Ek en jy het so saam in die familie Maré arriveer. Ons deel ‘n naam. Erna.

Hoe het jou ma en Pa en jou Oom en ek geskater toe jy pasgebore en knus in mamma se arms en ek, angsbevange nuwe geliefde van jou oom, mekaar in die tuinpaadjie by julle huis op Nylstroom ontmoet het.

“Dis Erna,” sê jou ma, en jou Oom kyk verbaas. “Hoe het jy geweet dis haar naam,” stotter hy, denkende sy praat van my. Hoe wonderlik die toeval! Uiteraard het jy Ernatjie geword, en so sal ek altyd jou onthou. My nie-na-my-vernoem naamgenoot.

Hoe lekker het jy en Bab saam leer fiets ry, julle Ouma se huis omgekeer vakansietye, en toe julle groter raak, julle doodgeskaam het as julle saam met Ouma in die rooi Golf moes ry met ‘n lang volstruisveer stoffer wat sy gekoop het en by die Wimpy stop – ten aanskoue van ‘n toerbus vol seuns.

Ek sal nooit vergeet hoe ons twee Ernas by Biebs se bed in intensief gestaan het en saam met haar Psalm 23 gelees het en vir oulaas saam met haar kon bid. As ek die Frangipani aans sien blom sal ek julle albei gedenk en troos vind dat julle saam by waters van rus is.

Jou Facebook blad vertel van ‘n ma wat haar kinders ondersteun om hulle volle potensiaal te verwesenlik. Hoe jy tot op die laaste ons almal van Philip en Dorette se sport en akademiese prestasies en pret op hoogte gehou het. So kon ons altyd deel wees van hulle grootword, al woon ons ver van mekaar.

Hoe jy gespot het met die aanvanklike gevolge van jou swaarkry en gelag het dat daar seker beter maniere is om gewig te verloor. Hoe jy moedig al die eise wat die vreeslike siekte jou aangedoen het trotseer het en ons almal tot voorbeeld gestrek het.

Jou eerlike versoek toe ek vra wat ek kan doen en jy sê ek moet saam bid vir tyd. Ag my liewe mens, al wat ons kon doen is bid vir kwaliteit genadetyd. Hoe kort ook al. My hart is stukkend. Stukkend vir jou man en kinders, jou ma-hulle(aan albei kante) en jou sibbe en vir ons wat agter bly.

Dis amper ‘n maand na jou 39e verjaardag. En net gister lag jy saam oor ‘n simpel Whatsapp boodskap, en vanmore is jou asem weg. Vanoggend breek ‘n lewe sonder jou by ons almal aan.

Ons gaan jou in ons sirkel mis.

Rus in vrede tot ons mekaar weer sien.

Tyd

(Vir Ernatjie)

Heilig word ons elkeen uniek geasem

Ons tyd op aarde net vir ons geleen

vir ‘n lewe vir ander tot seën.

Jou liefhê en moederskap,

jou moedigheid

ons almal tot voorbeeld.

Selfs toe die monster kom klop

en ons niks meer kon stop

was jy vir jou krose daar en teenwoordig.

Toe jy vra: bid vir tyd,

is al wat ons kon vra en kry

– genadetyd.

©Erna Maré 24 April 2023