard bangjan of swartgalgiel nie, maar die gepoletieks maak my moeg. Dis klomp onsinnighede om soveel sondes toe te smeer en aandag af te lei. Ek troos my daaraan dat hulle gewone man op straat se belasting betaal vermoëns bitter nodig het. O ja, ‘n 20jaar banspreuk is so pas in Springbokrugby gebreek. Rassie se manne het die All Blacks epies op laasgenoende se tuisveld gewen. Tweehonderd tackles en twee punte verskil. Ons voel hoopvol.
LikeLiked by 1 person
Ja… daar is hoop! By gesê… ek volg die Blitzbokke… en hulle maak gewoonlik my hard bly! 😉
LikeLike
Vandag se Bokke sege is iets om te aanskou. Statisties moes hulle nie kon wen, maar true grit was die sestiende speler.
LikeLike
Lekker as mens se span so wen… die ware span op die dag opdaag! 😉
LikeLiked by 1 person