Adoons Mariksa Cilliers.jpg

Foto: Adoons deur Mariska Cilliers, 2012

Babette en Bessie Bojaan sit en uintjies grou vir die vale. Hulle is besig om ‘n plan te smee om ‘n reuse dilemma wat familie Bojaan in die gesig staar , op te los.

Doer onder in die land sit Tannie Bitterbos Bojaan al vir twee dae met haar hand in ‘n pampoen.

Dis ‘n kopkrappery van die eerste water en aans kom die boer inspeksie op die land hou en dan is dit bloedborssiekte vir Bitterbos! Dit sal nie deug nie.

Die Bojaan manne probeer desperaat om vir Tannie Bitterbos gered te kry.

Hulle loop brom,brom al om Bitterbos en die pampoen. Sy sit roerloos en tuur die vlaktes in.

“Het sy dan nie die storie van die geel monsters gehoor nie, haar gryperigheid het haar nou in die moeilikheid.   Sy is ‘n kanniedood, ‘n kruidjie roer my nie!”

“Gee haar  ‘n oorveeg.So ongehoorsaam, moedswillig en vasgegroei in haar eie manier,” raas Bot Bojaan

“Dit help nie jy gee vir haar die sleutel vir die slot na die oplossing van haar dilemma nie,” vertel Bobaas Bojaan.

“Kom jy met vreudge doepa, skel sy dat jy wil toor. Wat wou dat sy sal kyk na die alternatief. Sy maak net een keuse, dit wat sy glo,” grom Bert Bojaan

“Kom vertel jy van voël blertse op jou kop en die geluk en vreugde wat daarop volg, maak sy dit af as bygelowe,” mompel  Boheems Bojaan.

“Wat jy waar kry Boheems,” grom Bekkig. “Offer jy snoek en wurgpatat lag sy oor die simpele alternatief, los wil sy daai handvol pampoensade nie!”

“Dis ‘n klug, dis niks lekkerder as dié nie,” is  Tannie Bitterbos se egalige antwoord en sy sit, vuis in pampoen, ongestoord en kalm.

“Die essens liewe manne, is dat elke bojaan se smaak uniek en subjektief is, ” voeg sy by. Hierdie  groeipyn in Bitterbos se denke gaan nie sommer deur enige adoons opgelos word nie.

Eweso, terwyl die manne se sorge net ophoop, is daar tussen die wyfies hoop. Hulle gaan lekker uintjiesmoor maak en in ‘n kalbas prop. Dié ekkerige fossiele soos Tannie Bitterbos kan nie nee sê vir die lekkerte nie.

Babbette en Bessie stap rustig met die kalbas vol lekkerte nader.

“Dis tyd dat ons julle wegja manne. Los ons so oomblikkie met Bitterbos alleen,” blaf Bessie.

Die manne is al lomerig van al die gepieker in die son, en maak spore, rante toe.

Babette vra vir Bitterbos of sy honger is.

“So tikseltjie uintjiesmoor,” por Bessie. Sy steek haar vinger in die kalbas en smeer ‘n leksel oor Bitterbos se lippe. Sy smak.

“Lekker. Nog.”

“Nee, Bitterboos, jy moet eers daai pitte laat los, dat jy uit die geel monster kan ontsnap, dan kry jy die hele kalbas uintjiesmoor,” raas Bessie.

Bitterbos se regterklou is in die pampoen vasgeklem, sy is nie links nie, en gryp met haar ander klou na die smoor. Babette gryp ‘n bojaantou en maak Bitterbos se linkerklou agter haar rug vas.

“Laat los nou daai pitte, dan vat jy die uintjiesmoor,”  raas Babbette kwaai.

Die kwyl drup uit Bitterbos se bek.

“As ek die pitte los, sal ek die uintjiesmoor net vir myself kry,” sê Bitterbos ekkerig.

“Ja, ja,”por Babette aan.  Sy is angstig, want die geblaf van die rantjies vertel die boer is oppad.

Bitterbos maak haar hand oop en dit gly uit die pampoen, sy ruk aan die tou wat haar ander klou vashou en gryp die kalbas met uintjiesmoor en daar trek sy.

Babette en Bessie moet hol vir die vale toe die boer woedend om die hoek kom en met die haelgeweer aanlê.

“Derduiwels, swernote, ek sal julle nog kry,” hoor hulle so bokant die geknal van die geweer en gespat van die haelkorrels teen die klippe.

****************

So bietjie humor met ‘n les

Daar is Bitterbosse oral om ons en ook soms in ons. Die wat alles eerste en beste wil hê. Wat so aan goed en status vashou, dat hulle nie in hulle selfsug eens agterkom dat hulle ander seermaak en soms in gevaar stel nie.

Ons moet soms iets laat los om onsself en ander te red. Gewoontes, gedagtes, besittings, ego. Soms is die laat los ‘n pad tot iets baie beter, nuwe uitkyk en groei.

My grootste laat los was aan hoekoms oor gister se dinge. Ek het ‘n dure les geleer, want daai vashou het my Bloubekruip net kos gegee, en my byna baie goeie dinge in my lewe laat misloop.

Laat gaan gister en ook kommer oor more, sê ‘n wyse man iewers.

You cannot suffer the past or future, they do not exist. You are suffering your memory and imagination.” 

Lank terug het ek iewers dié raak gelees: “Moenie ‘n bang bobbejaan wees nie; die pampoen hou jou nie vas nie, jy hou die pampoen vas!”

******************

Dankie  voorlopig vir Toortsie, Christa, Kameel en Hester wat lekker kom saam woordsnoer het.

Wil jy nog saam woordsnoer?

So maak mens :

Jy kan  ‘n enkele woord as inspirasie vonk gebruik of al die woorde – nes jy lus het.

Kliek Hier vir die lys woorde.

Skryf dan jou blog. Maak seker om die woord (e) in vetdruk (bold) aan te dui in jou skrywe.

Onthou om die skakel hieronder in jou bydrae in te sluit. En moenie vergeet om jou bydrae op Inlinkz te gaan aanhaak nie!

Die uitdaging sluit 22 November om 12h00. Wikkel.

https://fresh.inlinkz.com/p/b4994a70bde246a8aca2b9b45ddb2193

Advertisements