Wagtend

So skuins na 14h00, begin ons reis van Port Elizabeth na Graaff-Reinet in die gewraakte Ford. Dis Bab se eerste blik op die stad en omgewing. Sy merk tereg op dat Atholl Trollip se stadsraad dit darem mooi netjies om die lughawe en strandfront onderhou.

Ons ry slinger- slinger op die snelweg, uit na die buitewyke. Borde wink: Coega, Uitenhage. Skielik is dit huisie op huisie, en draadheinings met rommel getooi. Die vriendelike stad se wind warrel en strooi gemors hier waar swaarkry woon.

Bab se hoekom is moeilik om te antwoord. Oplossings en redes te veel en te vol politiek en geskiedenis. Ons ry stil verby. ‘n Demper op ons opgewondenheid om by ons hartsbestemming uit te kom.

Bab se hande kom van agter en sy druk ons skouers. “Ons is bevoorreg.” Voorwaar ja, ons is.

Ons laat die stad en snelweg agter, en gou is dit koedoekos, turksvye, spekbome en aalwyne wat in die veld hul plek volstaan.

Die aalwyne staan kierts vol in die blom. Wagte met bloedrooi fakkels teen die ysblou lug. Dit lyk of hulle wagstaan om beeste, angorabokke en skaap oral rondgestippel op te pas. Wagtende herders.

Rots word hier van agter gevra om tog stadiger te ry, want kyk die wolke en die windpomp aan die draai teen die blouselblou hemel. My kind kiek, en kiek en lag en sê dis mooi hier.

Ons ry en die landskap raak wyer, groter en mens sien vêr. Daar amper vir altyd vêr staan Pierneefberge in reliëf. Dit lyk of hulle uitgesny is en op die horison staangemaak is. Blou, donkerblou, diep pers, grys en swart. “Al lê die berge nog so blou,” sing ek en my liefies lag mieliepit mooi. Ons vertel vir Bab dat dit nou die vir-ewigberge is waarvan ons so baie praat.

Die son sal laer en giet goud oor die Karooveld. Sting kom melodie in my kop ‘Fields of gold.” ‘n Geluksalige vredigheid kom oor my.

“Ma, lyk so anders,” sê my kind. Hierdie geweste toor my en dop my om. Dis die reine waarheid. Ek voel hier die naaste aan my eie self. My grootste geskenk is dat dieselfde met my Rots gebeur. Sy kyk raak sag en die plooitjies om sy oë kreukel van lag.

“Ek verstaan nou,” sê Bab. “Dis so oop en gestroop. Dis hoe ons harte en lewens voor God moet wees.” Stil tuur ons drie oor die Karoolandskap.

Ons is bevoorreg, Here. Dankie vir ons lieflike kind wat ons lewe so verryk. ‘n wyse, sagte, meelewende en mooi vrou. Dankie, dankie, sing my hart.

Ons draai net na vyf Graaff-Reinet in. Rots stop by sy gunsteling slaghuis en kom minute later terug met die tradisionele karootjop en Graaff-Reinet se smullekker dun braaiwors.

Gou is ons tuis, by Stokkies se woonstel. Knus neffens Great Expectations ons eie persoonlike stukkie Camdeboo. Op die transportakte is oor meer as 130 jaar vyf vorige eienaars gelys. Nou is dit ons beurt. Ons is bevoorreg.

Ons huurhuis staan net langsaan. Longreach, sy naam. Al vir tien jaar bly ons harte hier. Outback is die woonstel se naam. Van waar die Aussie name?

Ons het lank gelede deur Australië se Outback getoer. Longreach hie hoofdorp was waar Rots en ek besluit het, dat as ons enigsins, selfs so min as 4/10 van die mooi plek se atmosfeer en netheid op enige plek in Suid- Afrika kry, ons net daar, en nêrens anders, huis sou koop. Basta met logistiek of logika. Ons woon meer as dertien uur noord van ons huisies. Al vir lank.

Outback (die woonstel) se deur is so vyf meter van Longreach se voordeur, en die tweede laaste op regs voor die Botanies. Dis die sportvelde en park waar Graaff-Reinetters rugby, krieket, rolbal, Karoolusfees en so meer pleeg.

