So is die eerste week van 2023 ook verby.

Die donderende desibel van die hadidas maak my vanmore op die stil Sondag wakker. Hoe vreeslik dat ‘n gevlerkte hoogtevrees het! “O, Gaaaaats,O Gaaats, Helppp, Helpp!” Klink vir my die verkeerde asem is in die verkeerde lyf. Het jy geweet dis die derde luidste kreet ter wêreld? Brasilië se White Bell Bird is die luidste teen 125 desibel. Die man se “Kom hier ou dier,” geskal sal oortromme bars! Sover ek weet is die Amasone redelik aan mense ontdaan. Seker maar goed so.

Die wewers bou nes bo in die palms by die swembad. Dis ‘n getjirp van vroegdag, vlerke wat fluks fladder en bekkies vol gras en geskeurde palmblare. Kunstig en blitsig neem nessies vorm aan. Die palms lyk soos krismisbome. Die wyfies reeds bliksemrig ontevrede met die b(r)ouwerk.

Wewers in aksie
So lyk besig

Dit het goed gereën Die grasperk is lieflik groen en het sy eerste sny vir 2023 agter die blad. Ons het lekker midde-in ‘n waatlemoen gebly. Daai vars gesnyde gras reuk laat my mond sommer water.

Ek oes tamaties dat dit klap en more lê ek Serrano rissies in. Dis Jalepeno rissie se boetie. So lekker om eie goed te kan verwerk en geniet.

Wat ietwat moeilik is om te verwerk is die oormaat vlieë in ons omgewing. Oral kla almal. Hier by ons help dit ook nie dat die palms sulke oranje taai vruggies afgooi nie. Pure lokaas lê oral by die agterstevoor deur van Waterval se opstal.

Ons het allerlei vlieëdoders in werking. Tot bakkies vol rou heel naeltjies. Dis wil my lyk of die skerp skoon reuk die peste wegjaag. Aaklig om dooie vlieë oral op te vee en heeltyd soos Australiërs met die hand voor jou gesig te waai.

Moet net deel. Ek het ‘n feestelike verjaar op die Oujaarsdag gehad. My kinners en kinnerkies was by my en hulle het my verras met ‘n rêrig-erige verjaardagkoek met “Happy Birthday” kerse en al. Ek kon hulle in een asem doodblaas. Dit was ‘n smerige lekker Swartwoud koek met room en kersies, g’n oorblyfsel krismiskoek vir myle te sien nie.

My kinders weet hoe om my hart bly te maak! Mooiste Moeder Natuur erdewerk persent gekry. Versinnebeelding van my lewe met al my geliefdes. Ek sal dit ewig koester.

My sielemaat en vriendin van baie jare het ook spesiaal vir my die skepping gegee. Ontmoet Gouwsblom die tarentaal, so een sal jy nêrens te siene kry nie. So lekker as mense jou hou-van wéét en verstaan. Ek is geseënd.

Dit het op die kop 0:00 op 1 Januarie 2023 op Waterval begin reën. Ek kon in die reën die Nuwe Jaar in dans. Net ek en Bab was wakker. Ons het gebid ook. Dankbaar, dankbaar.

Toe ek laat Nuwejaarsdag wakker word groet ‘n ou bekende krap in my longe! Ek het 29 Desember saam met Bab vir Tante Jongste weggeneem Egoli toe. Ek wat byna nooit die plaas verlaat nie gaan reis en beweeg tussen onbekendes…drie dae later slaan die gogga my. Hond siek en voor ek kon keer blaf ek my weereens uitasem…so varkerige hoes soos 2019. Daai amper floute aanhoudende hoes en daar is niks. So twee dae later is Bab eb Rots ook olik. Vieslike kieme.

Ons voel maar nog pap, maar niks wat lekker tuisgemaakte hoendersop en Griekse platbrood sal beter maak nie. Dis nou ‘n lekker vinnige lekkerte die broodjie: sout, ongegeurde Griekse jogurt en bruismeel…tjoef-tjaf njammies.

Om my lamheid te besweer het ek sommer vroeg vanoggend my kamera afgestof en al hierdie kiekies (die verjaardag prentjie uitgesluit) in en om die huis deur my lens bekyk. Ek is maar roeserig, maar dit was lekker om weer my kyk te kyk en vas te vang.

Lees die mooiste waarheid raak in ‘n artikel deur Audrey V. Jantjies, Oom Boeta Ten se raaisel. Die kort weergawe: Klomp mense wat die nuwe jaar inwag en kerm en kla oor alles en nog wat. Die 92- jarige Oom Boeta Ten beluister hulle klagtes en sorge so en vra vra ‘n kleintjie om ‘n sak te bring. ‘n Leë goiingsak is gou in die vereelte hande. “Wat is in die sak,” vra hy sy gehoor. Niks, biekie sand, so raai ‘n paar. Oom Ten skud die sak, dis leeg. “In die sak is plek,” se hy rustig en verlaat die stom geslane geselskap. Die goiingsak het spasie waarin sorge en seer weggepak kan word. Vrede het haar oorspoel vertel die skrywer. Ek vind die sak met spasie idee ook vertroostend. Ek gaan hom gebruik in 2023.

Wysheid vir die week van Anoniem (slim ou dié): Pasop wie jy op jou skip toelaat. Sommiges sal die hele skip sink, omdat hulle nie die kaptein kan wees nie.

Mag jou tweede week van die langste maand vol pret en seën wees. Draai jou kop na die son, soos die sonneblom.

Arrie warrie en groetnis en so aan.