‘n Storie:

Daar was eendag ‘n minuatuur doberman.Hy het op ‘n werf onder die Afrikason saam met Leer, Werk en Wet gebly. Hulle eienaars was gierigaards en wou baie rykdom en beskerming hê, maar wou nie baie onkoste aangaan nie. Geld in die bank, jy weet.

Nou , Leer, Werk en Wet se base was traag om die drie groot brakke te voer. Het vir hulle halfmaskos op straathoeke gekoop in plaas van ordentlike kos, soos Montego Karoo Adult. Die drie kon met die swak dieet net nie die mas opkom nie.

Die eienaars het die drie weggesteek en met hulle kleine keffertjie op die arm rondgeloop want hy het so min nodig gehad om aan die lewe te bly. Die brakkie het eers tjoepstil en bewend in die base se arms bly sit, want dit was ver grond toe as hy sou val. Die eienaars het baie aandag gelok met die klein brakkie op die arm.

As gevolg van bederf het hy al hoe meer eiesinnig en aggressief geraak en naderhand so te kere gegaan dat selfs die base nie meer geweet het wat om met die klits te maak nie. Wilder as die dierteuin tekere gegaan.

Die drie groot honde het maer en uitgeteer eenkant gelê, en niks beteken nie. Die eienaars is maklik oorweldig deur plunderaars – hulle het geen verweer gehad nie. En wat van keffertjie, vra jy? Toe die hordes op die huis afstorm, het hy onder die naaste bedpoot gaan wegkruip – goed vir niks. Sela.

My relaas:

Ken jy daai gemiddeldes kurwe? Die een van 25% links 50% in die middel en 25 % regs, daai kurwe werk oral. Ook in politiek.

Ek raak verlam dat mense aan links wie nie eens 10% stemme op hulle kandidate kon trek nie, soveel media aandag kry dat hulle bemagtig word om rassisitese, fascistiese drek uit te spoeg en publisiteit gewaarborg word. Flippit.

So ook aan die regterkant is mense van my velkleur wat my onder ‘n klip wil laat kruip sodat ek liewer ‘n regte rock spider is. Daar is ‘n spreekwoord:”Beware of the verbose few” – pasop vir die lawaaierige minderheid.

So pas lees ek ‘n artikel van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se 2017 navorsing. Die narratief en lawaai rondom ras in ons land is onder die loep geplaas.

Die IRA studie onthul dat 72% Suid-Afrikaners en 77% swartmense NOG NOOIT RASSIME DIREK OP HULSELF GEMIK, ervaar het nie! Daarby reken 63% van respondente dat rasseverhoudinge sedert 1994 verbeter het.

Oorweldigend is dat respondente aangedui het dat werkskepping(35%), verbeterde onderwys (27%) en misdaadbekamping (26%) prioriteite vir Suid Afrika behoort te wees. DIe bevegting van rassisme is deur 5% repondente en slegs 4% swartmense gelys.

So waarom die vreeslike gehamer op ras en “kom ons sit die wit ouens op hulle plek”? Dis maar om tekortkominge weg te steek. Die brakke wat kos moet kry, ly honger want die base vreet al die geld op en wil nie saam met almal werk om die plekkie onder die son te maak werk nie.

Die eenvoudige antwoord volgens die studie, is dat onse goewerment in 24 jaar op verskeie vlakke klaaglik misluk het. Die rassisme en wit bevoorregting skreeuery is die ideale dekmantel om mislukkings soos armoede en ongelykheid te versteek.

Herverdeling van rykdom pleks van ekonomiese groei en bemagtiging het net hekkies in die pad van ons land se vooruitgang geplaas, meen Anthea Jeffery, hoof van beleidnavorsing by die IRA.

Hekkies soos:

  1. Swak ekonomiese groei (1% ipv 6% wat werkskepping verseker);
  2. Swak skole (78% graad 4 leerlinge kan nie lees nie);
  3. Universiteite waar net 20% studente grade voltooi);
  4. Werkloosheid en drakoniese arbeidswetgewing wat daarin slaag om werskepping te stuit en ongeskoolde werkers te benadeel;
  5. Nie-bestaande maatskaplike steun (tot 70% swart kinders het geen of min steun van albei ouers);
  6. Regstellende ekonomiese bemagtiging (lees:bevoorregting) van ‘n elite ten koste van die massas in armoede;
  7. Patetiese staats- en munisipaledienste wat nie eens basiese onderhoud kan verseker nie;
  8. ‘n Wurggreep op entrepreneurs – van belasting tot arbeidswette, ensovoorts.

Ten spyte van die belemmeringe, daar op voetsoolvlak, waar die meerderheid mense mekaar daagliks in die oë kyk, gaan dit beter tussen rasse as wat uitbasuin word, sê die instituut vir rasseaangeleenthede.

Die verslag maan ook dat die aanhoudende dis-alles-die-witman-se-skuld-vuur aanblaas van die Juju’s en BLF’s se drognuus maak dat die brille waarmee gewone Suid-Afrikaners na mekaar kyk, maar gekrap en uit fokus raak. Dit sal ‘n kwade dag wees as ons nie die rasse-brilletjies afgehaal kry nie.

Gelukkig meen Jeffrey die deursnit Suid-Afrikaner beskik oor ‘n goeie dosis kommin-sense! Ons kan darom bly hoop dat ons pêl Cyril se nuwe dagbreek vir ons hier aan die suidpunt van Afrika sal aanbreek. Dat dit nie ‘n veldbrand op die horison is, en ons eers probeer keer wanneer dit vuur van die weghol soort is nie.

Ook dat hy sal weet wat om met bedorwe stoepkakkertjies te doen, en vir die groot honde die regte kos sal koop. Sela.

Advertisements