Rumi se hart is seer en ons s’n ook. RIV Danie.

85 moorde per dag.

6 verkragtings per uur.

Vandeesweek se wrede statistiek oor ons stukkende land laat almal steier.

Blogvriend Danie wat in die 90s uitwyk na Paraguay oor toekomskommer word ontvoer en vermoor. (Dankie Frannie dat jy mooi in memoriam skrywe.)

‘n Niggie se kroos is van die 10 000e wat in Napier Nieu Seeland deur vloede getref word. Inneke vertel die daaropvolgende aardbewing was ook erg.

Gift of the Givers keer terug van Turkye en Sirië. Word mooi ontvang. Daar waar hulle lyke moes opgrawe uit puin, en ook waar hulle wonders gesien het.

Die mares spoel oor mens. Winduit en bewerig laat al die sleg en skrik my gemoed.

Hoe durf ek teem oor die afskeid en komende verhuising. Trommeltjies laat my weet optrek en verplant is oorleefbaar. Ek is bly om dit te verneem.

Daarom gaan ek vertel wat by die nuwe staning aan die gang is. Om myself by oomblik leef en moedigheid te anker.

Daar by die Heksiegrasdak en oopbektuin gaan dit fluks. Die dak se seer en ylte is uitgekam en opgevul. Die moeë binne verf is reeds kraakwit vars. Ons terg oor die Heksie voorkoms. Die nok van die dak is bietjie skuins aan voorkoms omdat ‘n binne stutpaal so effe kort was en die dakman moes planmaak. Ek het aan Heksie en haar min behoeftes en andersheid gedink toe ek die treurigheid die eerste keer aanskou. Noudat die herstelwerk gedoen is en Piet Gras, ons ken hom van lankal, verseker ons daar sal geen lekke en sterrtjiesdakke wees nie. Ons dierbare landheerin wat met die Windsor enetjie naam deel sorg mooi vir ons.

Ons begin soos bere uit hibernasie beweeg op Waterval. Die nuwe huis is aansienlik kleiner. Ouma se bank en Pippa en Bab se omskepte meubels gaan staning kry by Oudste Tante. Sy is opgewonde maar reken ons sal ‘n prokureur moet aanstel oor wie se meubels waar staan. Hehe. Ek glo nog altyd as jy iets het wat elders nood verlig, dan gee jy dit. Sela.

Ek gaan ook, buiten verlede jaar se skoonbrand aan los flenters onthou, my boekrakke ligter maak. My lekkerlees boeke gaan ouetehuis biblioteek toe. Oudste vertel die mense lees ywerig daar by Vergeet-My-Nie. So al die Jouberts, Brinke, Meyers, Conroys, Grishams en so gaan nie saam na die Heksiehuis nie.

Die Heksiehuis is vreemd. Die woonkamer baie Amerikaans -“great room” verwant. Daar is ‘n ruim kombuis wat met ‘n glas skuifdeur die woonvertrek aan die huis verbind. Die kombuis is lekker plaas en platteland. Palethout deure is mooi geskuur en skarnier. Die stoof se eiland is so geplaas dat mens om die spasie kan kuier. Plek vir ons eettafel en mooi-mooi bêrekaste ook. Dis sonnig en lig met aparte opwas. Halleluja!

Ouma Stomp so hieroor bly gewees het. Kleintyd as Ouma nie Sondagaand se skottelgoed wou was nie, het sy haar brood insuurskottel onder die wasbakgordyntjie uitgehaal. “Kom ons suur die skottelgoed in,” het sy dan geknipoog. So ewe met ‘n vadoek oor is die skottel tot more vroom gebêre. Die Heksiehuis het ‘n deur wat ons op die spul kan toetrek!

In die nethuis hier op Waterval het vyf aarbeiplante aangegroei tot byna twintig! Ons is so opgewonde want in die oopbektuin is daar plek vir ‘n aarbei akker. Die Heksiehuis se aarbeikonfyt. Ek proe dit al! O. Ek het nie vertel nie, daar is ‘n windpomp wat teen die blou lug tjir, ‘n allermooiste, baie ou frangipani waar ons ons buite bankies gaan staanmaak, en daar is ‘n peperboom. Net soos op die werf van die vergane Karooplek. Jongste Tante se kamer loop op ‘n stoep uit, waar mens ver kan kyk.

Vanmore toe ek opstaan om vir die brakbende oop te maak, lê lae mis wolke kombersknus oor die Ysterberg. Ek dink aan Blog Danie wat so lief was vir die wolke doer in Paraguay. Ek bid dat hy daar in sy laaste oomblikke kon op kyk en Jesus kon sien staan, soos Stefanus. Ai, mens is ontstemd oor die sagte man wat oor die eter soveel lewens aangeraak het en deel van was. Wat so lief vir ons mooi taal was.

Ek loop en dink aan Paulus wat in stiltetyd kom aanmeld het met sy in die tronk boodskap van oorvloed en armoede en dat watter omstandigheid ook al, ons alles kan deurmaak omdat ons Here Jesus ons vooruitloop. Blye versekering, sing dit in my kop en ek bid dit vir ons almal, Danie se geliefdes veral.

Julle moet die nuwe week van 2023 veilig en vredig instap. Skrik en seer en onseker die sal verby, al moet ons oomblik vir oomblik voort skuifel om uit die seer skadu in die helende krag van die son te kan tree. Groetnis.

Ons nuwe staning laat mens ver en wyd kyk.