Trauma het ʼn aardskuddende effek op ons familie gehad. Die mense wie ek die liefste in die hele wêreld gehad het, het in ʼn oomblik vreemdelinge geword. My ma ʼn skadu van haarself. My swartkop sussie het so dofheid in haar oë gekry, wat ek vandag nog soms sien. My pa met die hees laggie was nie te bespeur in die doodsbleek liggaam op die mat nie. Ek het iewers agter in my kop gaan skuil, die situasie van ver beleef.

Die dae wat gevolg het is amper soos ʼn skyndood ervaring.  Ek was toeskouer van myself wat die tee gemaak, troos ontvang en skottelgoed gewas het. Soos ʼn marionet. Onwerklik.

Gevoelens wat ek ervaar het was vreeslik. Ek was lam van skrik, dan beangs oor more en die dag daarna. Verlatenheid en alleenheid het kom leeubrul. ʼn Vreeslike desperaatheid kom kloofdiep  voor jou staan.  Die bitter woede, dan weer die skok in die  besef dat doodgaan rêrig is.

As onsekere sewentienjarige is ek in ʼn tuimeldroër met ʼn onbepaalde en onbekende siklus gesmyt. Ek sou eers na my 26ste verjaardag dit kon ontsnap.  Die ergste was die paniekbevange verlorenheid. My pa is weg, weg. Nooit weer sou hy my terg, raad gee, of net liefhê nie, ook nie vir my ma of sussie nie.

Paniek en woede is wat my ma meestal in die dae na pa se dood ontketen het. Die kere wat ek haar in sy klerekas kry, huilende en histeries. Fok ma, ek is nie die grootmens hier nie.  Dan weer vang ek haar waar sy haar aandete opgooi. Dan maak my baba sus Pronutro aan en ek dwing haar, vasgedruk op die toilet om te eet. Fok ma, ons het jou nodig. Is jy nie lief vir ons nie? Dis nie lekker om aan jou ma te moet klap nie.

Maar uit die skrik het moed gekom om tree vir tree vorentoe en aan te beweeg. Die hartseer het my meegevoel geleer. My angs het tot aksie gelei, my geleer besluite neem, om op my voete dink. Ek het geleer dat as jy in ʼn hoek ingeverf is, is daar steeds uitkom plek.  Grou die muur agter jou oop!

ʼn  Slim man by name Kirk Schneider het ʼn puik essay geskrywe oor  leef met vrees, verwondering  en ontsag.  Hyself vertel dat hy ook sy gesin na ʼn trauma skaars herken het.  Hy spreek dankbaarheid uit dat hy die proses kon deurleef sonder om “drugged and plugged’ te wees. Hy reken hy sou nie by die volgende besef uitgekom het nie:

Dat alleenwees kreatiwiteit stimuleer,

Wat smart werklik behels,

Die moedswilligheid wat woede meebring,

Die nederigheid wat jy in jou seer broosheid ontdek,

Die moontlikhede wat openbaar word deur onsekerheid,

Die reis na self-ontdekking deur die trauma.

Hy meen ook dat, hoewel vrees ʼn mens in ʼn bondeltjie intrek en mens inperk, dit ook tot ʼn mate dit wat oor ons toring, beklemtoon. Navorsing het bewys dat al verneder vrees ʼn mens, kan dit ʼn mens ook met nugterheid laat besef wat moontlik of onmoontlik is. Schneider sê vrees is die stelkleding vir moed. Sonder vrees beteken moed nie veel nie.  Sou ons sonder vrees op ons hakke ooit die volgende tree gee?

ʼn Skool onderwyser wat groter as die lewe self, geleef het, en vir my ʼn inspirasie was, het my geleer “fear is an acronym. It stands for False Evidence Appearing Real.” Sy het my in my matriekjaar, my pa pas dood, so deur die eksamen gekry. Sy het my seer en angs in energie omskep en ek het my studies gebruik as  ʼn buffer tussen my en die skrik van my pa se skielike dood.

Dit het my gehelp toe die inspekteur reken my voorbereide Engelse mondeling is te goed. Ek was nog altyd goed tweetalig. Die man het net tyd gehad om twee van ons tien matrieks te toets vir die eindeksamen en ons twee se gemiddeld sou aan ons almal toegeken word.

 My praat was bykans perfek, en ou Wimpie het die taal mooi gegooi met ‘n Afrikaanse aksent.  Die gemiddeld is baie hoog. Te hoog reken die inspekteur. Die draaibal wat hy na my gooi was erg. “Unprepared, two minutes. Tell me about your father.”

 Pa was skaars drie weke dood. Ek onthou hoe woedend ek oor die onregverdigheid was dat wat ons voorberei het, nou verder getoets  sou word. Ek onthou ook hoe ek binne gebeef het want wat moet ek nou van my pa vertel?

