En so word ek weer vanoggend lekker met ‘n blinde sambok gewiks. Laat ek vertel.

Ek loop al weke met ‘n sak vol twyfel en onrus. Ek is erg beteuterd en beneuk toe ek hier kom sit en skrywe. Ja, ekke wat so baie graag van God en Sy goedheid skrywe en vertel.

Ek voel geboelie, maar nie ek alleen nie. Dana Snyman het net so week of wat op sy Vuisboek geskrywe oor Sondagmiddag Blues, en gewonder oor die tendens dat ander gedurig hulle opinie, sekerhede en wil op mens wil afdwing. Ander se narratief en agenda is wat tel.

So skrywe Dana:”Dit voel deesdae of al hoe meer mense wil he jy moet dink wat hulle dink en glo wat hulle glo. Doen jy dit nie, boelie hulle jou op allerhande maniere – veral hier op Facebook en ander internet-plekke. Is daar nog genoeg respek vir verantwoordelike vraagstelling en twyfel in die wêreld? Soveel mense sien dit as ‘n soort swakheid… Hulle besef nie te veel sekerhede kan jou wreed maak nie.”

Die Joodse digter, Yehuda Amichai se gedig hierbo , wat Dana ook #ToeValLig in sy skrywe noem, vertel hoe sleg sekerheid van opinie en en reken jy is reg en ander verkeerd, vir die mensdom is.

Ek sit en wonder hoe is dit dat ons almal ‘n verhouding het, kinders daaruit gebore word, dat ons almal lag, huil, voel, dat ons op soveel mens vlakke ooreenkom, maar dat ons as gevolg van opinies oor ras, ‘n landsgrens, politieke mening, rykdom, sosiale stand en eie belang so liederlik teenoor mekaar kan optree.

Miskien is dit tyd dat ons met minder sekerheid van opinie ‘n nederige houding inneem en die respek wat ons vir onsself wil toeëien, doodeenvoudig teenoor die ou aan die anderkant van die tafel bewys.

Danksy Dana se skrywe leer ek vir Richard Holloway ken. Die emeritus hoof van die Kerk in Skotland praat so na my hart.

Ons moet ons oortuiging dat ons al die antwoorde het opsy skuif. In liefde(dis tog wat Jesus ons kom leer het) en onsekerheid (omdat ons nie regtig weet wat alles beteken nie veral die lewe hier op die ondermaanse) leer saamleef.

Rubriek skrywer Parker J Palmer skryf: “Many of us who differ politically love the same things — our children and grandchildren, our country, the natural world. Many of us who differ politically harbour the same doubts — that what’s being done (or not done) to care for the things we love is the best or the right thing to do. Yes, we differ on what ought to be done. But what if instead of starting by arguing over solutions — over “the place where we are right” — we began by sharing our loves and doubts? I suspect that our political conversations would be much more productive because they would proceed from common ground.”

Liefde en twyfel. Pleks van woede en haat aangespoor deur skeefgetrekte alwetendheid.

Ek voel geboelie deur die ras kaart wat links en regs van die spektrum gespeel word. Kyk hoe gaan die EFF, DA, ANC, BLF en Afriforum tekere. Dis vir my erg dat klein groepe politieke opruiers so vreeslik luid blaf en soveel aandag kry. Dit pynig my dat ‘n magtige organisasie die speletjies speel om weg te steek hoe korrupsie-kanker deurdrenk die organisasie en regering is. Hoe gebreek is ons land en sy politici. As liefde, én twyfel in ons alvermoë, net sal vorentoe tree.

Ek voel geboelie deur media huise wat ‘n sekere narratief kies en klakkeloos volg. Van gebalanseerde verslaggewing het, danksy sosiale media wat van mense joernalis/regter/laksman (lees bang, gillende trolle), en sirkulêre verspreiding van vals nuus, byna niks oorgebly nie. Daar is nie swart en wit meer in nuus nie. Daar is meer as 50 skakerings van grys wat as waarheid verkwansel word. Almal het destyds op Huffington Post SA se kop afgespring oor verspreiding van vals nuus. Nou word almal aldag ‘n streep getrek deur onbevestigde bronne, nie uitklaring en seker maak van die hele storie en feite nie. Daar word nie meer opvolg stories geskrywe nie. Onthou julle toe wie, wat, waar, wanneer en hoekom in nuus beantwoord was?

Ek voel geboelie deur mense in die algemeen. Ek sit met iemand wat nie sy woord nakom nie. Die rekening hoop op. Toe ek die saak opper, sal hy my antwoord dat hy aandag sal gee, as dit of dat of die volgende eers in sy lewe gebeur. My goeie fok. Wat van my kant van die saak?

Iemand anders is so verstrengel aan sy kant van die saak, dat dit glad nie saak maak wat die gevolge vir ons is nie. ‘n Ander persoon is na jare se vriendskap kwaad omdat sy agenda nie seëvier het nie, en ons is die vark in die storie gemaak.

Solank eiebelang so bly wen, wil ek maar liewer by my huis met my vier honde kinders bly. Hulle narratief van onvoorwaardelike liefde kan ek mee saamleef.

Ek voel geboelie deur mensgemaakte goed.

Skielik besef ek met ‘n bliksemslag: Ek sélf het baie werk om te doen. Want sien, baie mense is aan die ontvang kant van my oortuigings en sekerhede.

Soos Rumi sê: Out beyond ideas of wrongdoing and rightdoing there is a field. I’ll meet you there. When the soul lies down in that grass, the world is too full to talk about.

Ek gaan my skaamkwaad en seer en onseker vat na die Bron van alle liefde. By my Pa se voete neersit. En dan gaan ek met liefde en die wete dat ek nie al die antwoorde het nie, die hardheid in die wêreld om my probeer sagter maak. By my Pa se voete.

Here, help my. Ek is so stiksienig, ek is ook maar die boelie. Vergewe my. Breek my hart oop om plek te maak vir liefde en net een sekerheid: U hou die plan in U hande. Amen.

Advertisements