20191125_123414 (1)

Moeder Natuur is rof met my hart. ‘n Geknakte bougainvillea, padda massa selfmoord, dooie nonnetjiesuil, dors suikerbekkies en slange, stof, nuut geweefde wewernessies en palm assegaaie wat neerplof. Dis my omtes in hierdie vreemde reën-elders seisoen. Ek voel huilerig, vol emosies. Rots kyk my vanmore so skuins aan. “Jy is weird, ek is lief vir jou,” en my oge skiet vol trane en my keel te dik om ‘n woord te uiter.

Dit het voorverlede week begin. Die weer het so verander en winderige woes geword dat ons tuin lyk soos ‘n kleedrepetisie vir Palm Sondag, sans Jesus en die eselin. Dis net takke en saadpeule en nessies na elke nag se wind en storm en reën elders in hierdie ons-wag-op-uitkoms seisoen. Deurmekaar en aggressief kom warrel die wind moeilikheid oor die werf.

Eers was dit die stof storm ala woestyngebied wat ons een aand tref. Ons is besig met aandete en ek kyk so oor Ysterberg se kant toe. Dis skemer en sonsak rooierig en bewolk. Ek sien die snaakse kleur, en kom agter die wind waai al sterker.

Genade julle, toe ek my oë uitvee, is daar rooi stof oral, al die vensters is oop, want ons somer. Fyn rooi poeier en blare en goete trek deur my skoon huis. Dit land in die hoenderpastei wat ek staan en berei het, sif op my hout meubels en kaste neer. Ag, ja. Tien minute later sak ‘n reënbui uit, buite word splinterskoon afgewas, plante, die huis se buitekant, maar ai, ons moes die vir ‘n ruk oral afstof, was en stofsuig om die huis se binnekant te red. Die hoenderpastei was maar grinterig. Sela.

Ek is verlede Saterdag buite besig. Bab het nuwe kant gordyne gekoop. Ek het dit gou uitgespoel na ons heerlik laat gebrekfis en geBybel het. Ons voel so lekker want ons trag in opregtheid en struikelend om soos Jesus te loop.

Die huis waar ons bly het reuse bendes palmbome, by die agterdeur, by die swembad. Hulle is jare der jare oud en is mooi op pad hemel se kant toe. Onbereikbaar hoog met hulle groen toppe wat lekker in die wind dans en die dooielike massa wat net wag om neer te val aarde toe. Permanente werk.

In die woestyn word dit seker maklik deur sand toegewaai, maar hier op Waterval se werf is hulle net skademakers. Die saadpeule sulke assegaaie wat so in die grond pen, dat jy hulle met mening moet uittrek. Moord wapens as jy my vra. Ons loop maar so koes koes. Wil nou regtig nie oop my grafskriffie hê: “Ter nagedagtenis aan Vuurvliegie. Liggie geblus deur ‘n palmtak.”

Daar het weer palmtakke en saadpeule in die grond vasgepen. Sweerlik sal die goed mens deurboor. Ek moet weer een met geweld uit die grond trek. Ek is op pad om die kant op die draad te hang, toe sien ek iets neffens die hekkie lê.

Ek brom in my binneste, ek sal nooit ooit flippen palms plant nie. Blerrie goed mors net en dan moet jy lig loop vir seerkry. Toe ek nader stap ruk my binneste. Die ʼn nonnietjiesuil wat dood lê. In die skerp sonlig lê die baas van die nag en donkerte morsdood. Lyfie nog warm, vere wat broos in die warm wind waai.

Dit voel asof ek ʼn familielid daar dood sien lê. Ek bars in trane uit. “Rots,” huil ek. Hy kom uitgestorm, seker gedink dis ek en ʼn slang of dat ek geval het. “Kyk,”snik ek, Kyk dis ʼn uil.” Ek kan myself nie keer nie. Is heeldag ontsteld oor die lieflike uil wat daar in die harde grond helder oordag dood kom lê het.

Ek vrek oor uile en so by so al die voëls in my tuin. Die tweede swaeltjie familie wat kom nes bou op die stoep is my vreugde en die suikerbekkies, en vanaand as die son sak, lief ek die swoesj van die uile oor die dak en hulle hoe-hoe in die donkerte. Nou is een dood.

Ag ek weet nie waarom ek so ontstemd is nie. Is dit ʼn teken van donker wat verby is wonder ek? Bygelowig is ek nie, maar die natuur en God oral is vir my belangrik. Die sinchronisme van dinge fassineer my en my intuïsie bewys keer op keer dat ek moet kyk en luister en hoor.

