Vrydag se dagbreek is pêrelskulp pienk en blou tussen die wolke. ‘n Sterk en belowende bergwind waai fluks van die Ysterberg se kant in. Die gras en plante woeker uit hulle winter droog. Die lente se lewegewende groeikrag
is oral te bespeur. Die kantgordyne swoesj-swoesj voor die oop vensters.
Twee roloppies (sjongolôlos/ shongololo/songolôlo) staan ewe geduldig langs mekaar by die toe swembad stoepdeur. Ek het skaars die slotte opgetrek en die twee deure na buite laat swaai, toe duisendpoot hulle in gelid uit. Ek lag sommer vir die simpel prent in my kop van duisend skoene moet poets. Mens se kinderlike verbeel is naby die oppervlak gedurende hierdie lente dae.
Daar word vertel dat ek as peuter ’n duisendpoot sonder skroom geproe, nee liewer middeldeur gebyt en gekou het dat die sop en dinges so spat. Tot my ouers se ontsteltenis. Ek is maar bly ek onthou nie die ervaring nie. Ouer ek gril tot in my DNA by die gedagte! Blegh!
Is ons mooie taal nie fantasties nie? Die duisendpoot is ook, benewens die name hierbo gebruik, in verskeie landstreke
genaamd reënslangetjie, reënwurm, rolletoe, roltoe, roltoes en swaarweerwurm. Ek moes geweet het die twee wagtendes by die deur was voorbodes vir wat later die dag sou volg. Swaarweerwurms, voorwaar.
Die padda-orgie in die swembad is onthutsend, want hulle blerrie versuip en dan moet ons na ‘n nag se bras en kwaak, die lyke uit die dam skep. Ons het pas die nag se dood oes uitgeskep, en sowaar daar is alweer twee aan die rinkink in die fuik! Kan hulle nie maar die plaasdam gaan opsoek nie? Ek moet nog loop soek hoekom hulle so selfmoordend is in die reëntyd. Ek het verniet ‘n
uitklimplek vir die janbloms, kerkvorse, kikkers, kikvorse, kirkvors, krikvorse, krukvorse, kukvorse, kwikvorse, oudakke
of plandoekas probeer bewimpel. Dankie Viva dat ek so klik-klik al die mooie name vir paddas kan string.
Oral is klein wonderwerke, dou wat soos diamante in die nuwe groen gras spriete glinster. ‘n Stuitige warrel verander ‘n spierwit
petunia blom in ‘n ballerina in ‘n uitskop rok wat oor die gras dans. Duiwe vlerksleep, uit die kosbakkie aan die stoeptralie kom houtkappers mondevol lekkerte uit die suetballe skep vir hulle krose. So mak en gewoond dat mens hulle mooi kuiwe en vere van naby kan bekyk. Seëninge.
Die sterk bries word toe ‘n siedende Banshee. Sy het die wolke so vinnig en dig by mekaar gegil dat dit teen 15:00 soos vroegaand gelyk het. Donker en moerig. Genade, haar skril skrei het die ou groot palms om die swembad so laat ruk dat hulle oudste takke en ‘n paar swak nuwes laat los het en in missiele omskep het. 18 mm in agtien minute. Dit was woes en so is die krag ook met die
eerste bliksemstraal verdwene. Gelukkig is dit braai-aand en Rots het so blik afdak vir sy braai prakseer, want hy sal vergaan as hy nie op ‘n Vrydagaand kan vuur maak en vleis van ‘n aard in lipsmak smul kan omskep nie.
Dis ‘n lieflike skoongewaste Saterdag. Dit lyk aardig om die swembad, maar soos sport entoesiaste na die telbord kyk, teken ons milde reëns aan by gister se datum. Die huismense sit voor die kassie, want jy weet mos. Rugby.
Die Tanna van my is eergister in massa aankoop in gepraat deur ʼn bekkige Kaapse vis smous. Ek het amper omgeval toe sy met skoongemaakte kreefstert, koningin garnale, stokvis, koningklip en tongvis in kartonkissies huis toe kom. Sy sou net saam met ʼn vriendin gaan verjaar ete geniet, en grassaad koop. Nou ja toe. Die vrieskas is tot oorlopens toe vol. Vir aandete word my oer Mediterreense gene en innerlike Nigella beproef. ʼn Smörgásbord seekos, souse en roerbraai groente rys is op die spyskaart.
O, Rots het tydelik ‘n nuwe naam. Ek was vroeër die week bitterlik vies omdat niemand (lees Rots) onthou om die ou generatortjie met brandstof te vul nie. Ek is links en bitterlik onhandig, en ruik altoos soos ‘n rêrige petrolkop as ek die brandstofhouer met sy ou piepietuitjie stil moet hou om mooi in die generator se tenk opening te laat straal. Omdat daar meestal baie lêers in my brein gelyktydig oop is, vergeet ek nou die dag om die luggaatjie, wat help dat die tenk mooi straal, se prop los te draai. Ag jinne, die tenk tap soos ‘n probleem prostaat geval. Ek het darem nie gemors nie en het nie met brandstof parfuum my dag moes deur nie.
Toe Meneer Rots tuiskom, kla ek soos vroue kan. Hy lag, en sê hy is jammer, want hy is die niemand. Ek lag terug en
doop hom Bushy (oor sy te lang hare en staalwol in sy nek) Niemand. Ek het darem vanmore sy hare geknip, en hy doen meestal goed, dat hy darem nou weer Rots heet.
Lekker naweek en groetnis.

D
Julle het reën gekry – hoe wonderlik! Sover het on 1mm hierdie November ontvang, so ons wag nog. Ek het hierdie stuk so lekker gelees: jou beskrywings is so goed!
LikeLiked by 1 person
Dankie dat jy immer kom lees en my warrels geniet. Ek sit julle op my reën bidlys. 🌻
LikeLike
Ag, daardie lekker reen! Wat ‘n wonderlike seen. En vanaand is daar ‘n bord koningskos lyk dit my (as ek net eers die prentjie van jou met die duisendpoot in die mondjie uit my kop kan kry 😉). Jy vertel alles so mooi, voel ek was nou self daar om alles te sien!
LikeLiked by 1 person
Dis vir my hartwarm lekker as julle by my lekker lees .🌻 My familie vertel graag die kou gruwel, ek gril erg vir die nie-onthou nuuskierigheid.😉
LikeLiked by 1 person
Lekker gelees en is mal oor daardie mooi grasgroen en helderblou swembad. So ‘n mooi foto.
LikeLiked by 1 person
Dit was nou ‘n lekkerte, ek voel sommer die lekkerte van die reen en plaas lewe!
LikeLiked by 1 person
Dankie dat jy kom saam lees en kuier. 🌻
LikeLike
My weereens verkneukel!
LikeLiked by 1 person
Jou lekkerkry maak my hart bly.🌻
LikeLike
Ek het jou skrywe geniet. Deesdae is brandstof parfuum een van die duurstes om te hê
LikeLiked by 1 person
Dis waar. Maar om die dure parfuum tuis te dra is selfsugtig.😂😂
LikeLiked by 1 person
Heerlik gelees aan jou pragtige afrikaanse woordstringe.
LikeLiked by 1 person
Hart warm bly as jy lekker lees en saamgesels.
LikeLike
Daar is min mense wat so mooi die taal kan gebruik soos jy. Jy inspireer my. Sjoe ek het so baie geleer , nie geweet daar is soveel ander name vir paddas en sjongololos nie… Jou blog maak met vars voel nes die reen..
LikeLiked by 1 person
🤗🌻
LikeLike