Die lekkervurige begin

Skrikkerig maak sy WordPress oop. Volg die stappe om ‘n rekening te open. Ag, wat sal sal haarself noem? Ouvrou, Guskoei, Voortrekkernasaat? Sy klik met haar tong. Not ‘n moer gaan ek die toestand van my lewe so openlik verwoord.

Moerig? Vereensaam? Die negatiewe gevoelens en emosies bly simpel idees in haar gedagtegang plant.

Die skryfkurus beveel aan dat sy ‘n artikel skrywe.  Sy maak die module oop.  Trek ‘n potlood en notaboek nader.

Wat weet jy baie van. Kaggels en braais. Mense wat ten duurste goed koop en liederlik opdonner omdat hulle nie wil hoor nie.

Hoeveel kere kry  hulle nie oproepe oor naweke en saans oor stukkende ruite en rokende kaggels nie?

Sy glimlag wrang. Is daar ‘n mansmens of lewende wese wat regtig die verbruikersgids lees? Nee, bel eerder en skreeu oor die k.. produk wat jy aan hulle afgesmeer het.

Sy skryf haar hart uit oor die voordele van  die nuutste in kaggeltegnologie.  ‘n Ontbrandingsoond knus in staal omhul en met ‘n mooi Robaxglasruit. Net drie houtjies en vuur-ontsteker nodig om ‘n vuurtjie sans reuke en rook aan die gang te kry, mits jy onthou om die dempers mooi oop te trek!

En daar kry sy haar blognaam. Lekkervurigeaffêre, sommer oor alles wat haar hart warm laat brand (en soms haar humeur ook) Dis net reg. So vlammetjie. Genoeg om die donkerte te breek.

So skryf en hersien sy haar artikel in WordPress. Maak seker daar is nie spel en taalfoute nie. Maak seker alles wat die module vereis is gedoen. Sy druk voorskou en sien dit lyk nogal netjies, maar ‘n foto makeer.

Sy maak haar foto leêrs oop.  Blaai deur al die mooi leefstyl foto’s van haar verskaffers. Sy kies ‘n foto  van ‘n vrou wat rustig op ‘n uitskopstoel sit en lees. Langs haar die mooie Da Vinci kaggel met ‘n duidelike vuur aan die gang.  Sy voer die foto uit na die WordPressblad. Klik weer op voorskou. Daar, dit lyk spoggerig.

Haar hart klop in haar keel.  Die muis se pyltjie bewe oor die publiseer ikon.  Net een kliek is al wat nodig is. Sy sug om die vlinders op haar maag te laat bedaar. Skud haar kop.  Kliek.

Blou en wit strepies hardloop so skuins skuins deur die publiseer ikon. ‘n Kennisgewing verskyn op die skerm. U artikel is gepubliseer. Sy klik om die skakel na die blad en artikel te kopiër en skryf ‘n epos aan haar skryfkursusleier.  Heg die skakel aan in die boodskap en stuur die epos.

Sy  leuen terug in die stoel, reik haar arms bokant haar kop uit en blaas haar asem stadig uit. Tyd vir koffie. Dis nou gedoen.  Die  terugvoer op haar poging sal eers teen die einde van die week  kom.

Sy lag vir haarself. Die rekenaarspeletjie weergawe van CSI sê “there is nothing there”  wanneer mens op die verkeerde plek na leidrade soek. Niks om voor bang te wees nie, troos sy haarself.

Die rekenaar piep. Iemand het op WordPress die artikel gelees! Sy klik op die leser se naam, en net daar ontpop ‘n nuwe virtuele wêreld voor haar. Sy lees ander se blogs, volg hulle, lewer kommentaar en neem aan ‘n uitdaging of twee deel. So beland sy in ‘n blog vriendekring wat saam virtuele avonture beleef.

