mila borrel2 2019mila borrel 201920191108_092655

My blogmaats, waarvan een saam met my aan die 2019 NANoWriMo uitdaging deelneem skrywe oor speelgoed. Poppe wat sedert kleintyd deel van hulle lewens is. Toorts en Perdebytjie, ek beny julle.

Ek het as klein kind so sagte snoesige teddiebeer gehad. Teddy natuurlik was my vashou en veilig met al die oppe en affe van ma en sussie wat gereeld siek of gehospitaliseer was. Saam met m y afgelaai by Ouma Stomp en peetma Tannie Dox.  Teddy was my geheimhouer, my trane afveër en bêreplek van my seer hartjie.

Toe ek groter word  het ʼn rooikop Barbiepop en haar vriend Ken en sussie skipper en vriendin Madge in ʼn bruin kartontassie vol klere en skoene ʼn nuwe verbeel ens speelwêreld oop gemaak. Toe kom papierpoppe. Gewones met rokkies en handsakkies en toe die fantasie goed: Romeo en Juliet, Alice in Wonderland.

Ook my volledige reeks Noddy boeke. Og, ek was darem lief vir Knikkie en sy maters, so het ek vroeg-vroeg fluks leer lees en kon vir ure my sussie en neefs en niggies met stories vermaak.

Dan was daar die lieflike blou St James kinder Bybel met sy kleurvolle prente en my boek oor stories soos Josef se kleed, Jesus se wonderwerke wat vir my kinder glo hart oopgebreek het.

Ons het baie rondgetrek. So ek het gou geleer hoe om my kleinode so te verpak dat dit lekker kon saamtrek. Kon die boks geblinddoek pak. Ons het  in my jare met my ouers  meer as tien keer verhuis.  Ek het geleer om nie te geheg aan maats te raak nie, afskeid was net te seer. So ek het so kantlyn toeskouer mens geword. My boeke en speelgoed my ontvlugting.

My pa het my bederf met komieks – Disney, Hanna-Barbera, Classics – smaakvol en verbeeldingryk. Ook my groen Skatkis Junior en Senior versameling.

MY pa is in my matriekjaar oorlede. My ma buite haarself van verdriet. Soveel so dat ek en my oom hulle die trek van Kokstad na Barberton moes hanteer. Kratte is gemaak en elkeen se goed is mooi verpak.

Ons verhuis terug, en ons lewe is weg gebêre, want my ma wil eers by my ouma hulle bly. So gaan ek sonder my goed universiteit toe. Al my beddegoed en so word nuut gekoop.

Ek  is nie by toe my ma huiskoop nie. Kom die eerste April vakansie tuis, en my kamer is nie myne nie. My ma het dit uitgepak. ʼn Vakansie vol struweling, die eerste van baie die volgende drie jaar,volg. Ek pak my teddie en poppe en boeke mooi uit, veilig bo in my hangkas. In die kamer wat ek nou weer eens net deeltyds en tydelik sal bewoon voor ek die wye wêreld in sou gaan.

Daardie Desember van my eerstejaar kom ek tuis. My teddie, barbies, Noddy boeke en Bybel is weg.Ek is byna dood van woede.

“Waar is my goed,” vra ek deur die seer trane.

My ma kyk my so.

“Jy het geen nut daarvoor nie, ek het dit vir die Myburgh kinders gegee.”

Die woorde steek soos swaarde. Ek kon haar met my eie twee hande verwurg het op daai oomblik.

“Hoe durf jy, dis my goed. Pa het dit vir my gegee. Dis my onthoue.”

“Dit het net stof vergader,” is al wat sy aanbied.

Nie jammer of kom ons gaan haal dit nie. Niks. Hard en venynig.

Nou, na al die jare, het ek haar vergewe daarvoor, want ek dink sy wou alle onthoue en vashoue aan my pa uitwis. So het sy dan ook haarself twee jaar later uitgewis.

Die grootmenslewe het my so sonder onthougoed gekry. Eenkant, toeskouer en verkleurmannetjie wat maar net skynbaar inpas, almal akkommodeer en aangaan. Die holte in my binneste my enigste nuwe vriend.

Sewe jaar van trauma en drama kom in 1984 tot ʼn skielike einde. My Rots, harig en bebaard en sag van hart soos my Teddie, stap rustig my lewe binne.

Haai Here, dankie. Pê-wê Anna Malat, hom kan jy nie ken of sien of wegvat van my nie. My eie lewende teddiebeer wat ʼn plek net vir my in die holte van sy skouer en sy hele het. Daai hart het sy dogter twee jaar later kom steel, maar met haar kan ek deel.