Aangespoor deur seer, kwaad, vrees en vertel ek in my beste Engels vir die man dat my Pa op die oomblik nie veel doen nie, hy is huis toe, vir altyd!

 Die inspekteur se bek het oopgehang. Ek stop nie. Ek vertel hom dat my pa ʼn fantastiese mens was. My vertroueling, mentor, vriend en held. Ek vertel hom van pa se werk prestasies. Dat hy aan hoof van die saagmeule gestaan het wat gevoed is deur die grootste mens aangeplante plantasie in die suidelike halfrond. Ek vertel dat die Transkei se eerste minister, Hoofman Buthelezi, my pa kom ontmoet het, omdat hy so trots op die grootse saagmeule in sy tuisland was.

Ek vertel hoe my pa my leer skaak speel het, hoe hy my leer lees het en die boekwurm in my, tot wasdom laat kom het. Na ʼn paar minute, onderbreek die man my.  Want sien, terwyl ek vertel het, het trane oor my wange geloop. Ons het die 70% wat hy as te hoog beskou het, gekry! Ek dink nie ek sou die kon deurleef het, as vrees en seer nie my aangevuur het nie!

Schneider beskryf vir my so mooi wat die waarde van woede is. “Without anger, tenderness might be thin, the poignancy of kindness unnoticed.”

So ook met skuldgevoelens en skaamte. Die twee noop mens om te verbeter, te verander en selfs ook ander se seer te genees.  Soms is verandering is moeilik as daar nie skuld beken word nie.  Vra maar die verslaafde. So is dit ook met seergemaaktes.

Die eina-emosies kan ons help om die lewenspad met vuur en verwondering en ontsag verder te loop.

Maar, dis werk en dit is soms hard en vreesaanjaend. Om vandag terug te kyk en te besef dat ek baie ervaar en deurgemaak het, dat ek geweldig gegroei het. Dat ek  binne die bestek van sewe jaar vier van die grootste traumas ervaar en oorleef het, dat ek baie foute gemaak het, dat ek hard aan myself moes werk om die mens wat aan die ander kant uitgekom het te leer ken en te aanvaar.

Ek lees iewers dat trauma vergelyk word met ʼn 1000 Watt skok se impak. Wel, jy kan nie anders as om ʼn ander mens anderkant uit te stap nie. My sewe trauma jare, het my geheel en al omvorm. Ek is nie wie my familie onthou nie. Dis vreeslik, maar waar.

Om aaneenlopende en onvoltooide rou te beleef kan ʼn mens breek. Onherroeplik aan jou psige beitel.

Ek het reageer hierop met aggressie en hardgebakte emosies. Niks nonsens van niemand gevat nie.  Ek moes die beste wees, ek moes wen.  Dis al wat saak gemaak het. As ek beste, eerste, slimste is, sal mense by my bly, het ek gereken. Hoe simpel!  Ek het my ware seer en bang self vir niemand gewys nie. Nie eens my geliefdes nie.

Prozac het van my ʼn robot mens gemaak. Ek het gefunksioneer, maar nes met masjinerie, as daar nie gereeld versiening en verstellings is nie, begin dinge makeer. Ek het twee keer geheel en al ineengestort. Een keer het ek in die kar geklim en weggery. Ek het eers 24 later tot my sinne gekom. My arme man. Ek is drie maande in Denmar opgeneem. Steeds het die angs en onrus nie gewyk nie.

Die medikasie maak my net sieker en slegter. Uit desperaatheid toets my huisdokter my bloed. Ek het ʼn ernstige magnesium tekort. Tien dae se Magnesit poeier elke oggend verander my donkerte na lig. My lyf wys tekorte as gevolg van my onvoltooide rouprosesse, dit  het my gered.

Genade sekerlik ook. Richard Rohr se woorde resoneer met my: “I believe that even when we or someone we love does die, life has not ended; it is merely transformed. It takes great humility to admit we have suffered through this kind of darkness, because it often sounds like a loss of faith to those who have not endured it. But when everything we thought we knew has turned to “nada,” in the language of John of the Cross, we actually become more loving and compassionate human beings, for we no longer rely on our own light but upon the Light of the world living within us.”

Ek lees vanmôre op ʼn universiteitsvriendin se Vuisboekmuur van ʼn Chinese spreuk: Perfekte bome word in planke gesny, die krommes kan in vrede groei.

Dink toe so in my enigheid, die perfektes wis nie wat se pyn skeef en krom groei behels nie, ook maar goed die beloning is om in jou krom uniekheid gelos word om te groei, weg van die massa. ‘Far from the maddening crowd’ kan ek leef in verwondering uit my verwonding. En wie wil nou ‘n plank wees, vra ek jou!

Dankie tog Serdep het Prozac vervang. Dit stomp nie mens se sinne af nie. En vir genade soos Frederick Beuchner dit hieronder so mooi omskrywe  😉

Laat mens dink nè.

Image may contain: text

Advertisements