Leef voluit sê Rumi.
Dankie EJ Joubert vir die mooi
aksie foto van my lief hond.

Week 15 is so tot stilstand kom week. Daar is groot verwikkelinge in ons lewe wat maar net nie klaar wil kry nie. Die heksiehuis is tuisste, die tuin bleghhh, en die nethuis en houthuis moet nog staan gemaak word.

Die huur van die Lekker winkel is nou onbereikbaar duur. Ons moet nuut na ons werkswyse en werkplek kyk. Verandering, verandering. Niks is vir altyd nie. Bab bewerk ‘n oulike plek met ‘n vriend wat lank gelede by ons uitkoms gekry het.

Die tsunami golwe van verandering en ontwrigting wat net net weer wou oorweldig bedaar gelukkig gou. Net so klein na-skokkie en waarsku dat niks vir ewig aan hou nie, en dat niks ook vir altyd is nie.

Nogal ‘n balanseer storie wat ons op die trapees van die lewe moet loop. Konsentreer in die oomblik en doelgerig. Beginne is altyd angswekkend, eindes is alte dikwels seer, dis hoe ons in die middel leef wat saak maak, moet ek myself herinner.

So van tydelik gepraat. Die Sparky minister het darem vir ons ‘n lae hou geslaan. Werklik word daar nou op mens se konstitusionele regte inbreuk gemaak. Fase 6 beurtkrag beteken vir ons landgoed bewoners meer as 11 ure sonder krag. Water kan nie gepomp word nie, krane droog op. Die gemakhuis raak ‘n ongemak. Van roetine konstitusie is daar nie sprake nie. Dis nou rerig te vêr gegaan, tot ons dermregte word aan bande gelê.

Thich Naht Hanh se kapow woorde dobber op uit my gedagtes. Hy reken dit is nie verganklikheid wat ons laat swaarkry nie. Dit is eerder die vreeslike menslike smagting na die onverganklike, wanneer dit hoegenaamd nie moontlik is nie. Is dit waarom die tydelike permanensie van Sparky se Fase 6 toepassing so pynlik bly?

Ek wat so ma-loos deur die lewe leer gaan het, lees oor die jare so oral goete en bêre dit tot op ‘n dag as iemand se seer aan jou deur kom klop en jy luister en bemoedig en dan kry mens sommer lus om ‘n manifes te skrywe en te sê, dé, gaan maak so.

Maar dis nie ‘n mens se plek nie en die oordeel oor monsters wat aanhoudend mense seermaak is ook nie myne nie.

Ek sou wat wou gee om klomp van die wysheid nie aan eie bas moes aanleer nie, dat ek ook so oor ‘n koppie tee of glasie wyn die wysheid uit moeder se mond kon aanhoor sodat ek as jong vrou meer toegerus die lewe kon aanpak. Maar, helaas, by gebrek aan moeder, was self ervaar en lesse leer aan die orde van die dag.

Ek dink die Goue Draad Goeie Raad manifes moet bekend gemaak word. Miskien neem iemand dit ter harte omdat dit is wat hy of sy nou moes hoor of raak lees. Miskien kan iemand waardevolle toevoegings maak.

Goue draad goeie raad

  • Onthou wie se asem jou lewe gee, God is altyd by jou. Dis jou werk om Hom te leer ken, vertrou en met Hom te praat. Dis die mees kosbare verhouding van jou lewe. Jy kan maar net begin gesels of stil wees, Hy wag vir jou.
  • Moet nie toelaat dat iemand hulle swak en kwaad en seer so op jou projekteer dat jy onder hulle soekligte van kwaad en seer verskrompel nie. Jy is uniek, enig en spesiaal geskape deur ‘n Almagtige Here. Niemand het die reg om jou tot niks te verkleineer en te verniel nie.
  • As elke dag se genade en wat in jou hand is jou nie tot dankbaarheid stem nie, gaan jy nooit dankbaar vir baie kan wees nie.
  • Bietjie, bietjie maak baie. Daai eerste optel van die voet om die nuwe tree te gee, gee hom en stap aan.
  • Onthou om God met jou behoeftes te vertrou en werk hard vir begeertes en die ‘lekker om te hê” goete. Dis onder andere waarom jy gawes en talente het. Onthou om dankbaar en nederig te bly. Onthou jou gawes is ‘n hemelse geskenk, loof daarmee en wees ander tot voorbeeld.
  • Ons almal het sagtheid, spasie en empatie nodig. Dra genade-brille as jy na mense om jou kyk. Ja, selfs vir die wat jou pynig, grief en haatlik teenoor naastes optree. Kry hulle onvrede bitterlik jammer en pantser jouself teen sulke aanvalle deur respekvol lief en sag met jouself te wees.
  • Wees suinig met jou privaatheid – jou lewe, jou binnekamer. Daar is mense met gulsige ore, lang slap tonge, eie onverwerkte kakkies wat hulle graag wil verdoesel met verdigsels oor ander. Mens moet nie verbaas wees as jy jou diepste geheime oorvertel, dat ander ook so daarmee maak nie.
  • Hou jou kring klein en vertroulik. Al het jy niks, help steeds al is dit net met ‘n oor wat luister en ‘n drukkie wat troos.
  • Onthou die goue draad van jou lewe weef dikwels saam met ander s’n ‘n nuwe tapisserie. Maak seker jou aandeel in die prent bring behae wanneer dit weer bekyk word.
  • Daai ondinge in jou lewe. Draai die voeding kraantjie toe. Moenie maak asof jy nie weet waarvan ek praat nie. Jy weet in jou diepste binneste wat daai monstertjies is. Verhoudings, gewoontes, alles wat on- is. Stop dit nou.
  • Laat los en laat die Heer. (Dankie Ouma Stomp)
  • Leef dankbaar en in loshande vertroue dat elke dag se genade genoeg is.
  • Begin is angswekkend, eindes dikwels hartseer, dis die middel wat saak maak. Leef voluit.
  • Verandering is die enigste konstante.
  • Leer om veerkragtig en aanpasbaar te wees.
  • Verras jouself en verander van opinie. Jy mag verstom staan wanneer jy anders na iets kyk.
  • Luister om te hoor, nie om te reageer nie.

Voor ek verbale diarree kry groet ek maar eers.

Allesbeste