Kyk, ek moes toe nou eers bietjie stil wees en mooi dink oor hierdie blog. Julle onthou hoe ek lekker groen en goud betotterd vir die eerste toets teen die Wallabies in Doer Onderland broodjies gebak het en op die ou einde hulle Bokkerolletjies herdoop het.

Dit het alles met die harde doodmaakhou aan die siel van rugby (John Smith, oud-Bok kaptein se woorde, nie myne nie) begin. Daai ou streel vegie van Faf de Klerk aan Nic White aka Lord Kitchener was darem sokker drama styl en amper Oscar materiaal. Genade. Rerig onrugbywaardig.

Heel wedstryd was ‘n akkies skeidsregter en die Wallabies se klein venyn besig om Springbokmoere te koer. Ek het nie ander woorde nie. Ons het liederlik verloor. ‘n Week lank is wonde gelek en gemoedere kalmeer.

Dis nou buiten in die Springbok kamp. Lesse geleer het hulle Saterdag 3 September 2022 met mening uitgedraf. Die Wallabies se venyn en gekrap waar dit nie jeuk nie het die wedstryd gou in die tweede hoofstuk van een verhaal wat die vorige Saterdag begin het geskrywe.

Het julle gesien hoe effektief het Mapimpi die Cele- sharrup teen Lord Kitchener gebruik. Mooi man. Het geweet daai hadedakreet sou iewers nuttig wees.

Dat Mamipi oor ‘n ou baardvatjie geelkaart gewys is, is net so belaglik soos die De Kerk/White aka Lord Kitchener insident. Lyk my Australiërs is sensitief oor hulle gesigwol. Siestog.

Van Nic White gepraat. As daai kapokhaantjie kleinmannetjie sindroompie net sal gaan oplees sal hy summier daai snor laat waai. Om jou innerlike en uiterlike Kitchener te kanaliseer is nie slim nie. Hy maak ons innerlike boereoorlog oorgrote wakker. G’n wonder Faf wil veeg en Mapimpi hadeda nie.

As die geelspan minder soos pesterige Jack Russels en meer soos Wallabies van formaat gespeel het, het Eben nooit sy moer gestrip nie. Maar hy het ten minste niemand in die gesig probeer krap of probeer hou uitdeel nie. Hy het net duidelik laat weet: Basta, die nonsens stop nou.

Ek stem met Blouwillem en DikDaan van Beeld saam. Daar moet op ‘n voorgee basis aan gesoute rugbyspelers die geleentheid gegee word om drie keer per seisoen die waarsku oorveeg te kan gee.

Die Kolbetjies so tikkie en die Ebens ‘n koekhou. Die spelers hoef niemand te laat weet waar of wanneer hy sy hou gaan gebruik nie. Dit behoort venyn en hanskakie kapokhane op hulle plek te hou en goeie harde rugby kan seëvier. Ek wonder net wat mens met twyfelagtige refs kan doen.

Nietemin. So boosaardig as wat Eben was, ‘n wen is ‘n wen. Ek ‘n MasterChef Australië gunsteling beoordelaar se hoendervlerkie resep opgediep om die Doer Onder geveg te vier. Mat Preston vertel dat sy Coca-Cola hoendervlerkies ‘n taai spul is wat mens nie omgee om in te wees nie.

Hy waarsku egter dat dit ‘n bose resep is wat net een maal per jaar met spesiale geleentheid geniet moet word. Saterdag was daai geleentheid. Ons huis noem dit vergeet vlerkies, maar na Saterdag se Rugby is dit Evil Eben vlerkies.

Mat Preston se Coca-Cola hoendervlerkies aka Vergeet Vlerkies aka Evil Eben Wings

  • 750ml Coca-Cola
  • 1 koppie bruin loopsuiker (treacle), goed vas gedruk.
  • 3 knoffeltoontjies, fyngemaak
  • 1 groot ui, fyngekap (Ek gebruik graag ‘n koppie uievlokkies- dis anders geurig)
  • 2 eetlepels sojasous
  • 1kg hoendervlerkies, in stukke by die litte gesny
  • Sap van een suurlemoen

So maak mens:

  • Stel die oond op waaier en teen 140ºC.
  • Kombineer die coke, suiker, knoffel, uie en sojasous in ‘n bak.
  • Pak die hoendervlerkstukkies enkellaag in ‘n oondbak.
  • Giet die kola-mengsel daaroor.
  • Bak vir 3-3.5 uur of tot die sous dik en vrek taai is.
  • Bedruip met surlemoensap
  • Onthou ‘n koue bier en klam jammerlappies is nie opsioneel wanneer jy aan die boosheid smul nie!