Dag 1

Hier op die Waterval werf leef ons met die middel-van-‘n-waatlemoen-reuk van vars gesnyde gras wat ons neuse kielie. Ek bly in verwondering dat ons skaars vier weke gelede in droefnis gesit het dat die grasperk en plante so smag na water, en nou gier en tier alles met verwoede lewenskrag. Daar het ook ‘n paar Agapant spiese te voorskyn gekom en Tjip-tjir die Bosveldvisvanger het sy opwagting gemaak. Elisa noem hom die reënvoël. Getrou kom die hemel blou territoriale gevleueldes sedert 2010 na die ou sering by die ringmuur. Ek verwonder my dat hulle jaar na jaar na die nes terugkeer.

Die ruie getrompetter van die vrolike petunias in die blombakke by die kombuis en agterstoep bied eindelose eindelose plesier. Een klomp lyk soos purper en pienk hemelruime met sterre gespatter, die ander weer of iemand met ‘n kwas kom ekstra beaarde kleur kom byvoeg het.

Dag 2

Wat is dit van ‘n pampoen blom wat so mooi is? Die helder geel, wat jy weet gaan in sy opbrengs ook verskyn? Of is dit dat die sagte kelk so ‘n harde vrug kan oplewer? Ek staar na die wonder en my onthou laat my Ouma die Hubbard sien skil. So dat ‘n bietjie van die groen nog aan die diep geel vleis wys. ‘n Gekapte ui word bygevoeg, en suiker en botter en net genoeg water om die spul te laat stowe. Die water kook metterwyl weg, en die botter en suiker skroei karamel. So titsel kaneel en neut word deur gemeng. Salige hoor, sien, ruik en proe onthou.

Die streepswawels hou ‘n vlieg ren van formaat en twee warrel die kombuis in en uit dat ek moet koes. Die gevleueldes speel baas oor die lug en ons harte. Gister kon ek sit en kyk hoe die roesbruin paradaysvlieëvanger en sy maat soos wafferse sier duikers grasieus in die swembad induik, op ‘n palmtak in die son vere skud en dan weer en weer kom lafenis soek in die fletsblou water.

Dag 3

Ek het verlede week se Van Alle Kante rubriek van Wilhem Jordaan verslind. Oor liefhê en sielsmaat verhoudings. Hy skrywe: “Sielsmaats…vertrou hulle lewe aan mekaar toe in ‘n veilige ruimte van volgehoue wedersydse ontdekking en bevestig só dat hulle vir mekaar bedoel is; dat hulle vrywillig aan mekaar verbind geraak het en dit vrywillig in stand hou in die liefde se bruisende, omdolwende versnellings en in die stiller strome. Hulle word dan soos die digter Eloise Healy in “Seperate Pieces” skryf, ‘n “onverdeelde wensbeentjie” – ineengerank soos liggaam en gees. En hulle saamhoort word ‘n groeiende wonder wat hulle stom verwonderd laat.”

Ek vra vir Rots of hy dit gelees het. Hy sal later vertel hy. Gistermore in die warrel voor werk toe gaan, kom ek van die stoep waar ek suet balle en suikerwater gaan uitsit het. Sowaar, die suikerbekkie vlieg sommer nader terwyl ek die waterbottel haak. So mak en tuis.

Rots is op pad om sy handdoek te gaan ophang, hy draai so na my en hou sy hand oor sy hart. “Ek het Wilhelm se rubriek gelees,” sê hy. Ons siele het stil warm met mekaar gepraat in daai moment. Lekker om saam met hom te wensbeentjie, al is dit so effe gekraak.

Dag 4

Dit reën Kaaps hier, sag en aanhoudend. Die reën tabel vertel van 167 mm tot dusver. Ons leef geseënd. Maar ook met seer. Ons swartsak swaweltjies se nes het gebreek. Daar was drie ou babatjies – veerloos, weerloos. Ek het hulle nog lewend gekry, maar later die reëndag was enetjie yskoud leweloos weer op die grond. Ek het geween vir die ouers wat so kweel kweel op die venster kom sit het. Hulle het die oorblywende twee babas moedig en getrou by voer, so in die gebreekte nes. Die hibiscus met sy reëndruppels huil saam met my.

