Creator:sdominick
Credit:Getty Images/iStockphoto

Vele van ons klomp hier in Blogland is bejaarde baby-boomers. Daai geslag wat in Suid-Afrika met die bevoorregte lepeltjie in die mond gebore is. Nee, wag, moet nou nie jou alie in ‘n krul trek nie. Ek bedoel, ons is bejaardes, pas-afgetredenes, hopelik met geldjies in die bank, ‘n aftreehuisie, genoeg om van te leef. Ek dink vir vroue uit die eras is dit ‘n makliker tydperk, as vir ouer wordende mans.

Sien, mans is geneig om voor ons om te kap. Statistiek sê so.
“In fact, most men live out their lives as part of a married couple. Most women do not. For women, the average length of widowhood is fifteen years. At the age of eighty-four years, 62 percent of men are still married, but only 20 percent of women are married,” het ek onlangs iewers gelees.

Nou behalwe dat die realiteite van weduwee- of wewenaarskap moontlik sy kop uitsteek hier in die goue jare, is daar ‘n ander ding wat vir my soveel erger is. Daai man-en-vrou-verhouding knak. Vir botter of wors raak wurgpatat erg. Dis oorlog. Mense kry seer.

Jy kry mense wat nie hulle O,fok my tyd raak op, en ek het onafgehandelde sake -pakkie wil oopmaak en beskou en hanteer nie. Nee, sulke lafaards kies om sommer die pakkie vir liefie aan te gee. Skielik is liefie van meer as 40 jaar die hond in die huis. Die sondevreter.

Ken julle die storie van die sondevreter? Ek het die boek jare gelede gelees. The Last Sineater is sy naam. Francine Rivers het dit geskrywe.

Dit gaan oor mense in ‘n geslote gemeenskap in die Berge iewers in Amerika, van Walliese oorsprong. Hulle het Amerika toe gekom en hulle gewoontes, gelowe en bygelowe behou. Dit werk by hulle so: Daar word iemand in die gemeenskap per loting gekies om as banneling buite die gemeenskap te bly. Wanneer iemand in die groep sterf, kom die Sineater na die lyk en asem letterlik die persoon se sondes in, sodat die persoon in vrede en sonde vry die ewigheid kan is. Rêrig. Dis die storie. So jy kon maar vrou slaan, vark wees of wat ook al – as jy doodgaan kom die Sineater en neem jou sondes oor. Hoe vreeslik.

Ons het ‘n Sonde-eter. Hy het reeds 2000 jaar gelede vir ons almal se sondes gesterf. Jy moet dit aanvaar en glo. Jy moet jou trollie met moeilikheid by Sy voete parkeer, hulle een vir een uitpak, en as jy daar klaar rapella het, dan is jou gisters verby, vergete. Dis nou by God, danksy Jesus se offer.

Die ding staan nou so. Wat nou as iemand sy pakkies so diep in sy hart begrawe dat nie eens Jesus se offer saak maak nie? Wat as so persoon sy trollie aan iemand anders s’n vashaak. Dis hartverskeurend wat die gevolge is.

Dit is wanneer huwelikke van jare skielik verby is, wanneer families in sak en as gaan sit, want een persoon of twee het nie die moed om te erken dat dit eie binnewerk is wat die probleem is, en nie die ander persoon se foute nie?

‘n Huwelik het konstante sorg nodig. Die sorg en toewyding wat jy aan ouerskap, ‘n beroep, selfs stokperdjie toesê, jou huweliksverhouding moet meer as dubbeld die toewyding kry. Ons mag mekaar nie as vanselfsprekend beskou nie. Ons moet onthou wat ons voor die kansel beloof het.

Of jy nou glo of nie, vergifnis is ‘n sleutel tot goeie verhoudings. Jy het jou goed, ek myne. Ons is almal mense en derhalwe is ons almal vol duike en knoppe en skrape van foute en misstappe. Nie een van ons staan vlekkeloos nie. Nie een nie.

‘n Verhouding wat skipbreuk ly, is nie skielik oornag op die rotse en middeldeur nie. Ek lees iewers dit eerder soos ‘n band met ‘n stadige lek, jy gaan aan en aan en aan, en skielik kan jy nie verder nie.

Is daar kits-oplossings? Nee. Maar daar is strategieë wat kan help om oor die ouer verhouding in die moeilikheid hobbel te kom.

  • Ons moet soos daar geskrywe staan, ons lewe vir ons vriend aflê – dis dan met wie jy trou. Jou vriend vir lewe. Die aflê aan self is wederkerig. Albei moet hierdie as sy en haar leuse beskou. Nee, nie leuse nie, Goddelike opdrag.
  • Die tweede ding is om I Korinthiërs 13 te vat, jou man en jou se naam invul, oral waar “ek” en “liefde” staan. Dit lees hard as jy dit so persoonlik maak. Gaan doen die oefening en lees en lees en sien en verstaan. Laat jou eggenoot dieselfde doen. Kies liefde, kies julle twee.
  • Behalwe jou verhouding met God, is jou huwelik die tweede op die lys. Nie die kinders of kleinkinders nie. Julle twee.
  • Dis nie te laat om van voor te begin nie. Vertel mekaar waarom jy hom of haar destyds gekies het.
  • Bid vir mekaar, bid saam
  • As jy nie anders kan nie, sien ‘n berader. Sodat iemand onpartydig saam al die jakkalse kan staan maak en dan help om hulle weggejaag te kry.
  • Verander gewoontes, breek die roetine. Dis moeilik, maar alleen deur deur dinge te werk, kan mens rêrig die hele prentjie sien, en dan ‘n nugter besluit neem.

Moet hierdie grappie deel wat ek raak gelees het

Patient: “Doctor, it hurts when I do that…”

Doctor: “Well, don’t do that anymore.”

Rots en ekke glo ons 35 jaar saam werk omdat ons beurte maak om sterk te wees, voor te loop, moed in te praat. Dan geniet ‘n mens die saamwees en sorgvrye tye net meer. Soos die Prediker wyslik skrywe:

Twee is beter as een

9 Twee is beter as een. Saam bereik hulle meer in hulle werk. 10 As een mens val,kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is,is daar niemand om hom op te help nie. 11 As twee langs mekaar slaap,word hulle warm.Maar hoe kan een wat alleen is,warm word? 12 Iemand kan die een aanval,maar die twee kan weerstand bied.’n Driedubbele tou breek nie maklik nie.

Prediker 4:9-12

Ten slotte, ons kanse om ouer as oud te word is groot. Lees wat die toekoms vir ons inhou en maak werk van al die jakkalse en twak wat maak dat ons ouer word jare ‘n suur affêre word.

Ons is mos mooi groot, of hoe?