Oor A star is Born wil ek relaas. Kyk, Lady Gaga sonder foefies, mag maar. Bradley Cooper is ‘n puik akteur. Maar ai, ek kon nie ophou om hulle weergawe met die 1976 A Star is Born te vergelyk nie.

Ek dink dit is omdat formidabele Joan Didion, ‘n ikoniese skrywer in my boek, by die 1976 weergawe betrokke was. ‘n Storie van substansie wat liries en mooi vertel is. Kris Kristofferson met daai fletsblou oge as John Norman Howard en Barbara Streisand se Ester Williams was destyds pure fliek towerkuns. Was dit die musiek, of omdat ek toe nog jonk was en sterre in my oë gehad het oor die liefde en lewe in die algemeen?

Het jy geweet, daar is vyf weergawes van die storie! Die eerste weergawe in 1937 waar Janet Gaynor die rol van Esther Blodgett vertolk, en wanneer roem aanklop verander haar naam na Vicki Lester. Judy Garland se karakter het dieselfde name in die 1954 weergawe. Barabara Streisand se 1976 karakter is Esther Hofmann en in 2018 is Lady Gaga, Ally.

In die onderskeie weergawes van A Star is Born is daar ook speling in die name van die manlike hoofrol. Die 1937 en 1967 flieks vertel van Norman Maine, en in 2108 vertolk Bradley Cooper die rol van Jackson Maine. Kris Kristofferson speel John Norman Howard. Norman Maine was volgen die vervaardigers nie Rock’nRoll genoeg nie!

Doer ver terug in Hollywood se 1930 toe swart en wit stil flieks doodgeloop het, en volkleur talkies ‘talkies’ en rondborstige blondines die rolprent skerms begin vul het, het ‘n paar groot name gestruikel. Dis daar lank terug toe vroue nog met voorskote voor die stoof smiddae vir pappie sy pantoffels aangetrek het en hom in vrede die koerant laat lees het. Ja, selfs vroue wat as filmsterre geag is, het die gedrag openbaar! En dis net hier waar die storie idee wat nou al vyf keer sedertdien oorvertel is, sy beslag kry.

Die eerste weergawe was “What Price Hollywood?” gegrond op ‘n tydskrif artikel deur verslaggewer en draaiboekskrywer, Adela Rogers St. Johns (Haar kruidenierwinkel afleweraar was ‘n jeugdige Richard Nixon!)

Haar verhaal handel oor Mary Evans, ‘n kelnerin wat deur ‘n talentvolle regisseur ontdek word. Sy vind roem, trou met ‘n polo ster en die huwelik knak onder die Hollywood leefstyl. Haar mentor se lewe ontspoor ook en hy kom soek by haar toevlug.

Sy laaste woorde voor hy selfmoord pleeg: “Mary, I just wanted to hear you speak again, that’s all,” eggo in een of ander variasie op die tema deur elke weergawe van A Star is Born. ‘n Voorbode wat die lot van die mentor verseël en die ongelukkige einde verseker.

Die opkomende ster en tanende roem van haar mentor wat sentraal staan in al die weergawes van ‘n star is Born is op die lewens van stilfliek ster Coleen Moore, en haar man, John McCormick, ‘n grootbaas van First Natioanal Pictures gegrond. Sy het opgang gemaak en hy het in dronkenskap verval. Sy moes selfs verskoning by die werk vir hom aanbied om sy bas te probeer red. Die verhouding het in egskeiding geëindig.

David O Selznic het destyds to hy aan “What Price Hollywood” geskaaf het, oral om hom mense vir idees gevra om treffer tonele te verseker. So het ‘n man se besoek aan alkoholis akteur John Barrymore (ja, Drew Barrymore se oupa) ‘n ongelooflike toneel help skep.

Die grondslag van die verhaal is egter grootliks baseer op Barbara Stanwyck se huwelik met Frank Fey ‘n Broadway ster van die 1920s. Jy sal haar onthou as Mary Carson in The Thorn Birds, en Constance Colby in The Colbys wat ons in die 80s gekyk het. Haar eerste fliek is in 1929 verfilm, sy is in 1990 oorlede)

Sy alkoholisme het haar gedwing om dikwels self saam met hom op verhoog te verskyn omdat hy so beskonke was, dat hy nie self kon regop staan nie. “I am Mrs.Frank Fey,” het sy altyd by verslaggewers aangedring. So eggo die woorde deur al die flieks.

Die 1954 weergawe van A Star is Born met Judy Garland is omskep in ‘n musikale weergawe om haar sangtalent te benut. Wat nie algemeen bekend is nie is hoe die verhaal se tragiek in haar persoonlike lewe uitgespeel het.

Hierdie sou haar groot terugkeer na die silwerdoek wees vir die 32-jarige Garland. Sy het toe al met dwelms en drank gespartel en haar loopbaan daardeur verwoes. Baie soos die manlike karakter in die fliek. Ironies. Dit was haar laaste fliek van belang en sy sou as reisende kunstenaar en TV ster ‘n bestaan maak tot sy op 47 sterf aan ‘n oordosis.

Noudat ek lees van vyf weergawes van die vergane flonkerende ster wat ‘n nuwe enetjie ‘ontdek’ en sy voortbestaan is alleenlik te danke aan haar opkomende roem dink ek, siestog. Is daar geen nuwe stories nie, selfs nie noudat vroue en mans na al die bra-verbranding en protes kamtig ewemense is nie? Pfft.

As ek nou Bradley Cooper en Lady Gaga was – het ek die rolle geruil in die 2019 weergawe van ‘n Star is Born. Die nuwe A Star is Born storie sal Judy Garland en Whitney Houston en Amy Winehouse se tragiese lewens as basis gebruik.

Want sien of jy man is of vrou – roem is vlietend en sterre brand soos Haley se komeet kort, kragtig en verskietend uit. Maar tye het verander, en miskien moet ons die storie anders begin vertel.

Barbara Streisand is verguis vir haar weergawe in 1976, ten spyte dat dit ‘n loket treffer was en toekennings gewen het! Chauvinisme? Sy het gemeen die story tema is tydloos. “Stardom can be fleeting…There’s always someone new coming up to displace you.”

Soos die Ingelse tereg sê:”The more things change, the more they stay the same,” of hoe? Hollywood dra maar swaar aan sy eie storie en die vervlietende wese van roem. Die dat dieselfde tragiese storie oor en oor vertel word.

Varsgebak, oorbak of uitgebak? Wat dink jy?

NS. Ek het die nuutste weergawe geniet, maar ai, daai blouoog baardman van 1976 – hy bly my gunsteling vervalle ou. En Barbara Streisand – ek het maar nog altyd van haar gehou, want sy het ten spyte van wat die opinie was, in haar eie talent bly glo. Ek hou maar van vegters en oorwinnaars.

Advertisements