Toe ek my blogmaats uitdaag om met 25 woorde en een van die vier kunstige swart en wit foto’s ‘n lekker woordsnoer uit te ryg, kon ek nie voorsien dat ek nie sou kon kies welke foto ek as inspirasie vonk sou wou gebruik nie. Die uiteinde is dat ek ‘ n kwartet snoere aanbied.  Vier langerige byskrifte vir die asemsnakkende mooi foto’s.

86495122_1758389904298064_1892521530177355776_n

© Vinicius Fadul

‘n Ma onthou

Die vrede wat uit Hom straal is haar altyd naby. Sy menswees en sagte hart sal sy altyd koester.

Die dag toe Sy hande sag na haar verweerde gesig reik het sy, Maria vrou van smarte geweet, Hy sou Sy Lewe gee.

Sy goddelike genade en geneeskrag  in ewigheid oor alle mense uitstort. Haar Kind, ons Jesus.

Sy woorde aan haar: “Moeder ek moet Jerusalem toe gaan. Dit is tyd.”

 

86864289_1761221360681585_3685817685045673984_n

© Jörg Ha

Genesing

“Hoe lank en hoeveel wonde gaan jy bly regverdig omdat jy die toediener van die einste wonde liefhet?”  Hoe kan jy die wreedaard so ‘n skuiwergat gee en hom toelaat om jou menswees nietig en van geen waarde te maak? Dis absurd om so te wil redeneer. Dink jy so min van jouself?” 

Die woorde refrein aanhoudend in haar gemoed. Val swaar soos die reën op die swart sambreel. Die klein droë ruimte in die stortreën bied skrale troos. Haar kaal voete plas-plas op die blinknat teer.

Op die onweersdag het haar besoek aan die berader nie verloop soos sy beplan het nie.

Daar dink sy dat sy in ‘n veilige ruimte haar leed en seer kan uitpak. Dat sy steun en troos sou kry. Maar nee, haar skanse is af gebreek en die waarheid het haar soos ‘n emmer koue water getref.

Sy hou die sleutel tot genesing, én die wonde wat dit keer, vas. Sy moes uit, weg. Nie eens die reën kon haar keer nie. Die berader ook nie. Net ‘n swart sambreel in haar hand gedruk.

Stadig bedaar haar gemoed, met elke tree raak sy bewus van die skoon gewaste aarde, dat die reën ook haar binneste skoon laat voel. Hoe die seer nie meer so fel is nie. Dat sy moet wegstap na ‘n nuwe begin.

Die pad na genesing  begin nou, onder die sambreel, kaalvoet in die reën.

 

86796343_1759433267527061_3109968823848009728_o

© Andreas Paehge

Bedevaart

Die lewensafstand wat mens aflê, die lewenspad wat jy deurtrap  is jou bedevaart en soeke na self.  Jou persoonlike Camino. Met die wete dat jy nie die pad weer sal loop nie  en dat die tog jou nie onveranderd laat nie. Dat dit jou transformeer.

Dat jy met elke tree verander, omvorm, groei. Dat ‘n ander, onkundiger, naïewer jy in die verskiet ver agter jou sal bly.

Selfs die brand van die son op die pad en die sagtheid van die skaduwee wat ‘n boom langs die weg jou bied, alles is immer besig om jou the slyp na ‘n nuwer weergawe van die jy wat jou bekend is. Die lief en leed, die seerkry en geluk almal bakens op jou bedevaart tussen jou sterretjie en kruisie, jou strepie genaamd lewe.

 

72910253_1626307287506327_5712202303478431744_o

© eyesboyzinsta

Om te skryf

Haar gedagtes is soos ‘n laaikas wat te ver oopgetrek word en die inhoud ongebonde die wêreld vol laat warrel.  Klakkeloos kom dwaal woorde deur haar gedagtes op soek na ‘n storie of inspirasie vonkie.

Todat sy orde skep en die warrelwoorde kunstig agtermekaar snoer.

Die skrywer, die woordboer

wat mense se harte roer.

 

********************************************

Wil jy saam woordsnoer?

So maak mens :

Kies ‘n foto uit die vier hierbo wat tot jou spreek. Gebruik al 25 trefwoorde om ‘n blog oor die foto te skrywe.

Mik vir 500 woorde, die eerste 25 het jy al! 😉

Skryf dan jou blog. Maak seker om die trefwoorde in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Volg gerus die blad Art – White/Black  om meer lieflike kunswerke te geniet.
NB. Neem asseblief sorg om die kopiereg kunstenaar te vermeld as jy jou gekose foto na jou blog kopieer.
Onthou om die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!
Lekker saam speel.
Hierdie uitdaging sluit op 29 Februarie 2020 – skrikkeldag. 😉
Advertisements