Scrapy vra dat ons oor mense in en oor ons omgewing moet skrywe.

Ek is al sedert 2009 so effe aan mense uitgebrand en die Liewe Vader is so goed vir my hakkieshart en seer siel dat Hy voorsien dat ek buite ‘n dorp ver van mense kan leef en asemhaal. Tussen berge. Beskerm en geborge en vry van die samelewing se marmotwiel bestaan.

Hier in my eenkant wees het ek my gesin teruggekry. My arme man en kind moes in my jonger jare opsy staan vir die allemansvriend weergawe van my. Die dinamiese netwerker en bedelaar vir ‘n sogenaamde ‘goeie saak.’ Ek het baie mense geken, dikwels beter as wat hulle besef het.

Ruggies gevryf en laat goed lyk. Daar was ‘n stadium dat dit gelyk het asof alles wat ek aangepak het, net die regte mense byeengebring het, en dit was net sukses en glorie. Saam met ander was ek altyd met oopbek smaails in die koerant omdat ons groot projekte aangepak.

‘n Relay for Life uit die boeke, en so van boeke gepraat, ‘n gemeente se 50 jaar gedenkboek geskrywe. Mense het gehou daarvan om in my geselskap te wees. Maar weet jy, daar het in my binnekant iets gehaper. Min mense het ooit gevra hoe dit met my gaan. Solank ek mooi hoog gestaan het en goeie dinge laat gebeur het, was dit voldoende.

Almal het goed gelyk, almal het gehou van die kolletjie son wat ure se werk, bemark en onderhandel meegebring het. Ek het vasgehou aan die wete dat die Liewe Vader my hart ken, en so het ek begin besef hierdie besige geskarrel gaan my duur te staan kom. My gesin en my siel was op die spel.

Toe klim ek van die marmotwiel af en gaan bly aan die voet van die Ysterberg saam met my man, en gee net aandag aan hom en my kind. Die baie mense verdwyn soos mis voor die son..

Min het ek geweet dat ek ‘n versorger sou word. In 2011 word my geliefde skoonma siek. In ‘n koors ylte vra sy my of ek haar altyd sal bystaan. Ek belowe haar, soos Rut vir Naomi, dat ek haar nie sal versaak nie. Van Mei tot Desember 2011 het ek en my gesin hardepad saam met die besondere mens geloop.  Dit het ons nie gewild gemaak nie, maar gelukkig is dit jare later nie meer van belang nie.

Ons was ook vir 25 jaar deel van ‘n  groterige, en wat ons gedink het ‘n hegte vriendekring. Tot op ‘n dag. Ons is lank nie meer deel van die groep nie. Ons is te vreemd en eenvoudig vir die kring. Want sien ons het ‘n nuwe koers ingeslaan. Rustiger, meer in die oomblik en in dankbaarheid begin lewe. Ons wysheid en insig en liefde nie meer nodig nie.  Ja, ons het geleer daar is ‘n tyd vir alles, om deel te wees en om eenkant te wees.

Mense in my omtes is yl. Ons leef to 2 kilometer grondpad in van ‘n besige plattelandse roete. Vreemdelinge kom pla nooit, want daar is vier plaashekke voor ons s’n. My direkte bure is twee Sable bulle wat lekker met mekaar koppe stamp en ‘n kamp vol lieflike Njala’s.  O ja, en die plaas se seuns, het ‘n huisie hier onderkant my huis. Hulle is meer uitstedig as tuis is, en tel nie as permanente inwoners nie. Die onrus van jonk wees lei hulle aldeur plaashek uit.

Net so 200 meter buite die elektriese heining van my woonplek is daar nog mense op die plaas. Die plaaswerkers op die plaas waar ons huis huur, woon naby.  Ek sit op my eiland van bevoorregting en net anderkant die draad, leef mense swaar.  Ek kan nie intree nie, want ek betaal nie die mense nie, ek bied nie huisvesting nie. Ek kan wel hulle met hulle swaar vragte aankope langs die pad optel, hulle na die nedersetting waar hulle gesinne bly aanry, saam met die vroue lag as ons mekaar se oog vang waar hulle knoffel verwerk en ek in die tuin besig is. Ons bid elke oggend al die mense, die wat ver is en die naby, want dis wat ons kan doen.

My Eli leef met HIV, en is ma en ouma. Sy is ‘n trotse vrou en ons twee het al oor die afgelope twaalf jaar baie saam gelag en gehuil. Ons dien saam die Here. Ons deel ons geloofsbelewenisse met mekaar, en ons bid vir mekaar. Naas Bab  en my kammie, Gouwsblom, is Eli my beste vriendin.

En dan is daar my virtuele wêreld vriendinne, die Towerinne, wat vir my so oor die eter baie beteken. Dis ‘n groot omgewing waarbinne ons bevoorreg is om mekaar te kon vind en sterk bande kan bou.

Hier waar ek sit en skrywe, is dit vandag net ek, Elisa, die werf se tuinier en asems van die voëltjies en my brakke op die werf. Rots en Bab is aan die ekonomie pleeg. Die mense wat iets van ons lewe weet tel ek op my vingers. Super klein en geborge kring, wat net seën en onvoorwaardelike omgee vir ons bied.

Vandag skyn die son vir die eerste keer sedert Vrydag,  en die gesing van die knoffelvroue sweef oral saam met die tjip tjirr van die bosveldvisvanger en tjierie raas van die suikerbekkies en wewers. Groen en geil bosveld groete van Waterval se mense en diere. Ons was gordyne na al die stowwerige maande!

Hier vind jy Scrapy se uitdaging. http://kreukels.home.blog/2019/12/09/maandagwasdag-no-17-omgewing-mense/

Advertisements