fb_img_15886036342092633010789669193008.jpg

Die besef dat hierdie jaar nie ‘n skokoladebruintjie gaan wees nie , maar eerder een van daai hard om te kou en te sluk, semelryke, suikervrye beskuitjie, het hierdie Towerin onverhoeds betrap. My vuurvliegie liggie flonker flou, my skryflus en woordsnoere die verskiet in.

Sedert die regte lewe se eerste aanval van Ramafobie op 24 Maart 2020 en pandemiepaniek en grypkoop aan boudgoud en kiemdoodseep, moes ons maar almal gou spring om seker te maak ons en geliefdes kom heelhuids betyds by die huis om te begin grendeltyd uitdien.

Ek is pandemiepoegaai na ses weke se grendeltyd. Voel om soos ‘n coronamouna my hart uit te huil en my siel los te skree oor die slotgeslotenheid van ons besigheid.

Maar ek mag nie kla nie. Ek sit op ‘n plaas met oop ruimtes om my, grendelkoors het my nog nie waarlik affekteer nie. Dagdimensie, wel. Elke dag is coviddag en ek dra te lekker aan my ploeterpakkies en loop binnebly deur my huis.

Die gesin het vandag die besigheid gaan ontgrendel, want kaggels en hout is nodig vir die winter, en kunsmis lewer ons aandeel om die boere en hulle werkers te steun sodat kos op algar te tafel kan kom.

Miskien sal ons die hoë pandemiepremie kan afwerk of darem net nerfaf aan die rugkant van die aanslag van Covid-19 en die regering se grendelbeleid, uit kom. Ons moes al salarisse sny. Maar kan darem nog sorg dat ons werkers nie met oop handpalms in rye moet staan vir kospakkies wat nie by almal uitkom nie.

Ons kan darem ook covidniers gaan koop. Gelukkig gaan Bab en Rots met hulle smoelkappies in die grendetrein buite die supermarkte staan. Ek doen grendelhuisdiens. Dis meer soos huisgym. Ek vlieg fluks met die stofsuier en stoflappe deur die huis, spuit plante nat en hou die wasmasjien en tuimeldroër se magies vol. (Dis net die strykwerk… Elisa, Elisa ek mis vir jou!)

Ook moet ek bely dat ek nou al yl is aan slotsituasieinspirasie as dit by ete voorberei kom! Byna al ‘n malkok. Ek het glads al kwarantynbeskuit moes bak. Het nie Nutty Wheat in die huis nie, toe meng ek maar witkoekmeel en vesel en siedaar, my gesin sweer dis lekkerder as die oorspronklike!

Vandag, vandag moet ek eenvoudig ontsnap en hier met my vingers op die qwertybord, vertrek ek Rebusfontein toe in my grendelsmart. Ek vat al my Towerinmaats en hulle geliefdes saam.

Rebusfontein is ons geliefde woonplek waar die wêreld en sy sorge nie ‘n vastrapplek kan kry nie. Op Rebusfontein is geen grendeltyd nie.

Op Rebusfontein is die water soet, die son altyd vol in die blom en kan mens net asemhaal. As iemand hoes, kry hulle nie hoesskaamte en is daar hoeskoesery nie. Sou iemand nies, sal dit wees omdat Toortsie te veel peper in die quiche gegooi het, nie omdat iemand miskien vercovidrig is nie. Hier is nie koorspenne of coronaskimme met smoelskerms te sien nie.

Ons klein gemeenskap is verdriedubbel aan inwoners. In elke huisie van Towerinstraat is krismisbeddens aan die orde van die dag. Dis net honde, katte, voëltjies, kinders, ma’s en pa’s en oumas en oupas waar jy kyk!

Op Rebusfontein deel ons drukkies en soene uit. Ag, julle moet vir Camilla en Lorenzo sien hand aan hand langs die stroompie! En Seegogga se beminde wat haar met blomme en soentjies by die hek bederf!

Terwyl die wêreld daar ver in die greep van hoofstuk een van die Corona-tyd vasgevang is, is die Towerinne en hulle geliefdes besig om toegespin in ons veilige kokon voluit en oopbek te leef! Ons het nie geld of goed nodig soos die grypkopers nie. Banke en polisse en slotgeslote besighede wat stilstaan is ver, ver hiervandaan. Ons dink nie hier aan pandemiepremies nie. Ons besef wel ons gaan almal hard daaraan betaal, want Covid-19 het ‘n wêreldkrisis veroorsaak waarvan die koste nie beraam kan word nie, want niemand blyk te weet nie…

Daar word op die meent gekuier, by langtafel etes aangesit. Gemeensaam, gekoester en geliefd. Die Towerinne bak en brou selfs Perdebytjie, Positief ,Una ontpop in baas beskuitbakkers en spogdis sjefs! Toortsie en Seegogga kan hulle trots op die maters nie verbloem nie.

VirgoC het interessante rate saamgebring waarvan die gewildste die eet van sjokolade is om magnesium vlakke op te bou. Ons gaan stap ver ente na ons ons verlekker om die kurwes af te plat en die aankoudendheid die hoof te bied. Gelukkig hoef ons nie soos die ganglopers, stoepstappers en tuinhollers in Mzanzi te kere te gaan nie!

