Week 12 is ‘n kort week na Rots en Bab en al ons mense ‘n welverdiende blaaskans langnaweek bewerk het. Woensdag toe hulle weer aan die werk spring maak ek huis skoon en die laaste intrek gevoel wyk.

‘n Koel bewolkte dag groet ons Donderdag, na dae van versengende skroei. Dis bitterlik droog en reën lê in die toekoms ala die weer toep.

Redding Internasionaal arriveer met ‘n span werkers. Op die sleepwa is harke, grawe, sekels, kruiwaens, ‘n kettingsaag en wat nog se tuin goed.

Ons stap ‘n draai deur die treurmare van die Heksiehuis se tuin. Verander so hier en daar van plan en binne minute is die span oral aan die werk.

Die ‘voor skoonmaak’ prentjie

Gruis klippers word terug gehark uit die binneplaas. Aans kan ek kaalvoet loop. Die honde gaan net so bly wees. Die treurige palms in die binneplaas word weggesnoei en dit lyk klaar stukke beter.

Ek hoor ‘n gil. Rooi perdebye se nes is met die snoeiery versteur. Hulle klits die man op die leer langs sy slaap. Groot skrik en eina. Dankie tog vir Allergex. Arme Johannes moes Vrydag tuisbly so toegeswel was sy oge.

Die eerste dag van skoonmaak prentjie

Een van die moerige wespe klits my eergister op my elmboog. Ek het ‘n blik Doom op hulle helikoptery by die agterdeur uitgespuit. Kan nie glo hulle kan so lank kwaad bly nie. Gelukkig was daar Allergex oor na ek Johannes doseer het. Flip, maar so klits kan habanero fel brand.

Vrydag sing die kragsaag deur die bos seringe in die kamp aan die onderkant van die erf. Wat ‘n mooi vêr en wye kyk word vir ons oopgesny. Sonsak se skemerte laat die stad se liggies soos juwele tussen die doringbome flonker. ‘n Sekelmaan en die aandster loer saam na die mooi. Die windpomp riel vroliker verbeel ek myself.

Die nuwe horison na die seringe gewen is.

Die waterdruk probleem na die huis word opgelos, en skielik sing die krane strome van seën. Ons sukkel nog om die tuinwater se toevoer te verstaan. Gelukkig is landheerin se regterhand iemand wat voorheen in die Heksiehuis gewoon het, maar “ai, wat die huurders voor tannie aangevang het” is vir hom en ons ‘n misterie. Hier is ekstra pype en elektriese bedrading wat niks sin maak nie. Ons sal nog lank met uitvind, wegmaak en herstel besig wees.

Dit het Vrydag in die nanag stof natmaak gereën. Die vetplant in die Heksiehuis se dor tuin dankbaar mooi.

Bab het Vrydag verjaar en Mielie en die kinnerkies het kom kuier. O die pret toe daar water in die ronde bad in haar kamer getap word sodat daar in die skuim gespeel kan word! Mila Muis wou gister nie huis toe gaan nie. Lang lip vir haar ma getrek. My ouma hart het lekker gekry moet ek skuldig bely.

Gister is Tante is dorp toe terwyl ons Redding Internasionaal se laaste skoonmaak beskou. Die heining staan reg om my plumbago en abelias te groet. Die halfmense en broodboom wag ook mooi vir hulle vetplant vriende van Waterval. Die grond vir die nethuis is skoon en sodra die water deur die tuinslange loop, begin ek bedding vir die aarbeie berei. Ons het ons hele tweede tamatie oes op Waterval misgeloop. Elisa sê hulle was sappig lekker. Sela.

Die witolifant Wendyhuis van die Lekkerwinkel kom ook by die Heskiehuis staan. Stoorplek vir tuingoed en braaigoed. Ek glimlag oor my dagdromery en dink aan Hester wat my al gevra het oor die planne vir die ‘blank canvas’ wat die skoongemaakte tuin nou is. Hier kom dae se vreugde en harde werk.

So om middagete kom Tante terug. Sy roep vir Rots kar toe. Hy kom aangestap met ‘n reuse boks in die hande. ‘n Jamie Oliver (Kenwood Chef)! Vir my!

Sien, net so voor ons verhuising wil ek beskuit bak, toe strip Jamie 1 sy moer en daar loop sulke ghries uit hom. Rots het hom weggestuur na ‘n herstelplek wat Kenwood aanbeveel. Die nuus is sleg. Die herstelkoste en vervanging waarde is bykans dieselfde. Tata Jamie huil ek maar in my hart. Geld om sommer net weer een te koop is nie nou daar nie.

Sowaar het Tante met Pippa in Irak gesels oor ons verhuising en verliese. Pippa het van haar kosbare dollars gestuur en nou kan ek en Jamie2 weer kook en smook. Hoe lekker om so verras te word. Jamie 2 staan blink en wag. More bak ons wit beskuit.

Hier is kwikkies in die binneplaas, nog ‘n paar in die voortuin, waar kiewiete baljaar en tarentale wat braaf die honde trio kom terg. Volgende week is die voerstasie en waterbakke hopelik ook hier, dan kan ander gevlerktes ook kom inloer.

Die pienk frangipani se lieflike parfuum kom kielie my neus. Ons gaan oukei wees, meer as oukei.

Die son skyn helderder en die lug lyk blouer. Blydskap en dankbaarheid verrig wondere vir die gemoed.

Mag snoere mooi vir ieder en elk mooi en reg skik. Groetnis. Ek gaan nou Sondag: musiek, musiek en lof heeldag.