The way you look at things is not simply a private matter. Your outlook actually and concretely affects what goes on. When you give in to helplessness, you collude with despair and add to it. When you take back your power and choose to see the possibilities for healing and transformation, your creativity awakens and flows to become an active force of renewal and encouragement in the world. In this way, even in your own hidden life, you can become a powerful agent of transformation in a broken, darkened world. There is a huge force field that opens when intention focuses and directs itself toward transformation.
JOHN O’DONOHUE
Excerpt from his books, Benedictus (Europe) / To Bless the Space Between Us (US)
Na my beswaardheid van voorverlede week, kom die teregwysing en wysheid van John O’Donohue soos ‘n geskenk en salf.
Ek wil beslis nie met hulpeloosheid en moedeloosheid meewerk om almal om my na putsonderwater deur gemoedsbekakking dryf nie.
Nee, ek wil liewer vorentoe en uithou en aanhou en meeleef met intensie.
Maandagoggend van die vierde week van Janoworrie, die langste maand. Hierdie 23e dag van die jaar wat op ‘n Maandag val is alombekend as Blou Maandag.
Meeste mense is reeds ontnugter terug in elke dag se marmotwiel bestaan. Luilekker sonskyn vakansiedae is vergete. Kinders is skool toe, begrotings in hulle maai in, en oor kontantvloei praat niemand. Dis ‘n diep uitgekalfde wadi in die woestyn en die bank verstaan nie daai diep droog nie.
Voor ek oorval raak aan die Blou Maandag gedagtes gee die honde bende van Waterval hulle benoude my blaas is vol blaffies uit die kombuis waar hulle saans op ‘n ry in hulle bedjies slaap.
Rumi skel dat die dorpsmense wakker word. Genugtig die man se skril sal oortromme bars. Ek glimlag, ten minste kommer hy in sy oopbek blydskap oor niks. Moet ‘n blaai uit sy boek vat.
Terwyl die honde buite snuffel en oral merk, sit ek die ketel aan. Gaap, gaap haal ek vier koffiebekers uit. Gooi drie lepels moerkoffie in die kan en gooi twee teelepels kitskoffie in twee van die bekers vir Bab en Jongste Tante. Moer sterk as jy my vra.
In drie bekers skeur ek versoeter uit stokkiesakkies. Ek glimlag en dink aan nuwejaar naweek toe die krose kom kuier het en die twee kleintjies betrap is met handevol versoeter. Ek pieker nou nog oor skade, versoeter gee gelukkig nie ‘n suiker energie uitbarsting nie, dit het hulle bevestig.
My koffiebeker is reg vir koffie zero – swart en bitter. Vir Rots gooi ek ‘n lepel Hartstigting Ryk en Lekker by die versoeter. Die kitskoffie drinkers verkies melk. Volroom.
Buite gil ‘n hadeda benoud. ‘n Kwêvoëlkoor oefen toonlere. “Kwê, kwê,kwê, kwê, kwê, Kwê, kweeeeê” soos die la la la la la la laaaa van sangers. In die skuur eggo die kransduiwe.
Buite kom die son soos ‘n troue soldaat uit sy blou tent en begin sy mars deur die dag. Ek het vanmore Psalm 19(Sien aanhaling hieronder) gelees uit die wonderlike hedendaagse Bybel vertaling, Die Boodskap. Die beeld bly my by en laat my hart sommer warm klop oor die liriese aard van die loflied en gebed in een.
So met die son se eerste tree is die wewers al flappend en kwetterend bokant die swembad hoog bo in die ou palms besig met hulle nesbouery. Dis oorverdowend en fassinerend hoe fluks en presies die nessies gebou word. Ek staan nog kamera in die hand toe kom sit een al op die waterbottel. Vroeg al ‘n dors om te les.
Dinsdagmiddag sit ek en Tante en gesels in die voorhuis by die swembad se kant. Die deure het ‘n strook blou glas in.
Ons hoor iets vlieg teen die ruit vas. ‘n baba Bosveld Visvanger lê vlerke uitgesprei. Uit soos ‘n kers. My hart klop bo in my keel. Ontsteld, denkende die prag juweel is dood.
Ek tel hom versigtig op in hou hom in my hande en blaas saggies. Die kleintjie roer en ek hou hom teen my bors vas. Vryf sag oor die koppie. So sit ek rustig vir ‘n oomblik met die uitasem voëltjie. Wat ‘n vredige wonder was dit nie!
Die voëltjie moes aanvoel hoe verwondererd ek was. Hy het kalm in my oop hand bly sit en toe opgevlieg om net bokant my kop op die seilafdak verder te herstel. Ek kon die fountjie gryp om die foto te neem.
Hy word die volgende dag Tjip gedoop. Sedert die vasvlieg insident, sê hy glad nie tjip-tjirr soos sy ma-hulle nie. Hy kom bad en sit in die plambom of kom sit op die draadheining en sê net:”Tjip…Tjip.” Ek reken hy het die ‘tjirr’ misgeval.
Sy pa kom hou hom dop en sit eenkant op die lapa se afdak.

Ons kry kraaigaap, verleppend warm. Heel week loop ek met ‘ n klam menopause lappie en as ek groentetjies gaan natgooi in die nethuis, sauna ek so dat ek sommer die koel straal water uit die tuinslang op myself omkeer.
Die grasperk begin kraakwit vrek. Ons het Desember laas goeie reën gehad. Wel 1mm ‘n minuut 2023 in sodat ek in die reën kon dans.
