20200216_1055278136668861122312383.jpg

Ons vat vanjaar boeke saam met Cecile Cilliers. ‘n Ware uit die heup skiet gelowige is sy. Ons is met kos en as en beesmis besig. Klink vreeslik, maar die swaar dele van die Bybel is daar om ‘n rede.

As die reuse om mens groot is, het die Dawid en Esegiël en Jona en die swaarkry mense van die Bybel reeds vir jou met hulle voorbeeld die weg gebaan om krisisse en seer en bang te oorkom. Om in geloof te kan oorwin.

Dis hoekom die Bybel rêrig my gunsteling sandput is, my veilige hawe, my stilte plek, my juig en jubel plek. Hoe meer ek gaan speel in die sandput van die Bybel, hoe meer skatte ontdek ek.

Maar dis nie wat ek wil griffel nie. Dis net ‘n ankerplek vir my relaas oor ‘n GI broodjie en ‘n stomp.

Terug by Esegiël. So lees ons in hoofstuk 4 dat God baie bitter vernietigend kwaad vir die Israeliete was. Soveel so dat hy met gehoorsame Esegiël as voorbeeld, die verskriklikste profesie oor Sy volk uitspreek.

Arme Esegiël moet deur vreeslike ongemak gaan, hy was gehoorsaam so. Maar toe God sê hy sy kos op mens afval moet gaarmaak, vra Esegiël, “Rêrig Here.” En God verander van plan en sê hy kan maar kos op beesmis gaarmaak. Phew.

Maar Esegiël moes voorbeeld staan vir dit wat vir die ongehoorsame volk. Was dikker as Shrek s’n was in hulle ore, en blindemuis was hulle oë en klipharte het hulle binneste vol gelê.

Jare later sou hulle terug kyk en onthou van die broodjie wat Esegiël van gemengde saad moes maak. Dit teen al die voorskrifte om nie meer as twee grane te meng nie! Dis nou ‘n GI broodjie wat hy op beesmis moes maak en na as geproe het!

En toe eers sou hulle huil en ween en na God terugdraai. Ek besef dat ons nie in hierdie harde moderne wêreld kan wegkyk van Esegiël se profesie en se gehoorsaamheid nie. Ons moet hoor en sien en begryp dat ons veral nou aan God se voete moet bly kniel.

Hy het ons elkeen immers gedroom en uit ‘n handvol sand ons gemaak en Sy asem in ons ingeblaas. Ek bid Yahweh. Yah- God se asem in my, Weh, my asem terug aan God. Dis my mantra Yahweh, Yahweh, Yahweh.

In ons tuin so op pad na die syhekkie buite toe, aan die kant waar die son saans oranje,blou, pienk, pers sak, het ‘n boom vergaan. Die afgekapte stomp staan met droë bas, soos ‘n vrou met arms omhoog. Smekend, pleitend.

Nie eens kettings aan die trekker wou haar laat roer nie. So die smekende stomp het maar bly staan. Deur droog, wind en reën wat Waterval  beleef het die afgelope jaar.

Donderdag neem ek ‘n leë blombak en gaan sit dit in die twee omhoog arms. Eli kyk my so van die waskamer af aan. Sy kom met ‘n klein kapbyl nader. “Kom ons haal die lelik af,” stel sy voor.

Gou is ons besig om die droë bas af te trek. Die mooiste mooi kom te voorskyn. Rooibruin blink staan die stomp. Miere se spore in haar ingekerf. Soos die lewe ook sy merke in ons en aan ons laat. Wonde gesien en ongesien, en tog teken van deurtrapte leef en oorleef.

20200216_1054464355647960497866637.jpg

Ons plant rankerige vetplant steggies in die bak en skielik is die smeekstomp ‘n jubelende offer aan ons Skepper. ‘n Lofsang wat nou saans in die skemerte vir God sal sing, en bedags as ons deur die kombuisvenster kyk, ons sal herinner om Yahweh te asem, in en uit en dankie te jubel vir elke genade, groot en klein. Ons dankoffer stomp, ons gedenkteken en baken. En ons sal GI broodjies bak, want ons mag. Met ore wat hoor en oë wat sien en harte vol dankbaarheid en lof aan Yahweh!

Lekker rustige Sondag seënwense.

 

 

 

 

Advertisements