Bygelowig die was ek nog nooit. My ma was die een wat sout wat gemors het oor die skouer gesprinkel het, nooit onder deur ‘n leer sou loop nie, beslis nie ‘n sambreel in die huis sou oopmaak nie. Sy en my oupa Faan het ook Vrydag die 13e hiper-versigtig benader. Pffft.

Maar toe. Toe kom week 13 van 2023. Ons is binnenshuis by die Heksiehuis gevestig inwonend. Dis nou as water gepomp is, en ek onthou om krag te koop.

Buite is dit bar en dor en stowwerig. Die water toevoer na die tuin is problematies. Die ontnugtering daar die landheerin en haar ega se definisie van watertoevoer vir ‘n tuin nie aan die behoeftes vir die potplante en net huis en grasperk sal bevredig nie. Die teleurstelling sit effe bitter agter in my keel. Ons word darem beloon met skilder mooi elke aand as die son sy hakke oor die horison wys om elders te gaan skyn. Die lewe kry so stadig stadig ritme.

Net toe ek wil verstik en vergaan kom daar reent en fyn stikstofryke hael. Net wat nodig is. Dit het sedertdien bykans 30mm gereën op die Heksie Landgoed. Die verpotte halfmensies en baba-broodbome wat ons onder al die bossies ontdek het, het ‘n kans op gedy!

My fountjie laat weet iemand stuur ‘n boodskap. Sekondes later sit ek verbysterd. Ons broerskind het skok nuus ontvang. Haar stryd teen kanker is nie te wen nie. Here. Die kinders kan mos nie voor ons huis toe kom nie! Ek wens ek was Moses wat God kon oortuig of Marta en Maria wat Lasarus kon terugkry.

Wat onse E deurmaak kan ek my nie indink nie. Haar liggaam verwoes, sy kan nie eet nie. Haar liefkinders is kranige, slim en sportiewe presteerders. Haar man werk hard om die gesin se welstand te verseker. Sy het ‘n wye kring geliefdes. Hulle seer en bang iets wat ek so goed leer ken het oor die jare saam met soveel mense.

Ek met my potskerf lewe wil op die vloer val en smeek en baklei en skree. Dit is egter nie hoe ons haar op haar moeilike pad sal help nie. Ek lees raak:

Ek bid dat almal om haar bedag daarop sal wees dat sy as individu van alles, haar lewe, haar liefdes haar verhoudings moet afskeid neem. Dat daar vir haar begrip en empatie en spasie gegun sal word. My kind wat kan ek vir jou doen is my vraag. Bid vir tyd, kom die antwoord.

Here laat ons almal as familie en geliefdes vir ons seerkry liefie, nie haar vermy of beskerm en bo-oor haar praat en dinge vir haar reël of ongevraagd doen nie, help ons om ook nie leë beloftes en gemeenplase troos te bied nie. Laat ons geduldige, stil getuies van haar moed, vrese en angs en alle prosesse wees. Maak ons spasiemakers en begeleiers en troosters. Laat ons sorgsaam wag staan deur haar pyn en woede en seer.

Ek bid vir haar kwaliteit tyd. Dat sy in oomblikke vrede en vreugde sal beleef. Dat die genadetyd vir haar gegun sal troos en bemoedig. Dankie Here dat U ons hoor en ons toelaat om ook vir ‘n wonderwerk te bid uit ons nietige menswees harte.

So kom die son weer op en loer oor die binne-tuintjie waar klomp Waterval plante in sakke wag om om die Heksiehuis geplant te word. Klein lepeltjies hoop en verwagting. Oomblik tot oomblik. Want dis al wat ons kan doen. Ek mis my Elisa, wat eers aanstaande week by my sal aansluit. Ek mis om Agapé brood te bak.

Ek moet aspris op seëninge soos die son sak prentjies en lekker unieke woonplek en my honde kinders en my gesin se aanhou en uithou en probeer en liefde, fokus. Ook onse Here se omgee en genade en aanhou bid vra vir E se genadetyd.

Pas julle self op. Groetnis.