Dis lekker bewolk hier op Waterval. Meer as twintig dae laas iets gegriffel hier in Blogland. So hier en daar ingefladder om te loer wat my maters aanvang en beleef.

Smaak my die wrede Janoworrie met sy 999 dae het maar oral haar hou ingekry, of miskien is dit net my bril wat skeefgeslaan is en my skryfmuse die verskiet laat in vlieg het.

Ek dink nie ons moet langbeen teen die muur sit nie. Die weer, jy weet. Die skroewe in my rug voel roeserig. Kom ons sit soos beskaafdes by die ou tafel op die stoep. Ek sal vir ons ‘n tee skinkbord dek. Lekker Karoo heuningbos, vars gebakte brood, regte botter en vyekonfyt. Dis waarvoor ek lus het.

Die swaeltjies wat nuwe nes net so skuins bokant ons koppe gebou het (want flippen goggas het in hulle vorige huis ingetrek), moet julle nie pla nie. Hulle het net een kinnerkie vanjaar. Ons noem hom Pernoeps, hy is so bietjie simpel of moedswillig. Kan om die dood toe nie daai nes waar hy soggens uitvlieg, vanaand binnegaan nie. Sy ouers sit op die vensterraam agter my en saam moedig ons hom elke middag aan as hy met wye aanlope die nes benader en net voor hy die ingang kry swenk hy weg, elke middag. Miskien speel hy, ek weet nie.

Het ek julle van die Desember hael vertel? Op 19 Desember is die Lekker winkel toe, personeel is weg tot Jan-o-worrie vir Kerstyd en Nuwejaar, my huis is splinterskoon – matte gewas, gras gesny, swembad skitter. Ons Desember tuis rus breek aan. BAb is weg dis net Rots en ekke en die brakke op die Watervalwerf.

20 Desember breek aan. Ons is rustig. Dis egter baie bedompig en die weer bou op. Teen 12h00 is daar wolke, pikswart en kwaai en groot raas. Sweerlik is ‘n Ming vaas deur stouterds omgestamp en raas word in die hemel uitgedeel – erg.

‘n Rukwind trek oor die werf, ons hol om vensters en deure toe te maak, en toe val die reën en die hael. Die platdak het nie verweer nie, die geute verstop. 45mm reën en hael in 12 minute is ‘n oorstroming onder die dak sink in op die plafonne.

Rots en ek staan met groot oë vir mekaar en kyk. Water loop teen kombuis mure af, dit loop teen my kamer muur af en ook op die plafon nate langs. Dit drup op die beddens, stoele, dit loop agter boekrakke in. Ag jinne. Ek smyt net handdoeke en badmatjies oral neer. Ons probeer met skroefrug en stywe nek beddens en stoele skuif. Skilderye red. Dis ‘n gemors. Kort en kragtig, 12 minute se chaos.

Buite het die tuin ook nie te goed gevaar nie. Plante is stukkend, stukkend geslaan. Selfs my nuwe vetplantjies op die stoep is geklits. Arme bougie wat met haar rekverband nog aan die vorige rukwind se beserings herstel se koppie met nuwe groeisel staan geboë, kaalgat geslaan. Ag en ja, die mooi grasperk en skoon swembad is omskep in ‘n  mynveld van palmtakke, palm skedes, jakaranda takke, wewer en vink nessies en stukkende blare. Geseënde feestyd se voet.

Goddank ons het lankal ophou sakke sout vreet. Ek sweer ‘n baba huwelik sou nie die gemors gemaak het nie. Daai jong egas so pad af deur die modder wou hol. Ons het maar so vir mekaar gekyk en begin opruim. Net ons twee.

My asem slaan weg toe ek in my kamer kom. Ek is bederf met ‘n lieflike Hanlie Kotze vir die 61e verjaardag. Die oorspronklike werk het in plastiek gesnoes op die boekrak langs my bed gestaan. Ek het skoon vergeet.

Flip, toe ek die kosbaarheid optel, kom ek agter, water her wragtig ingeloop. Nat is die onderkant van die  moet-nog-geraam-word kuns. My hart het byna gaan staan. Dank Vader my geliefde kunstenaar is met niks minder as die beste tevrede vir haar skeppings nie. Die papier is sterk en haar werk ongeskonde en effe voetlangs gekreukel. Dis darem nou veilig terug van die raam en mooimaak winkel.  Ek het benoudsweet van my voorkop gevee!

Nodeloos om te sê het ons ou tweetjies  die volgende twee dae ge-Spasmend en ge-DeepHeat en maar stil geblokraai. Uitgeput.

Na die maniese skrop en skoonmaak en benoud Desember deur uit vrees dat ons plat dak nie nog so trauma sal hanteer nie, loop  2020 ons met so spoed binne dat ek en seker klomp ander mense rekmerke het.

Die kapelaan op RSG se oggendiens vanmore het dit vertel. Ons het miltsteek, want Jan-o-worrie het sommer voort gestoom en hier sit ons nou in Skrik(kel)-Fe-bru-worrie!

So besef ek vanmore hoe ek van die skryf en kommunikasie kar afgebliksem het en uitasem in die stowwerigheid bly lê het.

Gelukkig, gelukkig kom mens seer-seer tot jou sinne.  Ek het darem nie soos ‘n jammer kry varkie in die stof lê en seer troetel nie. Die tuin is herstel. Die plante staan soggens by die agterdeur en wag om te hoor waarheen hulle verplant gaan word.

Die wewers en vinke se nessies is herbou, slim ook. Julle moet sien hoe hulle nou nessies om blare aan die punt van die soepele  witstinkhout se nuwe lote vasanker. Die wind kan maar kom.

Ons Lekkerwinkel se slim manne het hulle ma kom red en die dak het ‘n lekker vasmaak en seël sessie gehad. En so het ek begin op kyk en om my kyk en gister loop my geliefde Graaff-Reinet se dam vol! Ja, tot my hartsplek was seer en droog.

Genade onbeskryflik groot. Alles gaan verby en ‘n nuwe dag breek aan en miltsteek verdwyn.

Is die lui huisvrou se uitbundigheid nie aansteeklik nie! Baie beter as die coronavirus.

So, daar het jy dit nou. Nog ‘n koppie tee, dan vertel jy my hoe dit gaan!

Ek groet nou,  moet onverwyld saam met Harpy my Towerinmaats op Rebusfontein, ‘n kluisenaar raaf ‘n les gaan leer.(Klik op die skakel en lees lekker aan ons nuutste avontuur.)

NS. As jy kans kry. Gaan soek Coenie de Villiers 2.2 CD. Hy en Judith Sepuma en die Mzanzi Jeugkoor sing Amazing Grace. Dis sielblom mooi!

 

Advertisements