Dag 5

Vanmore leer ek by ‘n medeblogger om dankbaar te wees gister is verby, en meer dankbaar dat vir ons ‘n nuwe dag bygevoeg is. Dis reg so, maar dis vandag moeiliker as ander dae.

Ek skrywe hier met ‘n stukkende hart. Bebloed seer soos stukke vleis aan ‘n doringdraad. Ons Karoo droom is op ‘n einde. Die chaos wat die tyd van die pes in ons lewe gesaai het, is ‘n nie-omdraai pad. Ons moet eenvoudiger leef, daar is nie plek vir vashou aan eendag drome nie. Dis hard om na al die jare ‘n siel- en hart voedende deel van mens se lewe te moet laat gaan. Ons drie is tranerig, seer en moeg probeer. Ons moet hard werk om sag met mekaar te wees. Ons huil en raas en grom en dan bid ons maar liewer.

Ek kan nie nou bekostig om die duiwel en Bloubekruip vastrapplek te gee nie. Genoeg is verpletter en verby. Ek vra maar ewe menslik hoekom en getrou kom my antwoord via Brianna Wiest se mooi gedig en ek leer dis beter om te weet waar jou voete nou staan.

… it’s okay for things to be just as they are.
Little by little,
you will begin to see that life can only grow outward in proportion to how stable it is inward …
That if the joy is not in the little things first,
the big things won’t fully find us.

– Brianna Wiest

Skielik raak dit binne my stil. Daar is niks fout met ‘n eenvoudige bestaan nie. Doen jou bes met wat jy het en wat voor jou kom staan. Wees lief en leef nou in die oomblik. Hierdie berg sal jy uitkom en more het jy nuwe vistas om te aanskou en kan jy wyer en wyser kyk.

Dag 6

So met stilseer tref ons voorbereidings dat Rots en ons twee getroue werkers Karoo toe ry om die woonstel te ontruim, en kwotasies te kry om die ou huisie se elektriese werk en watertoevoer aan die werk te kry sodat ons dit kan verkoop. Ek gryp maar weer vas aan die wysheid dat more deur klomp huidige oomblikke gekomponeer word. Dat ons bewustelik in nou moet staan, want so kom nuwe planne, drome, avonture. Die teleurstelling sal ons tree vir tree deurtrap en vorentoe beweeg, en in die oomblikke vir ons nuwe mores sal bou.

Die wysheid leer ek in “Forever is composed of Nows” deur Emily Dickinson.

Forever is composed of Nows –
’Tis not a different time,
Except for infiniteness
And latitude of home.

From this, experienced here.
Remove the dates to these.
Let months dissolve in further months.
And years exhale in years.

Without certificate or pause
Or celebrated days,
As infinite our years would be
As Anno Domini’s
.

Die samelewing se vermoë om ‘n verbeelde tydlyn te skep om vooruitgang en voorspoed te skep maak van ons besige skepsels aan die hardloop met warrelende “ek was gister daar, vandag is ek hier en more sal ek doer wees” gedagtes. So strewe en swoeg ons deur die lewe en die werklikheid ontwyk ons. Tyd is ‘n aaneenlopende snoer van huidige oomblikke. Buite die kamers van onthou het ons net hier en nou. Ek hou van Dickinson se beeld dat vir ewig ‘n stroom huidige ervarings is.

Dag 7

Die gras word gesny en die binne in die waatlemoen reuk warrel weer om die huis. My en my gesin se harte bly stil seer. Rots is vanmore 03:00 weg. Dis alweer loadshitting, en die swaweltjies is besig om hulle nes te herstel. Om aan te gaan en aan te hou. Net so sal ons ook, hier, geborge op Waterval.

Ek oes ‘n handvol Mariana Jêm tamaties. Vanmiddag maak ek kaas en tamatie toebies vir my en Tanna. Tamaties uit ons eie nethuis! Rots hulle reis goed, hulle is al op Kroonstad.

Omdat die lied nie verder gaan, begin ons weer van vooraf aan.

Oomblik vir hoopvolle oomblik.

Altyd.