‘n Braaivuurtjie knetter gou, en ons drie is gejas en gekombers teen die koue. Ons harte se bly en warm ons verweer teen die koue wat reën en sneeu voorspel. Natuurlik help die glasie wyn en sjerrie ook. Hoe dan anders. Ons kwetter soos vinke en die buurmense bid sekerlik vir die gekke op die stoep. Inkommers, wie anders sal buite wees, is sekerlik wat gedink word. Hehe. Ons het lekker geslaap.

Vroegoggend, toe die sonnetjie die koue onsuksesvol probeer verjaag, is ons buitentoe. Stap deur ons tuin waar lieflike kaktusse en bome vir ons deur Obesa Kwekery aangeplant is. Die begin van ons Frida Kahlo-visie.

Ag, ontsteltenis, die een hekkie is oopgebreek, die veiligheidsdeur befoes. Kwajongens wat loop en bespied en weet, die huisie se aanbou loop stadig. Maar breek moet hulle breek. Ons bel maar ‘n sekerheidsmaatskappy en gou is daar met tegnologie ‘n alarmstelsel wat uit die woonstel werk, installeer.

Ek is natuurlik briesend. So moeg dat niks wat mens hard voor werk en swoeg, kan ontsnap aan skade van een of ander aard nie. C’est la vie, lewe in Mzanzi, né.

Ons eet laat ontbyt. Ons lees ons Bybeldagstukkie. Kapow.

Psalm 130:6: “Ek wag op die Here, meer as wagte op die môre wag, wagte op die môre.”

Stephan Joubert skryf in die dagstuk dat ons op God moet wag. Dat ons nie moet wag vir die Herder se sorg nie, maar op die Herder self.

Dit tref my dat ons meer soos die aalwyne in lof met hulle vlammende fakkelblomme op die Skepper wag, deur seisoene en groei. Rustig en nie vol verwagting op Sy plan vir ons nie. Nee, daai plan moet jy in vertroue self maak, en biddend vir leiding natuurlik.

Terwyl ons daardie lewensplan uitleef, moet ons wag vir Hom, die Skepper, die Herder, die Lewende Water, die Brood van die Lewe, die Plan self!

Ons is bevoorreg. Sela.

Mango Vlug J529 belewenis

Ons vertrek douvoordag om ons langverwagte en welverdiende gesinswegbreek na ons geliefde Graaff-Reinet te begin.

Drie van ons brakke sit bedremmeld teen die binnetuin se draad, soos ‘n treugwag. Ore hang sommer so. Hulle weet wat tasse op wiele beteken. Niks slapery op beddens en banke nie. Hondwees hulle voorland. My hart pyn om hulle te los, maar ek weet Jonas en Elisa is goeie versorgers.

Toe die laaste veiligheidshek toeskuif en ons by die teerpad links draai lag Bab eb Rots en ek. Hier gaan ons.

Ons reis voorspoedig, en kom veilig by OR Tambo, parkeer die kar en gaan bespreek in. Terwyl ons wag dat ons kaartjies nagegaan word, roep iemand my naam. ‘n Kollega uit vergange tye. Ons vorige sien nie te aangenaam nie. Dis nogal erg as daai onlekker se proppie sommer so afskiet en hier staan julle nou met bekke vol tande en nie regtig lus vir die weersien nie.

Die tou deur die kontrolepunt verbreek die onemaklike ontmoeting. My geliefdes stem saam, dis beter dat ek daar weg is, “die vrou lyk so moeg.” Ek loop met ‘n wip in my stap verder, my rasieleiers is tog te lief.

Ons het tyd en doen ons Wimpy-brekfis ding. Die heel kersietamatie spat sap die tafel oor toe ek met die ou plastiekmessie hom deursny. Bab loer vies en Rots sê: “Ek het mos gesê jy moet hom heel in jou mond sit.”

F…it, weet hy nie my plastiek tande werk nie soos sy egtes nie, dink ek en sny rustig, rustig verder. My wipgeit getemper deur die doel van ons uittog. Rustyd, saamtyd, en bowe-al sieltyd in ons geliefde Stokkies huis, waar ons drome geduldig wag.