Towerin gebeur

Toweropstal, hulle eerste, maar nie laaste chaotiese fantasmagoriese avontuur nie, is waar die bende b(l)oggers in haar hart die naam Towerinne kry. Haar liefde vir  Afrikaans en nuutskeppings so aangevuur deur die vrolike klomp wat vrede met haar manier van moedertaal bedryf het. Dis nogal op Vaaltyndag van 2018 dat die bende die Towerinne geword het.  Eenparig, sonder bespreking, is die benaming omhels.

Epiese pret volg na Toweropstal en grootse vreugde was die Toweragtige toer met die giggelgroenbus deur Suid-Afrika. ‘n Vuisboekgroep ontstaan en ook’n whatsappgroep. Die Towerinne se verbeelwêreld en elkeen se leefwêreld begin saamsmelt en bande word elke dag hegter.

O, en dit is tydens die epiese toer dat Lekkervurig haar vuur van ‘n hoë vryval verloor en Vuurvliegie word. Sal sy dit ooit vergeet.

Die Rebusfontein raaisel 

Na die epiese giggelgroenbustoer het Vuurvliegie een dag met haar blokraai woordsonoere in die sonnetjie sit en dagdroom oor die Towerinne. Ringo, haar een Schnauzer,  het baie bedruk oor die blokraai blaaie vir haar geloer. Toe onthou sy rebus wat raaisel beteken, (en Re: Bus, betreffende die afgelope toer) en lees raak dat die middel van Suid-Afrika so met ‘n knippie sout in Pofadder se omtes kan wees, en daar word Rebusfontein gebore, met ‘n dorpsmeent, ‘n ontuitputlike waterbron net vir Hester en een spesiale straat: Towerinstraat. Daar staan huisies 1 tot 18, en veertien van hulle is  redelik permanent beset deur: SeegoggaPositiefBondels, PerdebytjieWoordnootToortsieTrommelsFrannieUna, HesterVirgoCKameelScrapy,  Christa en Lekkervurig(die uwe).

Dan is daar maats soos Ekmyselff, Abrie, Lewies  en vele anderwat kom inloer en kuier en soos familie wat ver woon voel. Darem wag hulle nie vir begrafnisse om kontak te hê nie!

Wat is ‘n Towerin?

Dit is ‘n vrou wat ‘n storie het om te vertel. Haar lewe ‘n epiese boek wat van deurleef, oorleef, uitleef, meeleef vertel. Ons is mense wat gemaklik in onse velle leef, en derhalwe ander ook gemaklik in eie vel leef gun. Ons sien onsself in mekaar raak. Die ink in ons bloed, ons sin vir humor, wysheid en kreatiwiteit, die gemene delers.

In die Einde in die middel aan die einde van ons toer, het ek so geskryf en ek volstaan daarby: “Ons toer deur ons mooie land en ons avonture het ons saamgesnoer in ‘n bende met ons eie stem.  Vroue wie nog kan droom en pret hê al knyp die regte lewe. Vroue almal met intelligensie, wysheid, ‘n goeie skeut verbeelding en bowe alles ‘n vlymskerp sin vir humor. ‘n Bende in Blogland gevorm. Vriendskappe wat virtueel begin het, word al hoe meer in die ware wêreld meer innig en eg. ‘n Veilige plek vir elkeen van ons…”

‘n Boek het in die 1980s my pad gekruis. ‘Clicking’ deur Faith Popcorn, ‘n toekomskundige. Sy het voorspel dat mense meer virtueel sal leef. Ons sal ‘cocoon”, en deur tegnologie vir ons nuwe wêrelde skep en op nuwe wyses sinvol kommunikeer en verhoudings bou. Sy het van die Towerinne gepraat. Ons het voor geloop met ons virtuele gemeenskap en is gepantser teen die lewe in die tyd van Covid-19 en daarna.

Viva, Towerinne, viva!

My lewe sal leeg wees sonder my liewe maters.

NS. Lees hier die ander Towerinne se towerin-word stories:

https://fresh.inlinkz.com/p/a0c98db4df894be6921458c62165d987

 

 

 

Advertisements