Die uil is sinoniem met wysheid, insig en ons onderbewuste, daar waar mens nie jouself altyd wil sien of ken nie. Kan dit wees dat iets gaan verander, goed of sleg. Is die uil se dood vir my ‘n wys na iets nuut? Ek weet nie. Ek weet net ek moet my steur aan die ontsteltenis en eina. Rus sag uil van die nag, ek gaan maar aanhou soek na die lig. Sela.

En of jy nou wil glo of nie, toe ek later die dag agter my rekenaar inskuiwe om te #NaNoWriMo, en eers een van my gereelde goed-vir-my-siel nuusbriewe oopmaak, staan hierdie geskrywe:

The quickest way for anyone to reach the sun and the light of day is not to run west, chasing after the setting sun, but to head east, plunging into the darkness until one comes to the sunrise.”
-Gerald Lawson Sittser, A Grace Disguised: How the Soul Grows through Loss
~~~
A meditation by Rebecca (Becks) Baxter

If you try to hold onto the light by chasing the setting sun, you will stay in the dark longer, but if you instead turn towards the East and move through the deepest darkness towards the sunrise, you will see the light again sooner.

It takes risk to turn away from what we know. What is safe. And instead look “east”. To the unknown. To embrace a journey that takes us outside our comfort places. That can be fearful, dark and risky. It can feel like we are going to drown..
Yet I believe our saviour is one who lifts us, to walk on the impossible. Teaches us to fear no evil. Even when we are surrounded on all sides. And perhaps, just when we thought we could walk into the dark no more, spreads the dawn across the sky, like a promise of Gods faithfulness. Unchanging. Nurturing. Hope giving

Dis ‘n vreemde seisoen. Tjiptjir, die Bosveldvisvanger is nou eers hier. Gewoonlik al in Oktober kom kleim hy sy hoek van die werf. Die bloedrooi lidroos het glad nie geblom nie. Die Van Gogh pers irisse het skaars ‘n week geblom, en die falankse keiserskroon wat die tuin oor die feestyd in koninklike pers tooi, staan verslaan. ‘n Laslap bende oorlewendes van die versengende reën-elders seisoen.

Die suikerbekkies wat so al om die tweede dag ‘n liter suikerwater gebruik het, se natuurbronne is so skaars, dat hulle nou elke oggend vars voeding kom opeis. Ek is geseën om verskeie suikerbekkie families te kan versorg. By my skryfkamer se venster kom haal hulle in die snakhitte en skaarste lafenis.

Die glans groen na blou geskakeerde Maricosuikerbekkie, ook die Purperband suikerbekkie wat baie baasspelerig sy heerskappy oor die soet lekkerte probeer bevestig. Die Olyfsuikerbekkies is gemeensame skepseltjies, kom drink so saam saam uit die rooi tuit. Nogal geselserig ook as hulle ewe kontant in die vensterraam sit!

Die heel oulikste en vrolikste besoekers is is die fyn Witpenssuikerbekkies. Hulle kom skitterblou en wit ingedartel en gee blitsig die wyk as die dors geles is. Het jy geweet hulle boots ander voël klanke na?

Die sku familielid onder die bewoners van my tuin is die Swartsuikerbekkie met sy lang dun snawel. Mooi verby is sy gitswart lyfie met die purperpers keelband. Hy is ‘n alleenloper en kan hy vir jou vererg die ander hakkejaag as hulle pla!

Vrydagnag kom tier hier ‘n wind oor die werf wat my laat dink KZN se vyfde tornado het hier kom land raak! Ek staan vroeg op en stap uit om die skade te takseer en hoopvol my oog op die reënwater te gooi. 16mm! Wonderlik.

Ek kyk oor die gras en my hart breek aan stukke. My mooi bougainvillea wat in haar groot pot tussen die mooie witstinkhout jongens flamenco, lê geknak met haar pers blommeprag op die gras. Sy hang soos een wat te veel gebras het skuins oor die pot se rand. Poegaai, moeg geploeg. Ek is in trane. Dis of familie dood is. Ek hol snikkend nader en tel haar op, haar stam aan eenkant oopgebars. Sag druk ek haar regop teen die besemstok. Die raffia waarmee ons haar vasgemaak het danksy die wilde wind dansery aan flarde getrek.

Ek stap betraand huistoe. Maak koffie en sluk my trane. Rots snork sing nog lekker. Sal hom later met my eina pla. Ek gaan maar met die wasgoed mandjie waskamer toe en begin muy Saterdag roetine. Voëltjiesaad, meelwurm en suet vir my binnetuin gevlerkte mede-inwoners. Ek sit ek verkyk my saam met die twee Schnauzers aan die skoon hemel en opkomende son se skitter. So bietjie salf.

