Hallooo. Phew. Ek is sopwaternat gewoel. Hittegolferige weer en dis Vrydag, en ek wil vroeg klaarkry om luilekker oppie stoep te sit en lees, en net wees, want ek is klaar ge-NaNoWriMo! Joejoe, tweede keer, en dit was lekker en woes op die gemoed.  Het die teiken van 50 000 woorde eergister oorskry, en skryf steeds elke dag om die 30 dae teiken ook te haal.

So, kaalvoet oor die berg planmaker skop in. Staan vroeg saam met die gesin op en woel. Stoom aartappels, maak lekker kool en wortelslaai, bak beskuit, was wasgoed laat dit klap.

Ek sing in my kop “Werk julle maar dood, julle arme drommels.” Dié kom uit Bab se kleuter konsert, Zelda die lui miertjie. Bab was Zelda. Ek glimlag nou nog oor die episode.

Op vyfjarige ouderdom kry ons patroon die hoofrol in die jaarlikse konsert. Ons kry al Juliemaand die teks sodat juffer haar dialoog onder die knie kan kry. Dis nogal baie. Die storie vertel van miere wat hard werk om voorsiening vir skaars tye te maak.  Zelda het egter ander planne, sy wil gaan speel en word dan voor die koningin gebring en oorleef darem, al is sy koppig.

Ons neem my liefste skoonma, Biebs wildtuin toe. Wanneer Bab woelig raak, oefen ons konsert. Alles gaan goed, tot die miertjies sing,”Werk,werk,werk, want die winter kom. Zelda (Bab) haak af :”Werk julle maar dood julle arme bliksems.” In die teks staan …arme drommels

Die stilte in die kar is ysig, en skoonma se krom vinger tik my so op die skouer: “Dis omdat jy so pront is, dat die kind verkeerd praat.” Ons en die onderwysers  het ons dood gesukkel om die weerlig uit die kind se dialoog te hou tot net voor die konsert begin.

Die aand van die konsert neem ek vir juffer een kant en vra haar mooi om nie die b-woord te sê nie. “Mamma gaan heel voor teen die verhoog sit, en as my kind daai woord pleks van ‘drommels’ sê, haal ek jou van die verhoog af.” Sy kyk my met haar groot oë aan, ek sien die duiweltjies dans. Vanaand kruip ek weer onder stoele in.

Een jaar vantevore het die onderwyseresse vir haar en Harry haar maat in die sandput gekry, klip hard aan die sing aan “My oom se motor het ‘n ou masjien….” Hulle is opsluit in die skoolkonsert ingesluit. Die aand van die konsert is Harry met baard, kakies en kruisbande en Bab met die mooiste wit rokkie met ‘n rooi kragie en kostelike hoedjie op die verhoog. Die agtergrond musiek begin en die twee staan net so voor hulle en uitstaar. G’n noot kom uit die mondjies nie. Die juffrou por, en wat sal Bab sê: Ons wil nie.” Ag ja, die oumas sit en kyk ons twee mammas aan, dis mos immer ons skuld as die bloedjies astrant is.

Terug by Zelda, die konsert verloop vlot. Kosbaar, en die oomblik van die gewraakte sin kruip nader. Die klein klits draai so dat sy my stip in die oë kan kyk. My hart klop in my keel. Hard en luid en daai duiweltjies dansend elokeer sy:”Werk julle maar dood, julle arme……DROMMELS!” So soet glimlaggie op die rooigeverfde bekkie. Verlig was ek! Die foto hierbo is in die oomblik gekiek!

So, werk, werk want die naweek kom, sing ek met ‘n smaail!

Die lewe is lekker en dit gaan goed my gemoed.

Ns. Ek hoop Bab vergewe my vir die foto en onthou aan haar kleintyd. 

 

 

 

Advertisements