krismis

 

Eendag was daar ‘n man, sy vrou en hulle dogter. Hulle het op ‘n plaas gebly. Die plaas se naam was Waterval, maar net water het soms uit die hemel geval.

Die dogter het baie goeie vriende gehad. Die jongman en -vrou was getroud met mekaar. Die drie vriende was lief vir mekaar, en toe die egpaar se kindertjies gebore is, het hulle hul vriendin die kindertjies se peetma gemaak.

Die pragtige seuntjie en dogtertjie het dikwels ook op Waterval kom kuier saam met hulle pappa en mamma. Hier het hulle twee lief geword vir  hulle peetma se ouers, en die ou mense is klakkeloos lief vir die twee kindertjies.

Die kleuters het tydens sulke kuiers groot pret en avonture met die bende honde wat ook op Waterval bly. Dis borrels blaas, bal gooi, swem en fietsry.

Vanjaar net so voor die Kersgety begin,  het die liefie gesin weer Waterval kom besoek. 

Toe die son se hitte wyk, klouter almal, die ou oom en tannie ook, in die swembad. Die kosbare kroos op ‘n bloubont lilo vir ‘n boot en twee swembad noedels vir roeispane. Daar is geskater en geswem en die seuntjie het sy ouers verbaas.

Na ‘n onlangse skrik by ‘n ander swembad, is die mannetjie sku. Die Tannie het hom saggies die water ingelei met sy Bentley belt baaibroek en ‘n noedel. Stadig maar seker het die selfvertroue verbeter, die hoogtepunt toe meneertjie vra of hy kan spring. Die ou Tannie se ja, natuurlik, en gou is die seuntjie op die swembad se rand. Tot sy ouers se verstomming tel hy:”Een, twee, drie, hier kom ek!”  Hy lanseer homself deur die lug in die tannie se arms waar sy in die swembad staan en wag. 

Hy skater en sy ogies blink en hy sê:” Weer, Ouma.”  Die Tannie se hart bons! Dis lekker om ‘n ouma te wees. Die oom het ook saam gespeel, en self blinkoog die twee kindertjies se liefde ontvang! Die tannie se arms is die volgende dag lekker styf van al die vangskote!

Moeg geswem en droog aangetrek is die span stoep toe. Dit was ‘n opgewondenheid want die Kersfees boom op Waterval moet uitgehaal en versier word. O, die ou tannie se hart was so bly toe die twee blinkogies die versierings aan die Afrika kersboom hang. Die dogtertjie kyk so op na haar: “Ouma, dis mooi, en sy vlieg in die vrou se arms en gee haar ‘n soen en hou haar ou gesig in die kleine handjies, “Ek is lief vir jou.”Die kleinkindlose vrou weet toe hoe ‘n tweede keer op een dag voel Ouma wees. Wat ‘n kersgeskenk! 

Die kindertjies hardloop buitentoe en kom met mamma en peetma terug. “Kyk, pappa en ons het die kersboom gemaak.” Die peetma kyk haar ma so. “Dis nou mooi, die boom lyk bly dat kindertjies hom versier het, glimlag sy sag.

Die braaivuur is aangesteek en toe dit mooi skemer is word die Briza boek en stokkie uitgehaal. Soos ‘n klein Harry Potter kry die seuntjie die Nonnetjieuil se foto in die boek saam met sy Ouma Tannie, en hy lag, en druk die klankskandeerdertjie so ewe.

Die Nonnetjieuil roep uit die towerstaf. Opgewonde sit die seuntjie en wag, swoesj kom die werf se Nonnetjieuil soek na die besoeker. “Kyk, kyk,” gil hy. Gou is almal op hulle rue en met sy towerstaf, roep hy eindelik drie uile nader.

Dis toe dat almal ook die sterre raak sien.

“Dis almal wat ons voorgeloop het se siele wat die Here vir ons wys,” mymer een. Ons is ademloos in die oomblik van grootsheid en warm klein bekeer.

Die seuntjie vra: “Waar is die uile. Sy sussie haak af: “Hy het net gaan petrol ingooi, hy sal nou hier wees.”  Die saam skaterlag van die grootmense eggo die eter in.

Die kindertjies het pootuit aan die slaap geraak en daar is tot in die na-nag nog sterre gekyk om die vuur.

Die volgende oggend is die huis vroeg aan die gang, want kindertjies slaap nie laat nie. Daar word gespeel en borrels geblaas en saam met die honde word daar bokke gekyk en grassies en blomme word aangedra.

Die seuntjie kom na sy mamma en die tannie aan gehardloop, in sy handjies sagte donsvere.

“Sou dit die duiwe s’n wees of die Nonnetjieuil wat die skatte vir hom gelos het,” wonder die tannie hardop.

“Nee Ouma, die engele sê hulle was hier, hulle stuur dit,”  kom dit ernstig van die kleuter.

Voorwaar, die engele het saam op Waterval gekuier. Die ou vrou se beker loop dankbaar oor!

Die einde.

*************************************************************************************

Wil jy nie vir my kleinkinders van ander oumas ‘n  storie skrywe nie? 

Die uitdaging sluit 16 Desember 2019, sodat ek vir hulle ‘n storieboek met my blogmaats se mooi verhale kan maak.

 Die woordsnoere is die woorde in vet letters in my relaas.

Lekker skrywe.

By voorbaat dankie dat jy deelneem.

Wil jy saam woordsnoer? So maak mens :

Jy kan  ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het.

Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Onthou om die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!

https://fresh.inlinkz.com/p/4225e6b64b13421fb9cce1662a75d805

 

 

 

 

Advertisements