4 November 2019.

Wat ʼn lieflike dag. Die Afrikason bak vroegoggend my uit die bed. Buite skitter die son soos ʼn gletsvrye diamant, wit en skerp. Dis ʼn nuwe dag in Suid-Afrika.

Sien, die Webb Ellis trofee kom saam met die rugby wêreld kampioene huistoe.  Ons afrigter, Rassie ErasmusSpringbokspan en speler Pieter-Steph du Toit is die Rugby World Cup Awards 2019 manne van die jaar! Die Springbokke het gewys #StrongerTogether is nie net ʼn hutsmerk slagspreuk nie, hulle het ons en die Ingelse en die wêreld  ʼn meesterklas in eenheid en saamwerk aangebied.  Dis nou lekker.

Lekkerder is dat my gedagtes en uitkyk die laaste paar weke saam met derduisende #ImStaying lede   van mor en kla en verdagmaking verander het na goeie gedagtes, goeie woorde en goeie dade.

Die toestand van ons land – korrupsie, geweld, haatspraak het my ʼn ruk gelede hierdie laat neerpen:

“Ek is so moeg van almal se bêrestories wat my almaardeur aanpraat. Dit maak my einaseer. Amper soos ʼn feesvarkie wat op ʼn blouwarm kainsplek aankom. Die feesgeleentheid lankal verby, reeds vensterbankhoogte en hopeloos te laat vir kakebeen tyd. Uitgesluit. Al die pret en gemeensaamheid verby, net krummels oor. Die woestewasie en ketaza van almal wat my tallietaks met dagrowery, vertel my alles van my herkoms is daggasleg. Dit maak my kop hoeihaai. Dis faikonta sodat Afrikaans en geskiedenis reg gepraat moet word. Is dit nodig om so vasboude te wees en aan seer en onreg vas te hou. Moet daar altyd ʼn tongslanery en gougrype wees om ons menswees in te perk. Ek wil nie moet kopslaan nie, ek wil net leef en laat leef. Is dit so baie gevra?”

Die Jeremiade het in my notaboek bly lê.Lekker dat ek nie meer so voel nie, want in Suid-Afrika sedert September 2019 is wonders aan die gebeur. 

Lekkerste die besef vanmore dat die geweeklaag in annerlike Afrikaans is net moontlik omdat hierdie taal van my hart net hier aan die suidpunt van Afrika hoort.

Dat ons dankie moet vertel aan ons Khoisan, Maleier, Xhosa, Hollandse, Franse, Ierse, Ingelse en wie weet nog voorsate.  Ons kombuistaal wat jonk en sterk is. Wat een van elf landstale in Suid-Afrika is.

Dis net hier waar almal my kan verstaan as ek aikôna, eina, koeksister, braaivleis, bobotie, gogo, nene, piesang, voertsek en faikonta sê.

Lekker-lekkerste verby is dat die woord lekker na gister se rugby sege in betekenis verbreed het. Ek lees op Letterlik die raak:

Lekker (S nw)

  • Onbeskryflike lekkerte op die punt van jou tong

  • Wanneer SA die wêreldbeker teen Engeland wen

 

Maar lekker is baie breër as dit. Lekker is ons menswees, ons samesyn, ons kosse en tradisies. Dis ʼn multi-sensoriese woord. Jy voel, ruik, proe, sien lekker.

  • Lekker as jou geliefde van baie jare jou vertel jy lyk mooi en jou in sy arms neem.
  • Lekker as die geur van beskuit deur die huis vloei en jou Ouma en Oumagroot en geslagte terug se warm omgee en sorg harte klop binne jou.
  • Lekker die malse soetheid van die eerste nektarien, of die oopbreek van die bloedrooi waatlemoen in jou mond ontplof.
  • Lekker is die braaivleis se reuk, en rose se ruik, en die son se warmte op jou kop terwyl jy in die swembad dryf.
  • Lekker is die oopmaak van ʼn splinternuwe boek, die reuk van die ink, die wete dat jy op reis gaan, sonder om ʼn voet te versit.
  • Lekker is die reuk van skoon linne, as jy doodmoeg daai laken so lig en die skoon en son omgewe jou sinne en ontvang jou moeë lyf.
  • Lekker as ‘n kleine kindjie met arms oop op jou afstorm, want jy tel as sy liefmens.
  • Lekker as jou hond jou witoog vir daardie ekstra beskuithappie wanneer jy koffie drink. Lekker as hy sy lippe smak omdat jy dit vir hom in die koffie gedoop het.
  • Lekker is die getjirp by my skryfkamer se venster as die suikerbekkies kom suikerwater soek, of die wewers, soos geel kersversierings in die witstinkhout, ongeduldig wagtend op hulle saad en meelwurm en suet bederf.
  • Lekker as die vreemdeling by die straathoek jou groet.
  • Lekker as jy vir iemand iets doen en hulle sê: “God seën jou.”
  • Lekker die warm bekeer as jy weet jou Skepper het nou net met jou gepraat.
  • Lekker om ekkerigheid en selfsug te laat gaan
  • Lekker om elkeen sy plek in die son te gun.
  • Lekker as jy sien hoe Siya Kolisi daai koppe omhoog hou en sy maters en Suid-Afrika saam juig.
  • Lekker is ons is sterker saam, lekker is dit om te sê ek bly.
  • Lekker is om te kan sê: dankie, siyabonga, thank you, ngiyathokoza, enkosi, ngiyabonga, ke a leboga, ke a leboha, ndi a livhuha en ndza khensa.
  • Lekkerder is as jy in ʼn landstaal groet en iemand glimlag breed omdat jy probeer.
  • Lekkerste  is as jy ook asseblief, goeidag en totsiens kan sê. Dis hoe ons lekker in Suid-Afrika saam kan groei.

Lekker is die wete dat lekker  se omvang nie in die elf landstale vasgevat kan word nie. Lekker is lekker en net Suid-Afrikaners sal dit verstaan.

Julle moet lekker bly, lekker rus en lekker werk die week.

Die koppie is op pad huistoe, daarom wag die lekkerste lekker gevoel ons nou .in

Ons is kampioene.

Lekker.

My bede: Lekker gaan ons saamwerk om Suid-Afrika die lekkerste plek ter wêreld vir iedermens te maak.

NS. Nou weet julle hoekom ons gesin se winkel Lekker fireplaces, braais and décor is.

NS. NS. Hierdie is my derde #NaNoMiWro2109 skryfsel. My woordtelling trek darem op 6513 woorde vir die eerste drie dae. Dankie vir die inloer.

tumblr_pynwv9HiLJ1qd8ab4o3_1280