Sjoe, amper het ek nooit weer langbeen in die oggend koelte kom sit en kuier nie. Die weke sedert ons blitsig Graaff-Reinet toe en terug, was vir my gemoed net te veel.

Jinne, Johnny Clegg, Chester Williams en ander besluit dis engelvlerk tyd, net so. Ons land beleef amper sy eie lente oproer met die simpele xenofobe en die boosaardige seermakers van vroue en kinders. Die gekook en geborrel en kwaad het my empaat gemoed geheel en al ingesluk. Bloubekruip het vry rondegehol en my arme huis het maar net gekyk hoe ek loop en brom en stilbly en slaap.

En tog, kort kort was daar so glim van hoop. Die Ndlovu Jeugkoor. Daardie derduisende vroue wat saamgetrek het en vir Cyril tot praat gedwing het – sjoe en het saam begin skree.

Maar die manier wat die polisie die vroue behandel het… ag, daar val ek weer krans af. Toe is dit die ou kinnerkie wat deur haar boetie se juffrou ontvoer word. Weet nie van julle nie, maar ek het daardie nag wakker gesit en ween asof dit my bloedkind is wat weg is. Die verligting toe die Vuisboek riemtelegram sy is gevind sal ek ook lank onthou. Kyk, my gat het nie ‘n bodem gehad nie. Ons laaste onskuld is gesteel.

Dit voel vir my nou so met die terugkyk of Suid-Afrikaners se voltruis- en laertrekgedrag, bedoelende dat ek toenemend waarneem dat meeste van ons oor niks begaan raak tensy dit ons direk raak nie, lekker aan die skouer gevat en geruk is Of is ek verkeerd?

Vat aan Steve dan moer ons DSTV skottels stukkend, dreig Afrikaans dan wil ons kaalvoet die Uniegebou se trappe uitklim. Maar as goed ver gebeur of ons nie direk raak nie, ons braai en doop en gaan ons winkels toe soos altyd.

Dit het ‘n wreedaardige moord Uyinene Mwretyana  en ander op ‘n klomp jong vroue en ‘n ontvoering van ‘n sesjarige kind gevat om ons Lente opstand te bewerk. Ek is dankbaar dit het nie soos in 2011 se Arabiese Lente Opstande nie. Ek het wel besef iets is aan die ontwikkel. Ek reken baie van ons het gevoel iets grondverskuiwend is aan die gebeur.

Die laaste bittersoet selle van die jaarlemoen het my laat huil vir die bitter en seer in ons land. Vir die wantroue en haat wat gestook word. Vir blaam wat oral verplaas word. Ek was toe al snot en tranerig oor ons gebreekte land. Ek was kwaad. Wou by die president se Tuma Mina kantoor aanmeld dat hulle my na die moederskip terug na die planeet waar ek klaarblyklik vandaan kom kon neem. Ek het bitter gevoel oor ons gesin se doelbewuste trag om ten minste in ons werksfeer ‘n verskil te maak, wat nie die haat kan keer nie. Dit het gevoel niks maak saak nie en alles is tevergeefs soos die Prediker tereg sê.

Toe kom Mariann Tham se biografie oor my pad en Azille Coetzee se In my vel, en ek voel opgewonde. Ek kan nou ook soos die vroue sê ek gaan nêrens, ek bly hier. Dis my tuisland die.

Ek is verguis, gevloek in die tagtigs omdat ek saam met swart joernaliste gewerk het, ek is deur die veiligheidspolisie dopgehou, ek is as te links beskou. Maar haai, raai – kyk hier is ek nog. Die ou jammergat juk wat ek om my gehang het het ek saam met woorde soos ontheemde, vervreemde en verguisde in die Vrydagaand braaivuur gegooi.

Ek en my gesin besluit om aan te pieker met ons klein missie om binne ons mikro-gemeenskap – ons werkers en hulle gesinne, te doen wat ons kan om hulle swaarkry te verlig. Een voet voor die ander. Wonderwerke kan gebeur sê Bab so ewe vir my.

En so begin ek weer die sonskyn in die kappertjies raak te sien, en die belofte van ‘n nuwe seisoen.

‘n Vriendin nooi my so drie weke gelede om by ‘n Vuisboekgroep aan te sluit. #ImStaying.

Jarette Petzer het klaarblyklik ook deur dieselfde gevoelens gegaan en ‘n wilsbesluit geneem: Ek bly. Soos ek hier sit en relaas, is die groep al bykans 600 000 sterk. Dis net so effe meer as 1% van ons bevolking,.Dis meer as 3% van Vuisboekers in Suid-Afrika! Dis ‘n helse klomp mense wat ordentlik met mekaar is.

Dis nou vier weke later. Die groep is soos ‘n tsoenami op die Vuisboek, jy kry min ander goed te lees. Jy groet iemand in Delft, Alexandra, Durban, Mount Frere. Almal mense in die middel, tussen die verbale links en regse groeperinge van SA vasgevang.

Ek hoop as ek jou in die straat sien en ek skrou vuis in die lug #ImStaying, sal jy antwoord? Wat sal jou antwoord wees?

Dis met die hoopvolle hart wat ek vanmore met son opkoms buitentoe is om vir die voëltjies suet en meelwurms en suikerwater te gaan uitsit. Daar buite besef ek die warm sonstrale wat ek op my arm voel, voel die neushoringvoël en sy maat bo in die doringboom, voel die suikerbekkie wat nader fladder om soete verligting te kom smaak, voel die witstinkhout wat vir ons nuwe skadu maak. Besef ek daar is duisende mense wat vanmore met nuwe hoop wakker word, want ons het mekaar laat weet #I’mStaying.

Ek bid: Grote God in ons, om ons by ons altyd. Dankie Here, vir ‘n nuwe familie wat ook u sonskyn voel hier in Suid-Afrika. Lei ons op die pad wat U vir ons wil.

NS. Ek het ook my #ImStaying t-hemp en bufferplakker en klomp knopies bestel. Ek gaan dit in my handsak hou en uitdeel oral waar ek voortaan beweeg en my nuwe familie raakloop. Kom sluit aan!

Advertisements