Vryheid in verandering

Dis Vryheidsdag se kort week en laaaang naweek. Ons het al die kaggel goete en kunsmisse mooi sorteer en gebêre en kliënte het nie verdwyn omdat die winkel verdwyn het nie, inteendeel. Dis gerusstellend. Ironies dis vandag, 30 April, 11 jaar gelede dat ek die op my Vuisboek muur geplaas het:

April 30, 2012  · Goed waarvan mens hou en lanklaas mee besig was, is soos om na baie jare weer fiets te ry. So bietjie wankelrig aan die begin, maar voor jy weet, daar gaat jy! Woohoo! Eerste keer in vier jaar weer aan ‘n bemarkingsplan gewerk. Sien uit om weer deel van die samelewing te wees – Polokwane maats neem kennis!”

Dis toe ons die Kaggel winkel gekoop het. Nou is ons met her-posisionering en bemarking vir ‘n nuwe geslag besig. Die winkel sal voortbestaan as ‘The Lekker Collective’. Dis opwinded en ons is besig met ‘n nuwe webwerf, en al die klokkies en fluitjies wat sosiale media ten opsigte van bemarking en verkope bied. So lekker om na jare se eenkant staan weer saam met my Bab en Rots te werk aan ons lewe.

Vryheid van verwagtinge

Dinge wat ek my verbeel het en bangmaak verwagtinge het my byna gekelder, maar toe nie. RSG het Vrydag ‘n insiggewende gesprek oor verwagtinge uitgesaai. Hoe maklik kan die onrealistiese jakkalsies mens grootoog soos ‘n haas in kopligte laat verstar en verlam van vrees oor dinge was meestal nooit realiseer nie. Vanmore vroeg, lees ek ‘n dagstuk rondom Psalm 4:9: “As ek in die aand bed toe gaan, kan ek sonder bekommernis aan die slaap raak. En ek raak dadelik aan die slaap, want by U voel ek veilig. U alleen beskerm my.

Die oordenking wys op die spasie tussen jou werklikheid, hou hier en nou in die oomblik se bestaan en mens se verwagtinge. Die skade van die afgelope drie jaar, die mindere welvaart, die kragteloosheid van ons regering se bestuur van ons hulpbronne, ons toekoms, die monstertjies van kommer dans spookagtig makaber om die brandende vuur wat kommer in mens se gemoed kan aanblaas. Daar, in die spasie moet mens God plaas as alomteenwoordige beskerming en beskutting teen dinge wat 99 persent van die tyd nooit gebeur nie en mens se vrede steel. Sit God se omgee liefde en die veiligheid wat vaste geloof bied tussen hier en nou, en miskien eendag.

Vryheid vir vroue

Ek sit en dink aan Vryheidsdag. Daai dag in 1994 toe ons getou het om te stem. Ons het toe nie gillend see in moes jakkalsdraf met woedende moordadige mense wat ons wil vernietig oor Apartheid en sy nare gevolge nie. Ja, ons blekes is opsy gestoot, maar dis maar ons beurt. Die geskiedenis werk maar so nié waar?

Ons kan ons kom-ons-bly-maar-eenkant-in-ons-laer-mentaliteit laat staan en waarlik mense ubuntu in die oë kyk en dan kan ons ‘n beter Suid-Afrika sien gebeur. Baie mense op grondvlak leef reeds so, ons moet aanhou probeer en stemdag aanstaande jaar ons saamstaan stemme laat tel.

Ek is saam met die hele Suid-Afrika so trots op Kirsten Neuschäfer wat vrou alleen om die wêreld geseil het en klomp seemanne ‘n wen gekos het. Ons land is vol sterk vroue. Ons moet dit ter harte neem.

Ons moet opstaan teen geweld, korrupsie en allerlei ondinge wat vroue laat swaarkry en ons dogters van ‘n behoorlike toekoms ontneem. Daar is meer vroue in ons land as mans. Hoe ironies dat ons toelaat dat verkragting, gesinsgeweld, swak dienste en al daai dinge ons lewens oorheers.

Ek eggo onthou ‘n ‘n artikel van Stephen Grootes in 2011 vir die Daily Maverick:”Jan Smuts once said that in South Africa, “the best never happens, and the worst never happens”. He’s been proved right so far. For us, for me, the best is certainly not happening. But the worst isn’t happening either. And I’m pretty convinced it won’t. We’re too big, too complex a country for that.”

Elf jare later en die gedagte hou steeds water. Ons moet nou dringend aan daai kompleksiteit werk en saamstaan grond vind om op voort te bou.

Vryheid van verval

Gister middag na dae se snikheet, bou lieflike wolke op en op. Kort kort trou Jakkals met Wolf se vrou, en so met sonsaktyd kom rammel en raas dit oor die Heksiehuis. 18mm reën kom val oor die dorre tuin. Ons het net vandeesweek in hoopvolheid al wat plant is met grondverbeteraar QCM (Quality Controlled Microbes), dis nou goeie goggas, bemes. Nou het die hemel water die goggas eers speel spasie om die plante se wortels kom gee. Ek verbeel my ek hoor die prettigheid oral in die tuin. Ek weet sommer hier gaan mooi uit die vervallenheid opstaan.

‘n Seer stil reis

Ons reis more na Potchefstroom om Ernatjie te onthou en ‘n stil muur van troos vir haar geliefdes te wees, want woorde het ons nie, net daar wees en omgee kan ons bied.

When you meet someone deep in grief.

Slip off your needs and set them by the door.

Enter barefoot this darkened chapel

hollowed by loss

hallowed by sorrow

Its gray stone walls and floor.

You, congregation of one,

are here to listen not to sing.

Kneel in the back pew.

Make no sound, let the candles speak.

— Patricia Runkle

Ons is die naweek bederf met vars rou uit die grond grondbone daar uit ons Limpopo se weste. Tante Jongste se oudste het haar kom verras met ‘n blitsbesoek Ek het gister met die lugbraaier se hulp die huis in malse geur omskep. Vars gebakte gesoute grondbone tjoef-tjaf reg vir smul.. Lekker.

Groetnis en allesbeste.