36882346_2232934596739974_7257631892785070080_n

Nee kyk, my bid en geduld word beproef. Ek werk so hard om my bekkie mooi rooibostee geverf toe te hou, maar fokkit tog! Ek wil nie onderlangs grom nie, ek wil brul!

Dit begin gister. ‘n Asseblief-ek-is-in-nood-oproep. Die vreeslikste storie van kinders en opleiding en unforms en werk wat gaan verloor word. Ek ruik vis, maar vra so ewe vir al die papierwerk, dat ek die situasie kan takseer. Die ondersoekende joernalis in my slaap nooit regtig nie. Of miskien is dit dat te veel mense my al soos ‘n toffie gekou het, en dat ek moeg vir natlekspoeg is…

Ek bel die potensiële werkgewer anoniem, en warimpel, die vreeslike storie aan my opgedis, is net dit, ‘n storie. My bloed borrel so effens – ek is nog te lamboudia na die varkgriep om in volbloed woede uit te tier. Ek bel die pleiter terug.  My leeuin stert swiep so heen en weer terwyl ek met afgemete woorde laat weet ek kan ongelukkig nie R10 000 uitleen nie. Vir niemand nie. Punt.

Vroegoggend kry ek ‘n oproep van ‘n persoon wat met ‘n moeilike installasie sukkel, kan ek help raad gee. Natuurlik, ek gee nie om om my kennis te deel nie, ek gee nie om dat jy werk wat ons toe oë kan doen, self mee sukkel nie. Kom gerus en kry gratis les. Dis tog net my tyd, en my winkel het nie inkmoste nodig nie.

Die persoon arriveer ‘n ruk later. Ek maak die deur oop, en wragtig, sy selfoon lui. Ek moet vir tien minute aanhoor hoe vies hy vir so en so se @@(#(A$(%+% en @@##&&$&$&$***)$$# is. Ek stap kantoor toe, want my bloed borrel weer. Hy kom soek  my na sy gesprek klaar is.

Man, ek het net daar vir hom vertel hoe ongeskik hy is om my om hulp te vra en dan my tyd ook nog te kom mors. Nodeloos om te sê, my kind kruip agter ‘n deur weg, my personeel verdwyn om hoeke en die man staan bloedrooi van skaamte en gaap soos ‘n barber uit die modder. Die askies tuimel uit sy droë mond

Ek aanvaar sy verskoning, gee raad, en toe hy uitstap groet ek so vriendelik soos altyd. “Jammer Tannie” was toe genoeg om my stert se swiep tot bedaring te bring.

Sal maar sien wat die res van die dag inhou.