Ons is trommeldik en gaan sit en wag by hek D6. Kyk vir vliegtuie en mense. Neffens my sit ‘n vrou en haar seuntjie. Sy is op haar foon, klink Xhosa. Op hoge Britse Engels trek die seuntjie los. “But I need another toy. I only have two cars and two trucks. I need five toys.” Ek glimlag. Warempel, klein prokureur in wording. Ek vang sy ma se oog. Hy is volstoom aan die gang om haar van sy speelgoedkrisis te oortuig. Nie lank daarna is hulle weg in Exclusive Books se rigting.

Tyd vir aan boord gaan breek aan en ons word in voorste en agterste nommers verdeel. Oulik, die stampery om by jou sitplek uit te kom, word vermy. Mango kry punte en nog meer toe die personeel summier selfsugtige mense met groot handbagasie vriendelik vra om die bagasie te oorhandig. Altesaam nege mense is skaam-skaam om reggehelp te word ten aanskoue van die ander passasiers. Een ou dreig en wil die kaptein sien. Hy is ferm vertel aikona, geen gunste. Hy het moerig die aftog geblaas. Hehe. Mooi Mango.

Voor my staan ‘n netjies versorgde vrou. Sy bewe soos ‘n riet. ‘n Middelarige vrou voor haar vang my oog. “Is alles reg,” vra ek die bewende mens en ek druk aan haar skouer.

Die angs borrel by haar mond uit. Dis haar eerste vliegtuigrit. Alleen ook nog. Ons troos en gesels en terg. Sy het begin bedaar. Toe ons groep aan boord stap, dis ‘n geval van die wat eerste is sal laaste wees, hou sy my hand vas.

Ek vang ‘n vriendelike lugwaardin se oog en sy lees goed lippe. Ek beduie na die vrou en sê woordeloos “first flight”en sy riemtelegram na twee kollegas wat in die gangetjie staan. ‘n Pragtige jong vlugkelner haak by die beangste vrou in en help haar na haar sitplek. Die lugwaardin vra of dit familie is. Nee, net ‘n mens in nood. Sy glimlag vir my.

Ons land in ry 13 by die nooduitgange. Kry ons noodopleiding omdat ons beenspasie versoek het. Dis die ruil vir gerief. Bab kyk op die vlerk uit. Die vliegtuig is gelap sê sy, en kyk waar sit ons. Ons giggel, en die vliegtuig word Frankenstein gedoop.

Oorkant ons sit ‘n jong paartjie en ‘n gesofistikeerde swartvrou. Die man is skouers omlaag met sy selfoon besig, net na daar uitdruklik versoek is dat ons al ons elektronika moet afsit en bêre. ‘n Gemanikuurde hand tik hom op die skouer. Die lugwaardin is streng deur haar glimlag. Rooi in die gesig word die selfoon gebêre.

Ag, jinne, ons is skaars in die lug toe begin die tweetjies. Sy het ‘n kort broek aan, die meisie. Dan is haar voete onder haar ingevou, dan draai sy dwars in haar sitplek, en aldeur is dit ‘n vattery aan mekaar. Die arme vrou langs haar duik kort kort agter haar koerant in of staar deur die venster.

Arme Rots sit in die gangetjiesitplek. Die sjoebroekie vlieg uit haar stoel en klouter oor haar kêrel. Wil iets uit die oorhoofse bagasieruim haal. Haar broekie pla boudlangs en so ewe ten aanskoue van almal trek sy watookal pla hier teen Rots se oor reg, so op ooghoogte….ek en Bab duik agter ons tablette in, my man loer net so skalks na ons en fluister: “Min respek vir haarself.”

Gou is ons vlug bo-op en deur spierewit wolke verby. Ons land en die winderige stad groet ons oudergewoonte. Ons kry bagasie en Rots gaan haal ons huurkar.

Bab en ek staan buite en wag toe ‘n modieuse jongman op die mooiste Ducati motorfiets ingebrul kom. Hy wys vir ‘n vrou in ‘n motor om te parkeer. Haal ‘n tweede helm agter uit die motor se kattebak. Dit begin skielik reën en ons klompie vreemdelinge begin saam skaterlag. Om ‘n kar te kom bêre en in die reën verder met ‘n motorfiets te ry! Kostelike oomblik.

Nou julle kon seker al aflei dat ons Toyota bakkie mense is. Ironie. Daar is ene bespreek, maar hulle het nie in PE ene beskibaar nie. Ons is die wenners van ‘n Ford. Summier stuur Bab vir al wat leef en beef die foto van haar pappa agter die Ford se stuur. Ek is seker julle kon ons familie en vriende se gelag hoor.

