Nee kyk. Nou klim ek uit die tuimeldroeër met die vreeslike siklus. Ek en my huis en vierbeenkinders se epiese en toe op die ou einde traumatiese verhuising se einde is net in sig toe kom die brander wat ons verskrik plat spartelend soos ‘n uitgespoelde vis op die sand laat.

Oscar ons 16-jarige Yorkie brak het oor jare p Waterval maar blinder en dower en minder vas op sy voete geraak. Die nuwe blyplek met aaklige gruisklippers en net teëlvloere en trappe en draai was vir ons liefie net te veel. Die gehuil, struikel en sukkel was te veel vir ons om te aanskou. My liefste Bab kind het hom veearts toe gevat en alleen huistoe gekom.

Ons drie schnauzer-krose is baie verward oor hulle ouboet se skielike afwesigheid. Ons Mila-kind se hart is bitter seer dat Jesus die baba hond moes vat. Hy het dan nie eens tande gehad nie. Mielie moes mooi beduie dat hy eintlik die oudste was en van ouderdom tandloos was. My ou kinnerkies gee my hart so dikwels ‘n liefdeveeg.

Ons huis lyk elke dag meer na ons nes. Die skilderye en twakkies en gesinsfotos is elkeen ‘n plekkie toegeken en Redding Internasionaal kom aanstaande week gruisklippers wegvee en die veld en wildheid oral uit die tuin te werk. Dan kan al Waterval se vetplante en blombakke en nethuis kom staan kry. Ek dink as ons blomgoed en voëltjie baddens en kos stasies eers hier is sal ek rêrig om my kyk en voel en ruik. Leef so effe op outomatiese stuur en bly besig, besig.

Ons het ons eerste kuiergas gehad vir ete. My suster se oudste en ons liewe EJ is betrokke by die oopmaak van ‘n grênd Apple winkel in Poloniekwane se Mall of the North.

Hoe lekker was dit om eie bloed na soveel jare te kan witoog. Om saam te lag en gesels en goed van sy oupa en oupagroot wat ek al jare vir hom bêre te kan gee. Om stories te kan vertel en vir hom kossies saam te kon gee. Dit was lekker en ons sien hom weer vanaand vir ete. Sy oupa en ouma se eetkamer tafel en kiaat stoele sal ook weldra hulle weg na hom vind. My lewe wat so vol van almal se onthoue is voel ligter.

Ligter en wyer. Dis die twee woorde wat my vorentoe rig. Ligter tred, ligter hart, wyer uitkyk letterlik en figuurlik.

My kind en man het liefde en aandag nodig. Die tuimeldroêr siklus vir hulle nog feller, aangesien hulle ook vir kos op ons borde moes sorg.

Teen Woensdag was ons emisionele tenkies maar leeg en Rots was besonder moerig en mislik. Ek het hom byna met sy oupa se kierie getakel. Net betyds tot my sinne gekom. Ons liefste werkers wat al meer as sestien jaar saam met ons oorleef, het ingespring en begin rakke opsit en skoonmaak waar hulle kan en gehelp dat Rots se lewe gespaar is.

Tante roep my nou die oggend en sê ek moet kom kyk. By haar stoepie in die skoon strook bedding is ‘n hart van klippe gepak. Rots loop vra wie het dit gebou. Dis onse oudste, Julias. Hy vertel ons huis moet ‘love’ hê, toe bou hy vir ons ‘n hart soos wat hy by sy huis uitgepak het. Ag, Here, dankie vir mense met omgee wat ons staande hou. Ek kry ookmaar skaam dat ons dun nerwe Julias moes noop om liefde uit klippe te neer te lê.

Onse kinnerkies se pappa Jurels het vandeesweek sy veertigste verjaardag gevier. Hoe lekker was dit om rustig Saterdag agtermiddag in die kar te klim met Bab en Rots en die kort rit stad toe aan te pak om saam met geliefde mense Jurels se mylpaal te kon vier. Ons klomp vroue het die lewe, laste, Covid se impak en diewery aan ons saamwees en menswees bepraat, en geskater oor soveel kwinkslae en stories. Ek dink die engele het daar By 10B kon inloer om die klokkespel van vrolikheid te kom ondersoek.

Wat sal ons so op dag een van week 12 kan sê? Binne die kort bestek het my hele lewe verander. Verandering in mens se ouer swakker vat tyd is erg onlekker, maar die aflê, weggee en wegbêre aan materiële dinge, en insgelyks ook emosionele bagasie is ‘n kentering.

My Lent reis van opgee, oorgee, ingee. Dood is ek nie, doodmoeg ja. Maar dit sal ook verbygaan en noudat die trek tsunami einde se kant toe staan, sien ek uit na die nuwe groeityd wat met die Pase Wonder gepaardgaan. Dankbaar dat hoop nooit beskaam word nie, en dat ons soveel belofte het om aan vas te hou in tye van eina en skrik. Dat ons na kalmer, beter en vir altyd gelei word. Mens moet miskien maar nie te veel spartel nie. Vergeet ek my eie lesse, betaal ek die prys.

Komende week is dit ek en besems en politoer en stoffers. Die Heksiehuis moet begin funksioneer. Ek gaan nou Sondagkossies kook vir my geliefde en luid ‘Loof die Here’ luister. Want dis net ons en die kiewiete wat luister. Hulle het by Tante se stoepkant kom inloer en vir ons twee vroue ‘n bly ontmoeting oomblik kom gee.

Allesbeste vir ieder en elk.