Ek vlug van die regte wêreld na Nommer 14 Towerinstraat, Rebusfontein. Ek het stilte nodig. Pas aangeland hoor ek net hoe daar by Woordnoot se huis gesels word. “Art… exibition… Jinay…’ kom Lorenzo se stem aangesweef.

Wat is nou weer op hierdie magiese plek van die Towerinne aan die gang? Ek gryp vir GelieUnaBaliPostief, my muse-eend en ons twee en Ringo gaan loer waaroor daar so aangegaan word.

Ek kry vir Lorenzo by die meent ingehaal. “Lorenzo, whet is going on. Why are you so busy,” vra ek.

“Firefly, we haf made exibition space for you all. I invite Jinay from France to help you. You must host exibit with your art,” beduie ons latino opgewonde.

“But Lorenzo, I am not an artist, I only appreciate art…” Hy onderbreek my. “Then come show what you appreciate. Go, go Jinay she will come help you juss now.”

Woordnoot, Kameel en Toorts se mooi goed is reeds op uitstalling. Ek stap nader. My Towerin maats het voorwaar goeie smaak.

“Woordnoot, joe, die kunswerke is mooi, ek weet darem nie of ek sal kan uitstal nie,” protesteer ek.

Woordnoot lag te lekker.

“Vliegie, moenie kommer nie. Jinay het my sommer gou kortgevat toe ek oor my goed twyfel. Nogal my mooi vertel ‘beauty is in the eye of the beholder’. So niks te vrese nie. Jy kom stal uit sodat ons mooi deur jou oë kan sien,” se my mooie Towerin maat.

Ek stap terug Nommer 14 toe. Deur my oë kuns kyk. Mmm. Dit kan werk, my kunsgoete vertel maar almal ‘n storie van my lewe.

Hierdie skildery van Karien Boonzaaier is my gunsteling. Ek het al sy strorie vertel. Lees hier daaroor.
Die mooie Ina Pfeiffer engel het my begeester en bemoedig toe ek na baie jare weer by die Kankervereniging van Suid-Afrika aangesluit het en die eerste Relay for Life in Polokwane gevestig het. Sy het in my kantoor gehang. Vandag is sy deel van my ‘Ek Glo’- muur in my slaapkamer.
Ek was pas geskei in 1982, arm joernalis. Moes ‘n kunsuitstalling van die burgemeestersvrou op Bethal bywoon. Toe ek instap, lag die reuse pragwerk van George Boys vir my. Ek het dit in ses dele afbetaal, en op brood en koue water vir maande geleef . Die mooie kosmos paletwerk is deel van my lewe en slaan my asem steeds weg.
Oor Hanli Kotze se kuns sal ek moeilik uitgepraat raak. Haar woorde en kuns is my hele huis vol. Hierdie Rumi wysheid het ek ook al oor vertel. Lees hier
Ons geliefde Vallei van Verlatenheid hang ‘n muur vol in die TV-kamer. Plaaslike Polokwane kunstenaar Wessel Cronjé se kunswerk stil ons verlange na Graaff-Reinet, en is Rots se gunsteling padag geskenk.
Hierdie storie van ‘n jagtog deur ‘n Aborigine kunstenaar het ek by Uluru in Australië aangekoop, saam met klapstokkies en handgemaakte bakkies. Dit is wat die vroue gebruik as hulle dans en kos in die veld insamel. Die klip onderaan is by Uluru opgetel – heel onwettig. Ek moet die toer deur Australië nog eendag vertel. Dankie tog ‘beauty is in the eye of the beholder.’
Rots en ek het hierdie graskuns op straat in Bulawayo gekoop vir Z$2 gekoop! Dis vir my baie spesiaal en die fyn werk op die rokke en die skewe vierkante vertel van tyd wat spandeer is om die lewe uit te beeld. Ons gunsteling kunsgalery in Polokwane Eloff Gallery het hulle so mooi geraam en agter glas vir altyd bewaar.

Die skilderye hierbo is deur Chris Gouws(RIV), my boesemvriendin van baie jare, Christina se talentvolle pa. Die swart en wit kunswerk het hy al op Universiteit vir my gegee omdat ek dadelik hulle gesin, Ma, pa drie kinder en hond en kat raakgesien het! Die sonneblomme, my mater se gunsteling het sy eendag toe ons met vakansie in die Kaap by hulle gaan kuier het van haar muur afgehaal omdat sy vir my lief is! Later jare het sy vir my die Namibië muse gestuur en toe ek verlede jaar 60 word, het sy my verras met twee van Oom Chris se Graaff-Reinet landskappe. Skatryk is ek aan liefde bederf.

Lidi de Waal se Varkievrou hang al sedert 2016 in my skryfkamer, saam met haar gedig:

Varkievrou

van lank lank gelede af sê mense
die vrou se varkies is nie almal op hok nie
maar ag wat mens kry mos verskillende kopvarkies
jy kry die makkes 
die linkerbreinvarkies
wat netjies in gelid bly
die ordentlikes wat hulle nie maklik laat bewolf nie of bevark nie
wat mooitjies in netjiese hokkies pas
en dan ai tog lo and behold
kry jy die malles
die regterbreinvarkies
dis nie varkies wat jy aldag kan voorsê nie
of inhok nie
daais is die next level shit varkies
die weirdvarkies die vliegvarkies
die artvarkies
mettertyd kom jy agter 
dis beter om hulle op hul eie manier te laat operate
want dan kan hulle vir jou die hemel op ń skinkbord bring
hulle kan eentonige middelmatigheid omtoor in voortreflike uitnemendheid met pers en groen kolletjies op
en soms (rerig erig sonder dat jy dit so gewou het)
kerjakker van jou varkies bietjies te uitbundig rond
en trap hulle op iemand se tone
of pee teen iemand se heilige bome
maar op die ou end moet jy al jou varkies net onvoorwaardelik liefhê
en koester
want jou varkies…is jou varkies

Lidi de Waal 2016

Hierdie gips reliëf bord het in my oumagroot se huis gehang. Sy was bitter kwaai en kinders moes stil wees as grootmense praat. Ek kan nou nog onthou hoe ek as sesjarige maar stil op die lappiesvlegmat gesit het en vir myself stories opgemaak het oor die mense wat in die huisie woon. Dis donkiejare oud en hang in my gang – deel van my storie.

My man kla maar elke dag oor die huis se mure tjok en blok vol hang aan skilderye. My nuutste is baie spesiaal. My eie sussie, Deirdré Joubert, wat super kunstig is, het my bederf. Riekie die vrolike kameelperd my gunsteling by uitstek, en dan haar kleinkuns van lank gelede wat ons ouers se weggaan uit ons lewens uitbeeld.

Nou gaan ek stop, arme Jinay het nou net gillend straat af gehardloop. “Too much, too much…”

Julle moet maar besluit wat uitstalwaardig is.

———-

Hierdie is ‘n denkbeeldige kunsuitstalling en elke Towerin word gedaag om haar unieke kuns (hetsy self gemaak of sommer net self gelief) te kom uitstal! Die In-linkz skakel is: https://fresh.inlinkz.com/p/ea9c1f40af104092b8ababac55311c85

Advertisements