Ons is veilig by Stokkies 10, Graaff-Reinet. Gisteraand toegekombers op die agterstoep vuur gemaak en tjoppie, wors, heerlike dun karoowors en braaibroodjies gemaak en lekker gelag en gebibber. Die OBS het darem ons binnevuurtjie aan die gang gehou. Dit was -5 grade in die nanag en ons het laat oggend eers onder die komberse uitgewaag.

Ek sit hier in die sonnetjie en relaas. Rustig, rustig.

Lekkervurige kaggelstories 1

Liewe Seegogga jy het gevra – nou vertel ek maar:

As enige persoon my aan die einde van 2011, my annus horribilis, sou vertel het dat ek vandag die lekker kaggeltannie van Poloniekwane en Limpopo sou wees, dan het ek  soos ‘n hiëna, my uitasem gelag.

Vroeg in  2012 kom Rots van Limpopo se wilde weste, daar naby die Botswana grens waar hy kunsmis smous, terug en vertel my ons gaan kaggels en braais verkoop. Ek is die duiwel in, want hoe kan hy sommer net so iets by ‘n braaivleisvuur aanvang sonder om met my te konsulteer en te praat? Hoe kan hy nou onse oudaggeld sommer so in 3mm staal omsit! Die aankoop van die kaggel- en braai agentskap het oorname van ‘n vrag voorraad behels.

Jinne, ek het my lewe deur vir ‘n baas en  ‘n begrotingsteiken gewerk. Rots wou aanvanklik dat ons  saam met die vorige eienaar in vennootskap gaan, maar die sou nie deug nie. Voor ek my oë uitvee is ons (lees ek) alleeneienaars. Jinne ek lees en leer soos blits van skoorstene, aspanne, dempers, weerhane, die wat draai en die wat vas is. Ek leer van venturi-plate en staaldikte en gasregulasies.

Ek gil en veg en baklei met verskaffers en ek byt op my tande wanneer kontrakteurs en veral Ingelse-, Indiër-, ryk geërfde Nasionalistiese Afrikanermans en nuwe tenderpreneurs die winkel instap en my soos Koekie Hol, die adminmeisie behandel. Kan nou nog nie glo hoe beterweterig mans kan raak as ‘n vrou bekwaam en geletterd oor braais en kaggels kan  raad gee nie.

Gelukkig het ek hier en daar my strepies verdien met weldeurdagte advies, goeie berekenings en die regte eenheid vir die regte redes. Die arrogantes het gelukkig verdwyn of hulle houding verander en ons reputasie vir uithaler diens, hulpvaardigheid, kundigheid,  en veral nasorg, het soos ‘n lekker vuurtjie versprei.

Ondersteuners en beïndruktes in die boubedryf, ‘n handvol argitekte wie nie hulle boumeesterskap as alfa en omega beskou nie en vele tevrede kliënte se aanbeveling hou nou al vir  amper sewe jaar die deure oop.

Die besluit om meer as een verskaffer se produkte te bemark, was een van die beste besluite ooit.  Dit bring stadsgoete hier na ons geweste, en is die moeite werd. Om te sien hoe verbaas iemand is om mooi en kwaliteit in die nywerheidsgebied van Poloniekwane te kry, en hulle hoef nie Gauteng toe te voeter om iets wat nuut en modern is, vir hulle droomhuis  aan te koop nie.

.Die foto’s hierbo is van my gunsteling kaggels: Die Nero Frame en die vrystaande Umlilo biobrandstofkaggels van Signi Fires, die Bogenan Gogh Slow Combustion dubbelkantige ingeboude kaggel van Heatwave en die lieflike Mary met rooi keramiek teëls van Palazzetti in Italië, en ook die betroubare BOgen Goya met roesrooi getooi van Heatwave se Bogen reeks.

Ek het onlangs my hysbak-toespraak verkort:  Ons maak dit ons besigheid om jou die regte vuur te help aansteek- We make it our business to help you light the right fire

Annerdag vertel ek van noodoproepe en mense wat nie die gebruikersgids en instruksies lees nie….