Anna Malat, wat het jou ma wees my geleer? Klomp dinge wat mens nie moet doen nie. Dat ʼn kind se goed, sy goed is. Mag vir ʼn grootmens lyk asof  speelgoed net dit is. Intussen is speelgoed bou blokke en sement waarbinne kinders hulle menswees uitbou en verbou. Daar waar onthou koesterend weggesit word, sodat mens met die stap van die jare daar kan gaan kuier.

Rots het nog al sy kleintyd karretjies. Ag, as julle net kan sien as hy hulle uitpak en vir iemand vertel van die lekkerte toe die geskenke ontvang is en die ure se speelgenot. Daar is die spoggerige Cadillac wat perfek is na sestig jaar, die kombi met plakkers waarmee hy ‘rof’ gespeel het, maar steeds heel is al is daar skrape en duike.

Die Triang lorrie wat op die rak by die stoepdeur van ons huis  staan wat elke klein mensie wat oor ons drempel trap mee speel, ook oor die sestig jaar oud. “Indestructable” is sy naam. Ons kleine Boeta is die seuntjie wat nou aanstorm as Mielie en Jurie en Mila nog nie eens die kar uit kon klim nie.

“Tannie Erna,” sal hy gil en in my arms spring. Nat soen op die wang, en dan wriemel hy uit die lekkerte en hol deur die huis om Indestructable te deps. Vreugde.

Bab se speelgoed is ook in bokse in die stoorkamer verpak, in motbolle. Van tyd tot tyd sal sy gaan krap, iets vir iemand uithaal. Met verdrag iets weggee, meestal word alles weer weggebêre, want sy hoop om die kinder vreugdes en onthou met haare eie kind(ers) te deel. Eendag.

Dit bring my by ʼn ander eenkant wees. My kind is enkelopend. Oumaskap vir my  in die verskiet. Ons moet leer wag. Ander mense se krose se krose maak die gate in my  hart vol.

Dit is nie op jou nie my Bab, ek glo onwrikbaar dat jou lewe joune is. Dis maar deel van die lewensfase waar ek my bevind en heel subjektief, selfsugtig en emosioneel. Moenie my pakkie op jou rug laai nie.

Ek huil dikwels oor mens wat nie kindertjies wil hê nie, wat kindertjies seer maak en weggooi, en my huis staan leeg. Maar, soos ek  vir baie mense se, ek hou aan my Ouma se woorde vas, ‘laat staan en laat die Here.’

My lewe is ryk op ander maniere. My Towerin vriendinne wie se vreugdes en seer ek kan deel.  Sonder oordeel aanvaar hulle my volkome. My klein kring liefmense, die jong vroue wat my liefhet, my kroonjuweel kind en my teddiebeer Rots.

Kodakoos lê net hier agter my en snork saam met sy drie mede-bendelede. Hulle asems en klakkelose liefhê ʼn warmte om my. Ek besweer my seer en bid:

Ek is hartseer. Almal het kleinkinders. Almal sien hulself in die toekoms inloop. Maar ek….Ag Here, my Here. Is ons gene nie deel van Abraham s’n nie.? My pa was alleen. Ek en my sus is alleen. My engelkind en haar neefs is alleen. Hoe werk dit? Mense met stringe kinders en kleintjies soos hasies veg en haat en baklei, en ons het honde kleinkinders. Hoe werk dit? My DNA strikkie lyk verlep. Is ons net gemaak om ander te dien, of mag ons ook asseblief, groot asseblief vir ewig in ons nasate se ogies sien? Dankie dat ek mag kom kerm,en dat op soveel plekke U liefde vir my sien en dat die twyfel en hartseer verdwyn, want daar is soveel om my waarvoor ek dankbaar is.  Dankie vir anner oumas en oupas se twee vir-altyd kleinkinders, Boeta en Mila se mamma en pappa wat ons lief het en vir ons daardie liefdes oomblikke van Oupa en Ouma gee, onvoorwaardelik. Vergewe my wegkyk-oomblik. Vergewe dat ek my hand uit U s’n gehaal het en op my eiesinnige idees en drome konsentreer het.  My ewig is by U. Amen”

NS. En Anna Malat, my huis is vol speelgoed: Boeke, skilderye en onthougoed van ʼn lewe sonder jou. Lankal is ek nie meer kwaad oor die goed wat jy weggemaak het nie. Dit het lank gevat, maar die holte in my binneste is vol, ook jy en Bloubekruip het julle plekkie daar.

 

Ns.Ns. Hierdie is dag 8 van die #NaNoWriMo2019 uitdaging. Op dreef en onderweg na 50 000. Die skrywe staan op 13920 woorde.

Advertisements