Kom sit, kom sit. Terwyl ons saam met die vuurhoutjie droog veld wag op ons suster reën. Hierdie hoopvolle tyd waar swaeltjies huistoe kom, wewers begin adres op ‘n sterk tak soek. Die jakaranda, koraal en ontoublom en vanwykshout spat kleur hemelwaarts. Die groentetjies gedy en woel en oral in potte spog vygies en petunias met dieprooi, pers en pienk. Die verf engeltjies het onderweg na Namakwaland net so bietjie uit hulle emmers kleur gedrup. Dis goed so.

O, daai eerste rammel en die diep reuk van stof wat deur waterdruppels tot modder gemaak word. Die reuk van genade en verligting. ‘n Sekere belofte, die nuwe seisoen is hier. Tyd vir ontwaak, groei en genees.

Siklusse

So 40 jaar gelede is die eerste cd uitgereik. Ons het tipies van SA mos nou nie die grênd dadelik gekry nie. Bab nou 36, was so 8 toe goeie vriende vir Rots so ‘n plat pakkie persent gee. ‘n Cd van Worsie Visser se Boesmanland album.

Synde middelklassers was daar net die getroue hifi met platespeler in die voorhuis.

Rots was ‘n kunsmissmous en het van die huis gewerk. So het hy toevallig in die tyd ‘n nuwe rekenaar met ‘n cd speler gekry. So sit ons gou as gesin om die rekenaar en luister deur powere luidsprekers “Boesmanland. Vat my hand…”

Ek het toe gewonder wat sou word van ons reuse plateversameling. Dié is metterwyl in ‘n trommel verpak en liefmense het dit nou die dag oorgekoop. Bykans 40 jaar later. Die cd versameling word sommer lukraak uitgedeel. Alles is mos nou op fone, ipods en tablette.

So werk bykans alles in siklusse. Kom en gaan, groei en taan.

Eindtye

My haarkapper en ek gesels oor geweld, loadshitting en die mensdom malligheid terwyl sy die laaste beduidenis van kleur uit my kapsel snipper.

Ek omhels mos nou natuurlik grys word. Sny paljas kleure so metterwyl uit dat Charlie Weir se kol en Ouma se sout en peper kan wen.

“Wat word,” vra ek. Bedoelende hoe wys die grys. Liefste M, duidelik nog by ons dieper gesprek sê:”Eind tye, Tannie.”

Ons het die salon se dak laat wip van die lag. My haarkleur en die wêreld met eindtye besig.

Genade

Sondag luister ons die erediens oor RSG. Ds Hennie Stander van Tukkies vertel met sy mooi bry van die Ethiopiese enuk wat besoek aan Jerusalem gebring het (Handelinge 12). Hoe Fillipus beGeesterd saam met die man se karavaan loop. Die Ethiopiër was besig om in Jesaja te lees van ‘n gewillige Lam. Die woorde se betekenis het hom verwar en so begin Filipus hom vertel van Jesus en vergifnis.

Ds Stander beduie dat al hang jy in daai tyd die Joodse geloof aan, het wette oor gebrek en liggaamlike tekortkominge die Ethiopiër verbied om die Tempel te betree of ‘n offer tot God te bring. Dink net om so ver te reis, net om onverrigte sake weer te moet huistoe op ‘n kameel se rug. Sy eie kultuur vereis dat mans wat in die koniningin se woning werk ontman moet word. Mens kan nie wen nie, nè.

Gou ontsluit God se beloftes vir die Ethiopiër en hy vra om gedoop te word. Niks skei hom of ons van God se ewige liefde nie! Jesus het daarvoor gesorg. Mensgemaakte rites en reëls geld nie. Ek wens almal wat deur mens woorde en vooroordele ver van God voel, kan die Ethiopiër se belewenis hê.

Na die diens sê Rots: “Ons is so aan leliewit Jesus geïndoktrineer, dat ons nie hierdie verhaal in Sondagskool en katkisasie teëgekom het nie.”

Ek lag en sê vir hom dat God se alwysheid Sy Seun in die middel van die velkleurspektrum aarde toe gestuur het. Mooi en blas en lief vir pikswart tot albino bleek en alle skakerings tussen in, terwille. Dink jy nie ook dis ‘n genade nie? Net jammer ons hier op die ondermaanse kan of liewers wil dit nie snap nie.

Tata tot later

Dis snikheet en die wolke pak saam. Belofte vir uitkoms in genade getooi en met hoop gestrik.

Nou toe. Die tee is koud. Kom ons gaan saai kappertjies en afrikanertjies by die murgpampoen en komkommer saailinge wat Tante vanoggend uitgeplant het. Die son skyn en gevlerktes kwetter en kweel.