As jy wil weet hoe om die regte kaggel te kies – my heel eerste blog was daaroor:

https://lekkervurigeaffere.blog/2015/10/30/hoe-kies-ek-die-regte-kaggel-2/

Anti Antie – ala Lidi

Lidi de Waal reguitskiet woordkuns. Ek lief en stem vurig saam

“ek raak met die jare
al hoe meer van ń anti-antie
anti-stywelip
anti-besemstok in die hol
anti-suurknol
anti-daar’s net een ware way en dis jou way
anti-oogklappe aan….
ag nee wat die wêreld is te kleurvol
te reënboog
om nie te wil kyk wat daar te siene is en
om nie te wil luister wat daar te hore is nie
so ek is
anti-holier than thou
anti-moesiemond pruimgevreet
anti-soetjiespoep
anti-drol in die drinkwater
anti-bullshit
maar by dit als sal ek nou ook nie meer juis
gaan tyers brand in die hoofstraat
oor enige iemand anders
anders voel of is of doen as ek nie
dis maar net tough shit
en ek’s nie anti-tough shit nie”

‘n Varkerige, grieperige storie

In my kombuis, so as jy deurstap eetkamer toe, hang ‘n afdruk van ‘n 1858 plakkaat van ‘n pryswennende vark. In my huis is dit nou ekke, die vark in die lekkerbly verhaal, wat raas oor uitstallings, hondepote op die matte, kussings op die vloer en so aan en so aan.

Daar is egter nou ‘n nuwe vark in die storie.

Rots en Bab en ekke en Elisa en Bessie en Mielie en Kokol is die afgelope weke deur die 2018 griep platgetrek. Ons huisdokter diagnoseer die een met bolugweginfeksie, daai een met sensitiewe longe, en die uwe met varkgriep. Ag, ja.

Ons almal praat met so laer stemtoon, neuse toe, loop met pap lywe en grade van koors. Elkeen kry sy dae in die bed, sop en liefde en simpatie. Dis hoe ons rol.

Dokter het vir elkeen sy eie antibiotika, asempompie en hoesstroop. Trap ons uit oor selfmedikasie, en die tannie by ontvangs hou na elke besoek ewe liefies die rekening vir die besoek en moetie. Rooi lippies rooibostee getrek, en jy weet, jy stap nie uit voor jy nie vir Geduld oorhandig het om deur die heen-en-weermasjien gesleep en aan balans verminder word nie.

Net toe ek reken die ergste is verby, begin ek Maandagaand bibber en kramp en naar. Die troon en Ouma se koos en slopemmer, wat meestal naby staan om ons te herinner om dankbaar te wees vir spoeltoilette en riolering, word my geselskap.

Genade, ek kwyl en braak en blaas en…..dis te vreeslik. Sê maar soos die ou lugverfrisser tv-advertensie van jare gelede, “ons is gawe mense, net jammer van die reuke….”

Dis drie dae later en ‘n uitgewaste asvaal weergawe van vurige ekke is hier aan die griffel. Die mediese uitslag, dis maar die griep. Oink.

Dankie Una dat jy kontak maak. Vanoggend rapporteer en pieker ek dat “my ingewande gemoedsbekakking het, letterlik. Ek het krag vir niks, en nog minder is iets vir my oulik of inspirerend. My lyf en skryf is ontwater. Met iets sinvol sal ek later kom speel in Blogland.” Vir dierbare Una is my afwesigheid soos ‘n koeistal. ‘n Ware gemis.

Vanoggend doen betroubare Elsabé Brits in Beeld verslag dat vanjaar se griep nie varkgriep is nie, dis net erg. Ek lê ylend en lam. Is daar weer medisynesmouse wat nuwe produkte bemark en teikens te haal het, en die gevolg dat ons net vol goed geprop word? Is die griep en variteite wat gediagnoseer word maar deel van die seisoen se begrotings? Ek wonder maar net, dis seker die koors. Maar die apteker het ook vertel dat hulle nog nie eers verlede jaar se gogga verstaan nie. As dit so is, daan is medisyne ook maar raai-raai-riepa. O my vy, ek is besig om te verander in ‘n daar-is-‘n-sameswering varkie.

Soos die ou mense gesê het: As jy griep kry, klim in die bed vir drie dae en daarna dokter jy vir sewe dae of ‘n week simptome…dis die vark in die verhaal. Ek gaan nou ‘n gemmertjie drink en hoop vir die beste. Groetnis.