Toe Rots uiteindelik wakker word en my Jeremiade oor Bougie aangehoor het, laai hy rustig die koerant af, drink sy koffie. ‘n Rukkie later roep hy my en vra of ek rek pleister het, en ‘n skêr.

Gewapen stap hy uit. Bougie word ge-‘strap’ soos ‘n beseerde Springbok. Pleister taaikant aan die buitekant, en dan weer taaikant binne, bo-oor, sodat haar stam nie belemmer sal wees nie. Nylon toue word geknip en sy word knus teen haar besemstok staan gemaak, en toe word haar flamenco pers teruggesnoei. Ek tel, steeds huilerig, die pers blomme op en gaan haal ‘n pienk bont tafeldoek om Bougie se seer en my eie hartpyn te besweer.

Sondagoggend douvoordag hoor ek ‘n paddakoor. Ag, jinne. Dis nie ‘n konsert nie. Daar is seker twintig paddas uitgeput in die swembad! Die kwake ‘n hulpkreet. Wat volg is ek desperaat met die swembad skepnet al om die swembad se rand! Flippit, was dit ‘n gestoei om die klomp uit die water te kry. So drie of vier het dit nie gemaak nie. Ek is heel tevrede, maar ook bekommerd. Watse Egipte plaag oefening is dit nou die? In al die jare op Waterval het ek nog nooit soiets beleef nie. Hulle gewone waterbronne is seker onvoldoende dink ek.

Rots en ek het af naweek, en ons maak lekker badwater vir die brakke en die bende word lekker geskrop en drooggevryf. KodaKoos lyk natuurlik soos ‘n ter dood veroordeelde, maar ai, daai lyf blink gitswart mooi as hy skoon is. Na die oefening spring ons twee sommer in die swembad. Dryf luilekker rond. ‘n Heerlike stil dag. Net warm, vrek warm.

Gisteraand steek die weer op, dit blits en rammel. Ek sit en my hart sink in my hakke in. Die paddas. Dit kwaak-kwaaaak uit die swembad se rigting. Ag hemel, dis hordes. Alweer! En dis vroeg nag. Ek moet iets doen. Eers skep ek hulle uit. Hulle spring wrintie terug. Wil seker voortplant die rakkers.

Ek prakseer toe maar met ‘n roostertjie en tou ‘n leer wat in die water afhang en sit ‘n palmtak so skuins in die water by die pomp en bid dat hulle die uitklimplekke sal kry. Rots skud net sy kop.

Vanmore is ek versigtig optimisties toe ek dam toe loop en net vier drywendes bespeur. Twee lewe nog en ek skep hulle uit. Jammer oor die eiertjies, maar ek kan nou nie dat die swembad die padda baba hospitaal word nie.

Ek voel so half trots dat ek immers probeer het om die simpele paddas te red. Maar o wee, gruwels wag op my. Ek sien die sakkie van die water filter lê so gepof op die water. Seker blare, en ek stap om dit leeg te maak. Ag, jinne, dis vol -soos in vol – dooie paddas. Hulle het nie die prakseersels gekry wat ek vir hulle gelos het nie.

Rots en almal by die Lekkerwinkel is besig om padda reddingsboeie te prakseer, want so kan ek nie toekyk hoe die omgweing se padda bevolking kom selfdood opsoek in die swembad nie. My siel sal dit nie maak nie!

Hier het nou net ‘n Maandag noen donderbui uitgesak, ek dink dis my trane wat hersirkuleer is! Ons Suster Reën het pas van elders arriveer, met fyn haelkorrels, suiwer stikstof van genade en groei. So roei Moeder Natuur ons gemoedere om en om. Dit reën mooi al vir die afgelope uur.

‘I worried’ van Mary Oliver refrein deur my ligter gemoed en ek gaan dans met my macaroni tone in die reën, en ‘n padda spring oor die gras….

I worried a lot. Will the garden grow, will the rivers
flow in the right direction, will the earth turn
as it was taught, and if not how shall
I correct it?

Was I right, was I wrong, will I be forgiven,
can I do better?

Will I ever be able to sing, even the sparrows
can do it and I am, well,
hopeless.

Is my eyesight fading or am I just imagining it,
am I going to get rheumatism,
lockjaw, dementia?

Finally I saw that worrying had come to nothing.
And gave it up. And took my old body
and went out into the morning,
and sang.

NS. So in die middel van Maandag kry die reënmeter werk, en my vingers wil saam sing en vertel! 22 mm en die son het nou net deurgebreek, Tjiptjir, ons reënvoëltjie sit en spog in die Jakarandaboom. #Nanowrimo2019 staan op 44 102 van 50 000 woorde. Geseënd!

Advertisements