Ons is bevoorreg om smorens vroeg die genade gloor van sonop aanskou. Die genade van ‘n nuwe dag. Sedert 14 Augustus het ons in dieselfde dankie asem om beskerming vir almal in ons omte gebid.

Siedende veldbrande het daagliks om ons gewoed. Aangeblaas deur ‘n Rambo van Augustus winde. Bure skarrel, die brandweer word ingeroep. Vee, wild, weiding bly in die slag. Vir ‘n paar dae word mense en wonings gespaar.

Tot hierdie oggend. Met hierdie son opkoms. Ons moes ‘n voorbode aangevoel het. So teen 11uur stap ek waskamer toe. My hart klop benoud. Daar is rook in die rantjies agter die huis. Ek bel die man van die plaas.

“Dis by ons bure Tannie. Hou dop en laat my weet. Ek is hier waar die weghol voorbrand begin het,” antwoord hy my.

Die wind speel nie saam nie en die vlamme spring en bons met die mannetjieswind se aanhitsing. Gou is dit oral om ons. Ek staan en kyk hoe die trekkers met watertenks verby kom. Bure kom help. Spanwerk en saamstaan.

Teen die son se gaan slaaptyd lyk dit of die vuur geblus is. ‘n Buurhuis het afgebrand. ‘n Vrou-alleen huis die afgelope 18 jaar. Sy verloor alles terwyl sy bure help vuur slaan. Iemand beland in die hospitaal met brandwonde. ‘n Skrootwerf brand lelik.

Die nanag oproep om hekke te gaan oophou en die angs in ons plaaskind se stem noop my buitentoe. Die wind loei en agter die besproeiing sirkel onderkant die huis dans die vlamme in die stikdonkerte. Magteloos staan ek en kyk. My hart bons benoud en ek voel weer daai sesjarige vrees toe ons in Swaziland deur vuur omring is. Ag Here, laat die wind asseblief draai die mantra van ons almal wat hekke oophou, vuur slaan en net soos ek net magteloos kan kyk.

Die wind het gedraai en gehelp dat die vuur in homself inbrand. Wat ‘n verligting was dit nie.

Moeg en roet besmeer kon die manne en vroue in die oggend gloor van die Vrydag dankbaar sê dankie vir die genade van ‘n nuwe dag.

Ons omgewing is swart. Roet gras waai by oop bo-lugte in. Verskroei lê die veld oral om ons heen. By een plaashek is daar nie meer ‘n huis aan die einde van die laning nie.

Dis derduisende hektaar weiding daarmee heen. My kind se naweekboer vriend, Thabo, wonder hardop of hier iets sinister aan die gang is. Ons ken nie sulke aanhoudende brande nie. “Something is fishing here,” skrywe hy. Ja, Thabo voorwaar, onrus en vermoedens het kom vis.

Oproepe om hulp met voer en finansies gaan uit. Ons landskap swart.

Maar aans gaan die vlam rooi aalwyne in die swart aarde begin blom. Dis ‘n ander mooi.

Vir nou hou ons vensters dig sodat die roet flenters maar elders kan inwaai, en ons staan smorens op en sê dankie vir die nuwe dag en genade, en Here, stuur asseblief milde reën.