Onthou oomblik onderweg na InniBos Julie 2017

Dis so lekker om te kan relaas dat ons die afgelope tien dae gereeld so oomblik ademloos stil kon raak toe ons heerlike donderbuie met daai groot swaar druppels en fyn stikstofryke haeltjies gehad het. Hierdie Waterval plaas was lanklaas so droog, en ja, Eishkom se swak dienste en kraglading help ook nie veel nie. Mens en dier staan botstil in die reën, en ja ek is voete nat…moes gaan kyk en voel. Julle weet mos nou al ek reëndans graag. Die donderweer het verby getrek en die aarde en gevogeltes juig oor die verligting. Tagtig millimeter sê hemel seën tot dusver.

Ek pik al heelweek verward, my gedagtes warrel oor drie ToeValLigge leesstukke in Beeld van 26 Oktober 2022.

Eers skrywe Wilhelm Jordaan in sy Van Alle Kante rubriek dat nostalgie hoef jou nie net aan die verlede bind nie. Hy en 300 ander manne het Grey Kollege se 167e jaar gevier. Ek is skoon jaloers dat hy voel die skole soos Grey “besorg jou ‘n diepliggende plekbewussyn – ‘n geborgenheid en herinnering waarvandaan jy kan uitgaan na ander plekke, die wêreld in. Dié plek, jou skool, plaas jou in die wêreld. Dit gee jou ‘n adres waaraan jy geken word.”

Hy haal ook Marthinus van Jaarsveld se wysheid oor ‘n huis aan:”Jy gaan in om uit te gaan en jy gaan uit om in te gaan. Waar hy staan, bepaal jou uitsig en soos hy daar binne uitsien, bepaal hoe jy die wêreld daar buite gaan sien.”

Jordaan sluit sy rubriek af met: “Nostalgie…is eerder ‘n borrelende heilsfontein met helende water wat deur jou spoel en jou voed om die deur na die toekoms oop te stoot; die donkerte in te beur.”

Mooi gesnoer, maar hoekom voel ek nie so nie.

Ek het ‘n aardige ervaring gehad in 2017 toe ek en liefkind Marelize via onthoupaaie InniBos gaan geniet het. Ons het die panorama roete via Origstad, Graskop en Sabie na Nelspruit gereis. Daar bokant die Bourke’s Luck kolkgate stip ek by Goedgeloof Plantasie se hek. Ek vertel vir M hoe ons lank gelede vir ‘n kort wyle as gesin saam kon woon. Ons het op Pelgrimsrus skoolgegaan. As gesin saam gesnoer op ‘n mooie plek. Ons was bymekaar.

Die onthou noop my om se stop en die hekwag om te koop, sodat ons die plantasie kan binne gaan. Die saagmeule wat my pa gebou en bestuur het ‘n bouval. Ons ry op na die huise se kant. Die buitegebou waar ons smiddae ‘n plaaswinkeltjie bedryf het staan nog. In die deur waar die winkeltjie was, staan ‘n groot Duitse herdershond. Ek snak na my asem, ek kon sweer dis ons China die getroue Alsatian van my kinderdae wat my witoog. Hoe toevallig. Ons boomhuis se bloekomboom is ‘n stomp. Niks lyk soos daai vesting en geborge plek wat ek onthou nie…

Sien julle hoekom ek pieker?

Daar is ‘n rits skole en koshuise en wonings in my onthou. Nooit êrens lank genoeg om wortel te skiet of om te behoort nie. Daai is nie my in en uitgaan in die wêreld nie. Soos ‘n tolbos ‘n rukkie hier en dan daar. Altyd die nuweling, vreemdeling, inkommer. Net my geloof en gegewe talente my sekerheid in die wye wêreld.

In haar Godsdiens-aktueel rubriek vertel Christina Landman dat sy na haar besoek aan die Moffat Mission buite Kuruman besoek het onthuts was. Daar waar die eerste Tswana Bybel vertaal en ter plaatse gedruk is. ‘n Belangrike monument en stuk geskiedenis. Toegegroei onder bossies en aan die verval soos soveel dinge in ons mooi, stukkende land. Ek wonder ook saam met haar oor die baie ongedeelde geskiedenis wat onvertel oral agter bossies lê. Ons kan mekaar soveel beter verstaan deur stories.

So aan die wonder kom klits Stephan Joubert se oordenking vir my lekker. “Kom uit die verlede-tronk.” Ek sit doodstil en lees dat mens moet kies om nie deur die verlede se pyn gedefinieer te word nie.

“Ons raak vry van sulke laste as ons nie gedurig in die donker laaie van die verlede rondkrap nie. Fokus op hier en nou en elke dag se nuwe genade soos in Klaagliedere 3:22-25 beskrywe, is ons s’n.

Maar Here, bid ek so in my enigheid, my laslappie gisters was almal eens ‘n nuwe dag en nuwe genade. As ek terugkyk aan my unieke pad deur die wêreld en op onthoupaaie loop sien ek dan hoe U my in genade toegevou het toe ek struikel struikel my pad geloop het. Onthou vul my lankal nie meer met seer nie. Dit hou my dankbaar beker vol, saam met elke nuwe dag se oomblikke.

Ek kry onverwags ‘n persoonlike stukkie bevestiging dat ek op die regte spoor oor onthou is.

“Fokus op die littekens, nie die wonde nie,” skrywe iemand aan my. Kapow, solar plexus raak tref dit my. As jy te ver terug kyk sien jy nie die heel word en groei raak nie. Dan muggiesif jy so deur rerige en gewaande seer en verwonding dat jy in ‘n kokon bly vassit pleks van vlerke ontvou en te vlieg. Jou littekens soos kleurevolle patrone op daai vryheidgewer vlerke.

Hoe bly is ek dat pieker en wag my by nuwe kennis en ‘n blertsie wysheid gebring het. Ouer ek lag vir die tiener ongeduldige en voortvlugtige emosies wat so dikwels my ontspoor. Emosies is vervlietend….wag hulle uit.

Daar het jy dit. Onthou dit volgende keer, maan ek myself. Jou littekens is erekleure in lewe. Jy het oorleef en jy is hier en nou. Leef elke oomblik.