Ek is moeg. Murg uitgesuig en sielsmoeg. Die epiese omwenteling in ons lewens is besig om my leeg te tap, dis net lelik huil wat nog in oormaat beskikbaar is. Ek moet soos julle sekerlik in vorige blogs kon aflei, aspris vir dankbaar en doelbewus gaan opsoek en een voet voor die ander sit en vorentoe beur. Futloos of te not. Maar ‘n mens kan maar net so lank voorgee en Pollyanna, dan moet die waarheid kom aantree sodat mens weer kan probeer.




Ek skil gister aartappels om vir die gesin vis en skyfies te berei vir middagete. Die tweede aartappel het vrot hart. Jy sny so derde van hom weg om by iets gaarmaakbaar te kom. Ek is sommer tranerig kwaad. Dis vrot en swak produkte wat ons gelate moet aanvaar want loadshitting en korrupsie en woede en wraak en bitterheid oral.
Ons hopelose regering wat tot in hulle malle maai in goete bespreek en oordink. Kyk nou net die gesloer met die SAUK Raad, die getjommel oor Poetin se lasbrief en sy komende besoek aan ons land. Ons polisie en korrektiewe dienste se twak met die Guptas en die Bester ou. Vrot hart, siek tot in sy kern, met min om te red en wat ten volle bruikbaar is.
Net toe ons klaar verhuis, kom die besigheid ook huis toe. Nog ‘n trek. My moed in my skoene. My liewe Rots hou niks van verandering nie. Was skoon oorbluf toe hy nou die dag in diie middel van die week naweek klere kon aantrek want daar was nie werk weg van die werf en huis nie. Bab se kantoor is in die voorhuis, agter die bank. Ons haal in mekaar se nekke asem. Liewe Tante het darem haar stoep. 😉 Ons span werkers is oral in die tuin en besig om sin te maak uit ons nuwe werkswyse. Met tyd kom raad. Alles sal regkom vertel Jan Brand. Die blikslaer net net uitgelaat wat die koste van regkom is.
“Ons hier in my omte is nog erg besig met woning en besigheid se hervestiging. Dis sielsverlammend. Was lanklaas op alle lewensvlakke sommer net moeg is moeg verby,” kla ek by vriend Willem.
“Dis of almal se energie op is”. Daardie ‘almal’ is ‘n spieël vir jou. Jy moet tyd kry vir ‘n bietjie rus. Dan sal jy weer die energie in ander sien. Maar ja, hervestiging … dis ‘n groot ding….Sielsverlammend is nie ver van sielsvlammend af nie,” antwoord die wyse Willem.
Vanmore sluit Jana Luther in haar Beeld rubriek by hom aan met haar vonk woord: Entelegie – potensiaalverwesenliking of vervollediging. Lees mooi hoe sy dit raaksê:
“Aristoteles het die siel die entelegie van die liggaam genoem omdat die liggaam deur die siel werklik leef en bewus is,” verduidelik Viva.
Viva brei verder uit en vertel entelegie “in meer moderne filosofiese gebruik, dit wat ‘n doel of finale oorsaak bevat of realiseer beteken. By Hans Driesch en die ander vitaliste, is entelegie die indiwiduele agens wat die lewe lei en rig, aan die lewe sy bepaalde vorm gee en in daardie funksie en hoedanigheid die lewensbeginsel self is.“
Ekke beter nou my entelegie oproep uit haar wegkruip. ‘n Goeie gesprek en nuwe planne om my lyf en emosies met my siel te herenig en minder te zombie en meer te samba deur die kosbare dae vir my geleen.
As voorspel tot die omwenteling en herinstel van my rigting, het ons gister die vreeslike buitekamer ge-orden. Die Wendyhuis is nou ‘n lieflike tuinstoor wat neffens die nethuis goed gaan funksioneer. Rots en die manne gaan die grondverbetering goete se tenks ook staanmaak, en hoe lekker gaan ek groentetuin kan maak met die gesonder grond wat ons baat wanneer die kosbare vloeistof in 20l houers getap word. Die oorvloei gaan direk in die grond in.
Ek weet nou duidelik waarom die Heksiehuis se omte as Doornbult bekend staan. Duiwelse duwweltjies is oral! Waag ek mos nou die dag om kaalvoet te loop. Wat ‘n les. Bab moes haar grou ken met ‘n naald om my gepynigde voete te ontdoring. Flip soveel brand en seer.
Smaak my my fut en vonk is darem al naby die oppervlak en dat ek aans minder moeg en vroliker gaan gedy soos Jana Luther die plant op die krans se aspris vatplek kry en sy beste lewe leef. My entelegie kroon mooi reg getrek op my kop. Lekker vurig en energiek en vol dankbaar en bly. Sielsvlammend ala Willem, dis mos maar hoe ons rol. Ek gaan bietjie meer rus ook, belowe.

Sterkte! ❤️
LikeLike
Dankie blogmater! Ons hou aan probeer.
LikeLike
Ek vertrou jou moeg gaan spoedig minder moeg wees!
LikeLiked by 1 person
Konnekteer asseblief jou entelegie aan myne en gee haar ‘n kick start, want ek is naby my ontploffingspunt. Smaak my elke keer as ek my mond oopmaak, spring daar ‘n klagte uit. Sterkte vir jou.
