Laatmiddag kom die oproep. “Ons het lekker wyn, het Tannie vir ons ‘n broodjie,” vra my dogter van ‘n ander mamma. “Ek het iets beter. Pannekoek en vulsels en baie liefde,” antwoord ek.

Gou is daar lewe en lag in oorvloed en ons kinnerkies speel en lag en jaag bal met die brakbende in die laatmiddag son. Ons gesels en die Heskiehuis lag oopmond toe liewe EJ laatmiddag ook aanmeld. Dis hy wat die magiese foto’s van die huis in ligte laaie en gevul met mense en lag en omgee geneem het.

Rots is die pannekoekbakker en Milamuis die kaneelstrooier. Haar pappa het hulle moreel ondersteun. Die eetkamerstoele is in ‘n kleurvolle fort omskep toe dit buite donker raak.

EJ het die kinnerkies bederf met sy Kalamazoo karakters om in te kleur. Bab en Mielie het ‘n nael salon aan die gang gesit en EJ het hom vergaap aan die proses van naels jel en het lekker kommentaar oor kleur opsies. Mansmense!

Daar was ‘n pannekoek-in-die-mond stilte vir ‘n wyle, en toe loop Heskiehuis weer oor van lag en saamwees. Rumi, moeg gespeel, het op die stoelleuning die mensbende se kaperjolle beloer.

My hart klop warm oor die besef dat ons uiteindelik hier tuis is, en hier in lieflike oomblikke saam kan wees.

Dis ‘n harde wêreld daar buite – wat ‘n voorreg om op een plek saam na mekaar te kan draai in liefde en omgee.