candle

‘n Familie is in rou gedompel. ‘n Geliefde het gister sy ma van tagtig gaan groet. Huistoe gegaan en nou is hy weg. Daar is nie ‘n ongeluk, ‘n ander mens om voor kwaad te wees nie. Hy het selfmoord gepleeg.

Maar hier is die ding. Sy keuse los ‘n ma, vrou, twee kinders, broers en vriende met verwyt so groot soos Berg Kilimandjaro, so lank soos die Nyl. Die hoekom het ek nie gesien nie. Die hoekom het hy nie gepraat nie. Die hoekom-hoekom slang draai en wurg en versmoor jou hart, jou denke. Druk jou tot daar nie trane is nie. Uitasem seer. Woedend kwaad.

In hemels naam praat, praat oor hom, praat met mekaar. Moenie verwyt en verkwalik nie – niks sal verander nie. As woede en haat en seer  jou aksies kleur – weerhou jou daarvan. Woede, ontkenning, seer is deel van die proses. Gaan daar deur, maar sonder om jouself of liefiemense verder seer te maak.

Ek het in julle skoene geloop my dierbares. Ek kan vir julle sê dat niks ooit dieselfde sal lyk nie. Die spasie wat hy in julle midde gevul het is leeg, maar ook vol. Want onthou verflou nie. Julle familie is gebreek. Metterwyl kom ‘n seer vorm van berusting. Die hoekoms sagter, maar nooit rerig weg nie. Jy leer daarmee saamleef.

Brand gereeld vir hom, en julle onthou, ‘n kers. Hou mekaar styf vas. Weet ons bid vir julle. God se liefde en alwysheid sal julle dra, al voel dit nie so nie.