My rotse bymekaar. Agter is Uluru in sy magiese rooi skoonheid en in die toerwa sit my eie Rots!

Dankie Scrapy dat jy my ook op onthoupaaie laat stap het met jou Wasdag uitdagings. My avontuur en gesondheid hou verband met mekaar. (Dis ‘n langerige relaas, so maak ‘n koppie tee wyl die wasgoed wapper.)

My avontuur begin reeds oop sesjarige ouderdom. Agter in ons gradeklas in die skool in Piggs Peak in Swaziland het die leeskas gestaan. As jy mooi ge-‘yes’ en ‘one, two,three’ het, en Mrs Cannonbal (Haar van was eintlik Campbell, maar mensig, sy was ‘n vreesaanjaende vrou) was tevrede met jou werk, kon jy ‘n boek kies en dan lees. Ek het my jis afgewerk om net by daai kas te kon uitkom!

Daar was die mooiste prenteboek oor kinders van die Australiese Outback en woestyn. Ek was betotterd dat hulle skool die “School of the Air’ was. Plaas kinder op verafgeleë plase het daagliks oor die radio ingeskakel om skool te gaan. Ek het gedink dit is wonderlik. Daar het ek ook die Aborigine mense, tradisies en gewoontes en Uluru (of Ayres Rock soos dit toe bekend was) ontdek. Ek het met my neus in daardie boek gesit vir ure en myself belowe dat ek eendag self Uluru sal besoek.

My gunsteling Sufi wysgeer, Rumi se nie verniet “wat jy soek, soek ook na jou nie.

Rots wen in 2004 ‘n verkoopsprys by die kunsmis maatskappy waarvan hy agent was. Dis 10 dae Australië toe na die Australiese Goue Kus in Brisbane se omtes. Die man van my gaan en onderhandel dat die koste van die enkel retoerkaaartjie en die 10 dae se vyfster verblyf aan hom uitbetaal word en ons beplan ‘n epiese 14 dae toer deur Australië. Ons het in die tyd 17 000 km per toerwa en danksy vliegtuie kon af lê.

Ons is met $15, ons kredietkaarte en 19kg bagasie elk deur die hekke by die internasionale vertreksaal in by OR Tambo. Ons vlug vertraag deur die Queensland Reds rugbyspan.

‘n Jong kleurling man sit langs my en hy is klakkeloos verheug toe hy hoor die oom en tannie praat Afrikaans. Hy was onderweg Nieu-Seeland toe om beter geleenthede vir hom en sy jong gesin te vestig. Sy trane blink in sy oë en dik in sy keel. Ek en hy het sommer lekker gekuier, want slaap die kon ons nie. Rots het soos ‘n baba soet geslaap.

Die vlug was lekker rukkerig. Toe ons na 18 ure land in Sydney, was ons maar te bly. Huil natuurlik snot en trane toe ons ons vriend moet groet want hy bly in internasionaal onderweg Auckland toe, en ons moet hol, want ons name word geroep om die skakelvlug Melbourne toe te haal.

Rots het grondbone bo in my handsak gegooi, en daar het ek ‘n rel met die inspekteurs. Amper moeilikheid gehad, en die grondbone net daar in ‘n asblik gesmyt. Ons het die vlug net betyds gehaal en net so voor nege die aand land ons in Melbourne waar ‘n verteenwoordiger van die maatskappy ons geduldig inwag.

Ons avontuur het sommer dadelik begin. Ons het ons tasse in ons kamer gaan bêre en is dadelik strate toe – kitsbank, kos en selfoon ons doelwit. So betree ons elfuur die nag Melbourne se strate. Knyp-knyp, want jy weet mos Suid-Afrikaners en diewens…

Man, waar was julle toe Rots daai Nedbank kredietkaart in die OTM druk, sy PIN insleutel en daar kom Aussie dollar by die ding se bek uit. Ek skater elke keer vir die ongeloof-verligting wat ons daar ervaar het. En die MacDonalds wat net soos by die huis proe. En die Afrikaanse vrou en haar seun by die robot – wat ‘n toeval. Ons het ‘n kroeg besoek en dit was soos ‘n 70s tydkapsule – die dekor en die musiek.

Na ons die volgende dag formaliteite afgehandel het deur die maatskappy wat die kunsmis vervaardig se aanleg te gaan besoek, het ons Aussie avontuur werklik begin.

Ons het laatmiddag vlug Alice Springs toe gehaal. Ons gou besef Austalië is so groot soos die VSA. Ek lieg nie, ons het bykans ‘n uur oor een soutpan gevlieg in hulle woestyn, of middel-aarde soos ek dit noem. Massief en uitgestrek. In Alice Springs het ons ons eerste kampwa gehuur. Die park waar ons gaan slaapplek soek het so,so netjies en skoon. Ons het te heerlik gerus en al die vlieg uit ons gebeentes gekry en voorberei vir ‘n rit van byna 600km suid, ja waar ons sopas noord gevlieg het, moes ons weer suid om by Uluru uit te kom. Dit was die beste 1200km heen en weer in my lewe!

Hier is iets magies by hierdie massiewe rots, 300m hoog en waarvan 80 persent onder die grond is, en jy 1,8km reis rondom hom. Mens se selle bewe, want jy weet ons Skepper en sy Skepping praat hier met jou. Dis soos die sonsopkoms oor die Visrivier Canyon. Groots.

