Umberto Boccioni se skildery herinner my aan die sterk vroue op wie se skouers ek my lewe vierkant in die oë kan kyk. Gedugte vroue.

My oumas aan moederskant en hulle ma’s was formidabel. My Oumagroot du Toit was ‘n vroedvrou op Heidelberg, en later as weduwee, het sy  op Naboomspruit haar kinders versorg. Daar staan vandag nog skaduryke bome wat sy en haar kroos geplant het.

My Ouma Stomp wat as jong oorlog weduwee vier klein kinders gehad het om te versorg, se hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Ek onthou dat daar altyd ‘n stuk naaldwerk in haar hande was. Daardie hande het daagliks brood geknie, klere gemaak en selfs die skoolbus bestuur om die pot te help aan die kook hou.

My geliefdes sê ek is baie kwaai, daarom stry hulle nie met my blognaam, Lekkervurig, nie. Ek besef dat my op-die-man-af-daar-is-nie-grys-nie-en-jou-woord-is-jou-eer-geaardheid geneties is, dat dit hulle ouwêreldse beginsels en krag so diep in my ingegrein is, dat hierdie deurmekaar en stukkende wêreld meestal vir my radeloos maak.

Die genetiese bou het lank voor die angloboereoorlog begin. Miljuisende vroue voor my wat as gevolg van mans se drang om reg te wees, en die daaropvolgende chaos byna enigiets wat na hulle kant gegooi word, moes oorleef. Armoede, oorloë, geweld, kyk maar hoe lyk die geskiedenis.

En ek stem nie heelhartig met Gloria Steinem wat sê: “Women may be the one group that grows more radical with age.”  Dit het nie met ons ouderdom te doen nie, ons is so gebore. Herman Gilomee beskrywe ons evas se aanmekaarsit  hier aan die suide van Afrika goed in Die Afrikaners Lees die uittrekkels oor Gedugte boervroue hier:

https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boek-uittreksel-gedugte-boervroue/

Hier met my sestigs voor die deur besef ek dat my gene my na die radikale rat laat oorskakel, want ek mag. Dis my geboortereg. Ek gaan net nie nou my bra brand nie….

 

Advertisements