LikeLiked by 1 person
Miskien moet ons saam trek tot ons albei s’n gegatskop is. Liefgroete
LikeLiked by 1 person
💞
LikeLiked by 1 person
By my vorige werk het my kollega altyd op ‘n Vrydag gese: “Ek’s so moeg, tot my moeg is moeg”. Dan’t ek altyd so lekker gelag vir die baie “moeg” in een sin. Maar dis ‘n feit soos ‘n koei, verhuising maak mens moeg op ‘n ander vlak. En ek praat so bietjie uit ondervinding … ons is nou amper ‘n jaar hier in “leeu-wereld” en dit het groot deursettingsvermoe gevra om my koppie hoog op te lig. Nou is die jaar kontrak amper op sy einde en ons weet nie wat volgende vir ons wag nie … maar ek gaan my entelegie inspan saam met joune en wie weet wat dan. Sterk staan – gaan drink gereeld ‘n koppie iets daar by jou mooi vetplant tuintjie en asem die natuur in.
LikeLiked by 1 person
Dankie baie. Ja as ons ons sielkroontjies reg trek is baie moontlik.💝🌻
LikeLiked by 1 person
Sterkte en n drukkie
LikeLiked by 1 person
Getting there👋😊
LikeLiked by 1 person
Duwweltjies veroorsaak pap wiele. Ek onthou Middelkind se verontwaardiging oor die duwweltjies op ‘n rugbyveld – nogal agter die doellyn!
LikeLiked by 1 person
Eina. Hulle is blixempies.
LikeLiked by 1 person
Ek woueers nie lees wat jy sê nie want ek weet my binnekant gaan saam jou reageer. Eks nou al meer as ‘n jaar in hierdie kamer en moet net styf vashou aan positief en die moeg en depressiewe gemoed se gat telkens skop. Gelukkig help dit vir ‘n rukkie om koers te kry na positief en met vreugde voort te gaan. Als maak mens maar tam en moeg. Onthou net more gaan dit weer beter. Sterkte met al die obstakels om julle.
LikeLiked by 2 people
Dankie liewe Ineke. Ek dink baie aan jou en weet en verstaan ons gemoedere se oppe en affe. Aspris moet ons daagliks dankie kies. Sterkte vir jou ook 🌻💝
LikeLike
Dankie is beslis ‘n wenner om te gebruik. Baie liefde oorgestuur vir jou uit ‘n steeds nat en nie te koue NZ.
LikeLiked by 1 person
Een lewensles wat ek darem in my paar dekades hier geleer het is dat om positief te forseer mens moeer maak as enigiets.
Hier vroeg in Covid (al het dit toe gevoel soos 3 maande, want dit was) stuur ons Dominee n oordenking; Boeke soos Job en Klaagliedere is nie verniet in die Bybel ingesluit nie. Dit gaan nie altyd goed nie. Om altyd te probeer voorhou dat alles “hinky-dory” is, is plain weg n lieg. Die voorspoed-prediking wat ons deesdae aan blootgestel is laat ons stil-stil sleg en skuldig voel as ons vir onsself moet erken “Ek is nie happy nie”, asof ons nie goed genoeg is om ook “geseend” te wees nie. Asof ek gesondig het en gestraf is en nou buite moet staan en toekyk hoe ander fees vier in al hulle seeninge en net my bek moet hou want ek is veronderstel om dankbaar te wees vir wat ek het.
Toe nou nie. Partykeer moet mens KERM. Reguit verwoord dat jy nou goed genoeg gehad het. Dat jou hart huil. Snot en trane huil dat die snikke jou amper asemloos los. Ek onthou hoe lekker ek kon huil toe ek kind was. Partykeer wens ek ek is nog instaat om so te huil. Dat die snot en trane spat en soos slakspore op my arms sit. Dat mens jou net kan oorgee aan die hartseer tot jy dit alles weggespoel het. Dat jy nie n moer omgee wie jou sien en hoor nie. Ek onthou ook hoeveel beter ek gevoel het wanneer ek dan na so n huilbui tot bedaring gekom het. Veral na ek getroos is.
En net Een kan so troos.
LikeLiked by 2 people
Amen ja! Ek het gister so op ons Pa se skoot loop sit tot ek bedaar het. Die skryf en deel was ook bevrydend. Dankie dat ons so mekaar kan rasielei na eerlike menswees. Ek pes al die vreeslike voorspoed en geluk godsdiens.
LikeLiked by 2 people
🌵 Plesier my Tante 🌵
LikeLiked by 1 person
Lief jou en mis jou.
LikeLike
Amen DeWetsWild, dis zo waar wat jy sê. Vurig, ek nou hele paar dae laat, jy voel wat jy voel. Iemand slim eendag gesê ” if you always in the sunshine, you are in the desert”. Soms moet mens maar “robot”, soms snot en trane, soms jou moerrig hou. Ek dink nie ons besef regtig watter skade die laaste 3 jaar gedoen is nie, al daardie dinge sal nou wakker word, life as we know it changed forever. Bly iewers “grounded” aan dit wat jou plesier gee, as jy nie dit voel nie, robot aan, maar leef deur dit. Jou rotstuin lyk pragtig🌻🤗
LikeLiked by 1 person
Dankie. Daai woestyn sonskyn beeld kom oral by my aan. Ek is bevoorreg om dierbare en wyse blogmaats te hê.💝🌻🤗
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die steun, Vurige. En ek was verbaas, sommer baie, om te sien hoe jy my aanhaal. Ek meen dis die eerste keer wat iemand in my lewe dit doen! Haai, is ek darem dit werd? Nogmaals dankie, willem
LikeLiked by 1 person
Jy is my vriend wat my bemoedig het. Natuurlik is jou wysheid aanhaalbaar. Groetnis. Het jy die skets en gedig blog van gister al gelees?
LikeLike