Sondag is dit broeiend. ‘n Veraf gerammel vertel van iets aan’t kome.
Paella is op die spyskaart. Ai daai poepstring skoonmaak om garnale te geniet is alleenwerk. My huisgenote soekgeselskapwaardig weg. Hulle het darem verskyn toe die tafel gedek is en daar is lekker gesmul.
Teen 15h00 pak die wolke saam en donderbui skemerte sak toe. Teen 18h00 reën dit. Die oorweldigende perkussie van donderslae is fantasties.
Ek besef weer waar die meesters hulle inspirasie gevind het. Haydn, Beethoven, verskeie Strauss’e, Berloiz. My gunsteling donderende klassieke musiek kom uit Vivaldi se Vier Seisoene. Meester violis Daniel Lozakovich vertolk dit asemsnakkend mooi. Wat is joune?
Maandag gooi ons 34mm uit die reënmeter. Mens en dier en plante slaak ‘n sug van verligting en ek en die voëls kwetter vrolik genade dankies.
Reëndruppels lê Swarofski gestrooi op die grasangeliertjies. Mooi, mooi begin ons week 5 van 2023.
PSALM 19
1Opgedra aan die musiekleier. ’n Dawidspsalm
2As jy opkyk na die hemel, sien jy hoe die ruimtes daar bo God se grootheid uitstraal.
Sy eer is oral in die lug opgeteken.
In die blou hemelruim sien jy wat Hy alles met sy eie hande gemaak het.
3Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister.
Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor.
4Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie.
Hulle boodskap word versprei sonder klanke.
5Daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie.
Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien,
is vol van sy eer.
As jy opkyk na die hemel, lyk dit of die Here ’n blou tent opgeslaan het.
6Hy het die son soos ’n lig daarin opgehang om helder te skyn.
Wanneer die son in die môre helder opkom, lyk hy soos ’n gelukkige bruidegom wat na die eerste nag by sy bruid met ’n glimlag by die huis uitstap.
Sy gesig straal.
Die son is so sterk en dapper soos ’n oorlogsheld
wat sy taak vir die dag vol moed aanpak.
7Hy begin met sy werk aan die een kant van die wêreld en loop heeltemal om tot by die ander punt.
So straal die son sy hitte op elke millimeter van die wêreld uit.
Die Boodskap (DB)
Pragtige foto’s my liewe blogmaat en jou genieting van die lewe is werklik aansteeklik. Jy laat my sommer uitsien na my dag. May you always have HAPPINESS en paas vir my aan soos wat jy vandag gedoen het 😁💞
LikeLiked by 2 people
Ja. Mind over matter. Ek weier aspris nou stelery van my siel vreugde want kyk net wat het wegkyk daarvan veroorsaak. Die beswaardes en seerkry mense baat by daai happiness en mens self ook. 💖🌻👋🪄positive vibes I send to you always.
LikeLiked by 1 person
Pragtig geskryf soos net jy kan! Jou foto’s is so mooi en ek is bly klein Tjik het net sy tjirrrr verloor.
My gunsteling donderende musiek is Rachmaninoff se Prelude in C# mineur. As mens daardie akkoorde so raakvat, moet jy pluisies in jou ore sit.🥹
LikeLiked by 3 people
Miskien moet ons ‘n donder lys aanmekaar sit om ons aan groots te laat verwonder en so ons harte groot te hou.
LikeLiked by 1 person
Donderbuie … iets wat ek glad nie geken het tot ons hier in Oos-London gekom het! Die een oomblik is die lug blou, die volgende spierwit van wolke (en dan amper swart) en dan daardie donderslae … dis pragtig! En kyk hoe mooi lyk jou grasangeliertjies met die druppels water! En hoe pragtig is Psalm 19 – so lewendig en beskrywend, dankie vir die deel!
LikeLiked by 2 people
Hoe lekker dat jy ook nou donderslae ervaar. H0e gaan dit met manlief?
LikeLiked by 1 person
Dit gaan heelwat beter, dankie Mater! Hy’s by die huis (waarvoor ons baie dankbaar is), maar daar le nog ‘n lang herstelpad voor – hy (en ek 😉) het nou baie geduld nodig. Hy gaan more weer x-strale en bloedtoetse laat doen en sien die dokter weer Vrydag … ons glo en vertrou die resultate sal ‘n positiewe uitkoms he.
LikeLiked by 1 person
🙏🌻💝
LikeLiked by 1 person
Pragtig geskryf met inspirerende fotos.
Erik skel ons en die hele buurt ook aan die gang 🤣
Ek sien sommer nou kans vir Februarie met sy kort dae, sneeu en koue. 🫶
LikeLiked by 2 people
Ek ruil jou nie die koue nie. Rumi blaf groetnis vir Erik.🌻👋
LikeLiked by 1 person
🐶🐕🐾
LikeLiked by 1 person
Dit is soms moeilik om op die positiewe kant van die lewe te kyk, maar John O’Donoghue is reg en ons sal dit moet onthou 🙂
LikeLiked by 2 people
Absoluut. Soms is dit erg tandekners.😬
LikeLike
Yoh!! Pragtig geskryf, jy laat my sommer mens voel hiermee. Mal oor jou fotos. Ons het self reën gehad hier ( seker oor “seeding”), maar was wonderlik.🌻
LikeLiked by 1 person
Dankie vir die gereekd kom inloer.🌻👋
LikeLike
Mooi mooi!!! Hoop Tjip kry sy tjirrrrrrrrt terug
LikeLiked by 1 person