Die Towerinne hou ook baie van die hijab-idee wat VirgoC as verpleegster oor die water begin dra het. Ons hou daarvan, nie om veiligheidsredes nie, net omdat ons vergeet het om ‘n haarkapper op Rebusfontein te laat woon!

Met die doeke om die kop enersyds om om spieëlskok te vermy en andersyds dat niemand die snippers, te kort kuiwe, pers hare en so meer sien nie. Die kindertjies dink die Towerinne is te snaaks en die manne bly maar liewer stil. Hulle weet van beter om met Towerin reëlings en redenasies in te meng.

In elke huisie word ‘n degierol beplan. Dit kook en smook want die langtafel moet Towerinstyl kreun. Kombuistuis is byna al ooreenkoms wat Rebusfontein met die regte wêreld het. Towerinne se kombuise is waar ons liefdestaal groot praat!

Die kombuis degierollery se nadelige degierolle om die magies word gelukkig op Rebusfontein verhoed met al die grootmense en kinders wat oral kan baljaar en stap en swem en berg klim en leef! Ons hou die kurwe so plat!

So sit ons klompie op die meent en asemskep.

“Oe julle maar die spul eierslukkers op die Vuisboek maak my darem vies,” haak Toortsie af. “Regte narre om simpel goed aan te vang om die tyd om te kry. Daar is beter dinge om te doen.”

Die breinaalde klik-klik fluks in haar hande.

“Ja, mens kan skryf, skilder, lees. kaste regpak. Die eiers en suiker kon liefs vir iemand wat tekort het gegee word,’ beaam Christa.

“En die sopie,” vra Una waar sy met haar al haar kosbare krose om haar sit.

“Tjaag, julle klomp laat my lekker lag” sê Scrapy en vryf Trompie die Schnauzer se ore. Hy het kom veiligheid soek by sy ounooi. Die ander gediertes te woelig vir woorde.

Op Rebusfontein het ons klomp nuwe babatjies. Uit die oumas – Perdeby, Christa en Kameel – kry jy net mooi niks. Die nuwelinge in hulle families is knus in ouma arms toegevou en dit koer en sing. 

Sonell, wat saam met die jonger mammas hulle tuisjuffrou pligte nakom en sorg dat die krose se skoolwerk nie agterweë bly nie, kyk so vir die babas in hulle oumas se arms en sy begin giggel: “Het julle al gedink hoeveel grendeglipsies gaan Desember gebore word?”

Vuurvliegie en Positief sit eenkant, windaf en maak ‘n rokie. “Jinne, Positief, dis darem naar wat aangaan danksy die ZolZumpie tannie. Sy het moes toe nou somer die rookban verewig gemaak, al het CR met sy maskerblaps toespraak vertel dat ons nie meer beangs rookhorries hoef te kry omdat ons met ons slakkietwakkie besig is nie.

“Ja, Vuurvliegie, daar is baie mense wat amperdampies bymekaar maak om nie rookhorries te kry nie,” beaam Positief.

Hester is darem nou beter na haar bloedgeveg met haar neus. Sy raas kamtig: “Julle twee moet daar ver bly sit en sonde pleeg, ek kontak sommer vir Zolzumpie.”

Die twee stouterds lag.

“Gelukkig is jy een van klomp vriendinne wat alles van ons weet en steeds van ons hou,” terg Vuurvliegie.

Frannie wat immer die vrede bewaar, verander die onderwerp. ” So van grendelverbod gepraat. Julle een van die dae is daar ‘n pynappel tekort. Almal in die regte wêreld maak skielik bier en kwarantynwyn. Pynappels is glads nou bekend as wynappels! Dankie tog ons het ‘n onuitputlike bron Frangelico,” glimlag ons mooi silwerkop Towerin.

Bondels lag vrolik waar sy agter ‘n esel sit en skilder aan die mooi toneel voor haar. “Julle, hierdie is die mooiste prentjie, ek wens julle kan julself deur my oë sien…”

“Kom julle. Dis amper tyd vir die laatmiddag kuier om die langtafel,” roep Woordnoot
  almal nader na die tafel,  keurig soos net sy kan, getooi met vrolike ruikers en heerlike disse wat die manne moes aandra.

Vreugdevolle en vrolike samesyn op Rebusfontein…

…en net so doef. Terug na die werklikheid.

Die kwartantynkantien op Waterval roep. Die Waterval spyskaart moet geflans word, my liefies grendelpendel aans en die grendelklokreël word erg toegepas in ons omtes. Die kwarantynpeletonne en klikaktiviste duld nie misstappe nie!

Dankie Towerinne en Rebusfontein vir die ontvlugting. My hart het so binnebly warmte, van die dagdromery en ons vriendskap.

“The glory of friendship is not the outstretched hand, not the kindly smile, nor the joy of companionship; it is the spiritual inspiration that comes to one when you discover that someone else believes in you and is willing to trust you with a friendship,” het Ralph Waldo Emerson wys geskrywe.

NS. Dansky Afrikaans.com se #tuisinjoutaal het ons 95 nuutskeppings rondom Covid-19 en die landswye inperking en kon ek nou lekker met hulle (en my eie) nuutskeppings snoer. Loer gerus hieronder en verryk jou taal.

Click to access Afrikaans.com-Covid-19-woordeboek.pdf

 

Kunswerk: Andrea Kowch – An Invitation, 2013.

Advertisements