Die pittepatte reën kom toe weer net voor 4:00. Rots se weer toep was reg. Ons het net na ses 14mm uit die reënmeter gegiet.

In die nethuis moet die gieter reënwerk doen. Die eerste Jêm tamaties kom mooi aan en die eiervruggies lyk soos purper juweeltjies. My opgewondenheid is egter groter oor die “heirloom” tamaties wat ek van saad gekweek het. Hulle is reg vir uitplant. Mooie sterk plante.

Die geloofsdaad aspersies is uit hulle potte in beddings. Dis ‘n interessante en langsame en hoopvolle proses. Ons sal, na wat ek oplees eers oor twee jaar begin oes! In die buite tuin woeker pampoen en skorsies en Elisa se sonneblomme is oral in die tuin aan die opkom.

Die honderde agapant soldate het nog nie hulle spiese begin staanmaak nie. Ek dink die oes gaan maar skraal wees na die lang wegbly van reën. Dis altyd ‘n somer hoogtepunt as die keiserskrone pers hemelwaarts reik. Wag en kyk maan my hart my.

Sedert 15 Oktober is al 120 mm se seën aangeteken. ‘n Engel of ses het getrou in opdrag oral emmers stikstofryke water omgekeer en nou vloei grasgroen oral op die werf.

Rumi het kajuitkoors en tart arme Oscar, Ringo en Milo in moedeloosheid in. Hy het die werf se mense se respek, want hy het al twee rotte van kant gemaak. Sy Schnauzer-Staffie gene loop sterk. Ek is betower deur die klits wat maar 800 gram by geboorte geweeg het en vreeslik deur sy sibbe geboelie is. Hy was van meet af bekkig kwaai met hulle. Vandag is hy ons vreugdevolle, baie spelerige en lief brak. Hy bring speelgoed en dra balle aan. Kom vra om mee gespeel te word. Help my bed opmaak en gryp beddegoed , alles in die naam van speel. Hartedief Rumi.

Die huis is modder gespoor. Ek en Elisa loop met matsjampoe en borsels om modder poot patrone uit te wis. Hartewens dat die eetkamer en sitkamer se matte met teëls vervang kan word.

Ek reken Rumi en Oscar se plan om die weer uit te wag is die regte een. Ek gaan ‘n storieboek soek. Dis moeilik om een te kies, na Dibi Breytenbach se nuutste krimi, Buit. Ontsettend, onthutsend is die verhaal oor die wreedheid en stropery van Afrika deur geld en magte met bose agendas.

Sy praat van ‘n ‘herkalibrering van haar Afrikaanskap‘ in ‘n Litnet onderhoud. “Ek dink dat die pennie, soos die Engelse sê, na ’n geleidelike ontwaking vir die eerste keer behoorlik gedrop het dat ek ook ’n deel van hierdie kontinent is. Hoe meer ek geskryf het, hoe kwater het ek geword. Vir die eerste keer het die diepte van die skade wat deur kolonialisasie aan die kontinent aangerig is en steeds aangerig word, tot my merg deurgedring. Trevor Noah stel dit goed – dat ons vir ’n baie lang tyd in Africa Lite gebly het. En dat ’n mens met die skryf van ’n boek soos Buit by Afrika proper ingelyf word,” vertel sy.

Haar ysingwekkende, bloedstollende verhaal het my laat besin oor ons lewe en plek hier aan die Suidpunt van Afrika.

Sjoe, ek besef nou eers hoe die lees van die verhaal op my gemoed vol warrel en my aan die dink het. Miskien moet ek liewer vraatkyk aan ‘n reeks op TV…of miskien pannekoek bak…of miskien sommer woorde snoer en mooi musiek luister. Get you next to me, loslit blue Arthur Adams en BB King….ek bly net hier dat my speellys en woorde my gedagtes ligter kan kry.

Groetnis.