My liefste skoonma is oorlede, en ons moet meenthuis oppak.  In die spaarkamer is daar ‘n kas wat niemand wil aanpak nie. Ou strykkomberse en mementos is daarin verpak. Iemand moes voor my die kas bekyk het, want toe almal met hulle deeltjies aan ma se goed vertrek en ek die laaste opruim aan losgoed moet behartig, moet ek die kas oopmaak. Die geskiedenis tuimel op my af.

Ek sak op die vloer neer en my skoonouers se jeugdige kykers loer my aan uit swart en wit foto’s. Briewe in vergeelde koeverte lê oral op die mat.

Ek sit en snik oor die wrede blootlê aan hulle privaat lewens. Ek maak alles bymekaar en heelwat later maak ek vir my skoonma en skoonpa en my man elk ‘n blaai leêr met hulle getuigskrifte, briewe en foto’s. My kind en haar neefs en niggies sal maar eendag moet besluit wat hulle daarvan wil maak. Die broers en hul vrouens weet daarvan, maar vra nooit uit daarna. Ek kry dit nie oor my hart om te vernietig nie.

Die korrespondensie tussen die onderwysstudent en sy nooientjie is sprekend van ‘n era waar ordentlikheid en waardes en respek nog getel het. Die opgewondenheid toe hy al reeds ‘n onderwyser is, en hy die laaste brief voor hul troue aan haar skrywe is vol afwagting. Hy spreek die hoop uit dat die hemp en pak haar goedkeuring sal wegdra, die dames by die skool het hom help uitrus!

Dan die liefdevolle briewe van my moeder se ma, ousus en geliefde skoonsuster. Ag, ek wens ons kan in vandag se tye so vol deernis met mekaar omgaan! Nou dink ons gemeenplase aanhalings op Vuisboek en Whatsapp maak ‘n verhouding innig en sterk. Pffft! Dis dae van groot vertoon en min inhoud soos die Dalai Llama tereg sê!

Briefwisseling  tussen my Rots en ek in die kinderdae van ons huwelik, het ons gered. Hy is in ons eerste vier huweliksjare nog opgeroep na weermag kampe. Ons het geweldig swaar aan finansies getrek as gevolg daarvan, hy het op ‘n kommissiebasis geld verdien en as hy vir drie maande moet gaan weermag padblokkade die hemel weet waarvoor, het die spanning hoog geloop.

Jonk getroud, kleine baba, afstand, rande wat nie wil rek nie. Oe, dit was angsvolle tye. Goddank ons het ons harte uitgeskrywe en so ‘n sak sout of twee geëet gekry!

Die briewe is ‘n persoonlike kleinood. Ek moet miskien my Bab daarvan vertel, sodat sy nie eendag in trane sit met die geskiedenis wat op haar neerval nie!

Dankie Scrapy, dat jy ons aan briewe laat dink!

 

 

 

Advertisements