Ek gaps hier ‘n klippie en kom later agter dat dit heel onwettig is. Gits, ek tel oral klippe op, maar kan verstaan as elke besoeker nou by Uluru klip optel of uitkap, sal daar binnekort niks wees nie. Ek is kinderlik verheug dat mense van 27 Oktober 2019, dis sommer netnou, nie meer die klip mag beklouter nie. Dis rêrig meer as ‘n klip en uitsig. Dis heilig, my gene het my vertel. my klippie is summier tussen snesies en sanitêreware versteek en is in die eie Aborigine kuns samestelling verewig. Moenie vir die Aussies vertel nie!

Die res van ons reis is vol onthoue.

Hoe ons lekker knus binne ons kampeerwa ge-ontbyt het, sans die massa Australiese vlieë. Ag julle die bus vol Japanese toeriste wat soos ‘n waaiende sekte hulle broodjies probeer eet het. Ek skater nou nog. O ja, en die twee kinders wat naby ‘n uitkykpunt in die bloedige son en sand en omring deur vlieë, probeer mediteer het. Jy weet daai Ohm-ohm. Vrek, Rots en ek het maar liewer gery! Dis lekkerder om in die lug-versorgde wa boeke te vat! Ons kon immers konsentreer! Hehe.

Hoe ons byna ‘n vliegtuig kus toe verpas omdat ons bagasie te veel raak en ons ‘n duur Nike rugsak in ‘n winkel aankoop sonder om te kyk wat dit kos. Die sak vergesel ons gelukkig vandag nog. Noem dit ‘n reis belegging.

Toe ons in Cairns aankom laai ‘n verroeste minibus ons op. Don’t worry van Bob Marley effek. Rasta, daggaroker met so lui glimlag verseker ons ons is op die regte bus. Ons beland in ‘n jeughostel – twee middeljariges. Rots het al ons besprekings via die internet gedoen.

Die pragtige jongmense ontruim dadelik ‘n en suite kamer van een van die personeel vir die oom en tannie. Ons is met ons ete koepons die aand na die eetplek en het heerlik jazz kon luister op die stadsplein voor ons lekker gaan slaap het. Ons was verstom hoe mense hulle inkopies neersit en dans, sonder dat iemand jou goed wil gaps!

Van Cairn reis ons via die Outback 3 700 km suid na Sydney. Wat ‘n belewenis.

Ons sien die mooiste dorpe en ag die kerke!

Ons ontmoet vir Balie Swart,’n foksterriër, in die middel van nêrens en êrens. Hy is laaste gebore uit ‘n werpsel, en sy baas se vrou het nie gedink hy sal oorleef nie. Toe troos die man sy vrou deur haar te vertel hy is so taai soos Springbok rugbyspeler Balie Swart! Nou ja toe!

Ons sien ‘honesty boxes’ waar kleingeld in is en jy self dit moet uittel, want niemand kan die groente te koop heeldag oppas nie! Daar is werk om te doen.

Ons beleef gulheid en gasvryheid.

Ek lag elke winter te lekker as Pieter sy Australiese blokkies flennie hempie (made in China) uit die kas haal. Dis aangekoop op die dorp hoogste bo seespieël in die mooiste winkel wat uit die 1800s dateer.

Die troppe beeste wat deur blondekop meisiekinders op perde aangeja word, die skoon strate en mooi dorpe. Dit is asemrowend mooi.

In Longreach, Queensland se hoofdorp en tuiste van Quantas lugredery staan Rots my so en kyk. “As ons ‘n agste van hierdie in Suid-Afrika voel, koop ons daar huis,” spreek hy profetiese woorde. ‘n Jaar later koop ons Stokkies 12 in Graaff-Reinet!

Ons onthouboks is propvol onthou en goeie tye.

Om nou by Scrapy se wasgoed uithang oor gesondheid te kom. Ons spandeer bykans drie weke in Down Under. Vry en sorgeloos. Klim op ‘n vliegtuig wat leeg is terug huistoe. Elkeen drie sitplekke se spasie. Ons geniet ons gate uit.

Kom uitgerus en houtgerus op OR Tambo aan. Pas terug deur die doeane, wil ons draai gaan loop. By die toilette breek ‘n gegil los. ‘n sakkeroller het iemand se bagasie gegryp. My nekspiere trek op ‘n bondel. Ons tref laatmiddag spits in ‘n haelstorm. Reis met twee noue-ontkomings op die N1 Noord Polokwane toe. Draai met ‘n hoofpyn uit die hel by die dorpshuis in. Die is omhein met elektriese draad en hoë mure en diefwering.

Ek ontwikkel die nag ‘n kouekoors van formaat, en Rots vat y die volgende dag dokter toe. Hy hoor van ons reis, en al wat sy diagnose is is “welkom terug in Suid-Afrika.” Ja, ons het te veel ontspan en te gou in die woel waters van ons land terug gespring. Na so week was ek weer die kolletjie op my maag gewoond en tuis!

Die foto beeld hierbo vertel van Nemo in Townsville se akwarium, Loftus straat in Sydney, die treurigeheid van die moderne Aborigines, die verskriklike Aussie ‘Road Trains’, die mooie kus by Cairns, inry drankwinkels, mooi parke, natuurskoon, landmerke.

Kom kuier, dan pak ek die hele onthouboks vir jou uit. Dis goed vir die gesondheid, so uitpak onthou!

Advertisements