20180825_0753191137719950966737770.jpg

Sy staan op uit die warm bed. Op die stoep kwetter haar geliefdes saam met die voëls oor die nuwe dag. Saterdag. Beskuitbakdag.

Sokkievoete slof yskas toe. 500g Stork to Bake moet gesmelt word. Dan word 300g loopsuiker by die smeltbotter geroer tot dit opgelos is en ‘n mooi bruin smeersel vorm. Twee 500ml Moorddrift* karringmelk word uit die yskas gehaal.

Skoonma se enamel deegskottel word nader getrek. Sy staan en dink aan vroue voor haar wat soggens vroeg opgestaan het, aangetrek het, gebolla en gevoorskoot lank voor hane kraai en kinders kla.

Sy verlang na haar skoonma, onthou haar eie ma. Haar geliefde ouma en ook grootoumas wie sy nooit geken het nie. Sy sweer hulle staar saam uit na waar die Jasmina rank se geel trompetter blommetjies vrolik in die wind swaai en die lieflike vanielje- katjiepiering geur met die YesterdayToday and Tomorrow se oorvloed lekker by die venster insyfer.

Sy dink aan haar kosmaak-ikoon skoonsus wat houtlepels haat, haar sussie wat bak, brou en dan ook vir almal opskep. Sy dink aan haar kind wat kreatiewe kunswerke uit gebak kan skep.

Ingedagte vryf sy oor die deurgewerkte rand van die skottel. Ja, dis hoe liefhê loop. Deur jare en jare, word haar hande hulle voor haar se hande, hulle harte wat omgee en vooruit dink aan mae wat moet vol, geliefdes wat oor die koffiebeker se rand met blink oë kyk en die hand wat in die beskuitblik induik vir nog ‘n happie. Die goeie vrou, geliefde ma en staatmaker met haar kroon mooi reguit op haar kop.

Sy glimlag en dink die voorvroue is seker nie beïndruk met haar pajamas en pienkgestreepte slaapsokkies nie! Jammer julle, bolla en voorskoot is nie hoe dit in 2018 aafgaan nie. Daar is ‘n boek en bed en beker koffie wat wag terwyl die beskuit bak. Ons moderne meisies rol bietjie anders, maar die waardes en omgee sal voortleef.

Sewe koppies Nutty Wheat, twee koppies koekmeel, vier eetlepels bakpoeier en een en ‘n halwe teelepel sout word in die skottel uitgemeet en dan met albei hande gemeng en belug. Dan meng sy rosyne, wonderwerksademengsel, papawersaad en klapper in die meelmengsel in.

Haar man noem die volgende proses die invryfwetenskap. Dis wanneer sy die bottersuiker sorgvuldig in die meelmengsel invryf totdat die bleekwitmeelgoed so mooi bruin krummelmengsel word. Dan volg die karringmelk. Net Moorddrift* s’n koop sy. Dis ryk en lekker. Die krummels word ‘n sagte geurige deeg, wat gou in die twee vierkantige broodpanne gedruk word. Die oond aanvaar warm die offer.

Sy draai op haar hak en reik na die ketel. Daai boek wag…

Net onder ‘n uur later, huis omgewe met varsgebak kleintydverlange na ouma se kombuis, lui die oondklokkie. Die warm oopbek oond offer in goud en geur vir haar die beskuitbaksel terug. Haar liefhê snoes binne vasgevang. Vreugde.

—————————————————————————————————————————————-

*Moorddrift is ‘n Limpopo Melkery. Die plaas se hek by die monument wat ‘n wrede insident in ons seer land se ontstaansgeskiedenis gedenk.” Dis die niksseggende sinnetjie wat mens  raak google.

Scrapydo het gewonder oor die monument langs die pad toe sy in 2010 hier verbygery het en dié foto geblog het.

Liewe Scrapy, hier is wat ek al raakglees en gehoor het:

Op  25 September 1854 is twee groepe Voortrekkers sowat 33 siele, op reis saam met Hermanus Potgieter, hier deur die Tlou stam, met Makapaan as hoofman, aangeval en uitgemoor. Kinders se koppe is teen ‘n boom vergruis. (Dit is wat die monument gedenk) Vroue, wie ook beskuit gebak het en vir hulle mense in liefde gesorg het, is wreed vermoor.

In ‘n wraakaanval is 2000 van die Tlou in die Makapaansgatgrotte vasgekeer deur die Trekkers. Met tragiese gevolge. Vroue  en kinders ook in die spervuur aan honger dood. Vroue wat met liefde hulle kroos en huis en haard versorg het.

‘n Bloeddorstige geskiedenis. ‘n Geskiedenis van boorlinge en inkommers en jaggewere en soeke na rykdom en oorlewing en vryheid. Die Bosveldvlaktes was destyds ‘n land van oorvloed, ‘n streek waar verskeie volke ‘n staning probeer kry het. Die Voortrekkers reeds gesplinter tussen Potgieter en Trichardt.  Die plaaslike bevolking ‘n verskeidenheid stamme elk met sy stamhoof. Gespanne ooreenkomste, gierigheid en onstabiliteit het hierdie wêrld ook gevaarlik gemaak.

Daar is ‘n storie wat vertel word dat Potgieter ‘n jagter van formaat was. Die Tlou stam se leier Makapaan het gesien dat om ‘n goeie jagter te wees, voordeel inhou.  Sy stam sou selfonderhoudend kon wees. Self olifant jag, en in ivoor handel. ‘n Sangoma is blykbaar konsulteer en die het vertel dat die jagter se hart en vel die krygers sterk sou maak. Die tafel is gedek vir ‘n tragedie.

Daardie dag in September meer as 160 jaar gelede. Die groep Trekkers saam met Potgieter is aangeval en uitgemoor. Uitgewis. Daar is oorgelewerde vertellings dat Potgieter lewend geslag is. Sy vel vir oorlogtromme, sy hart vir krygers se krag.

Ai, die legendes en mistastings oor die verskillende groepe in ons vreemde land loop diep en vêr oor die geskiedenis heen. Ons land se seer en splintering kom langpad saam.

Ek dink vandag hier op die laaste Saterdag van vrouemaand 2018, aan vroue – die wie se spore deur tyd hier in ons land al verdof het, die spore wat ons nou maak, en die spore van die wat na ons kom. Wat sal die geskiedenis van ons vertel?